'Verkragter' se lyk gevind nadat hy homself hang
'Verkragter' se lyk gevind nadat hy homself hang

'Verkragter' se lyk gevind nadat hy homself hang

'n Organisasie, Voice of the Voiceless, is deur 'n predikant gestig om tydens die ­volgende hofverskyning van 'n vermeende reeksverkragter 'n protesoptog te hou.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Terwyl een vermeende kinderverkragter gister in die hof verskyn het, is die lyk van 'n voortvlugtige vermeende kinderverkragter Dinsdag gevind ná hy homself gehang het.

Die 30-jarige vermeende kinderverkragter het Sondag op die vlug geslaan nadat hy glo sy sesjarige niggie in die Okatjoto-nedersetting naby ­Omatjete verkrag het.

“Sy lyk is omstreeks 17:00 Dinsdag deur 'n bokwagter gevind. Die verdagte het homself na bewering naby sy huis gehang,” het die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, adj.komm. Erastus Iikuyu, aan Nampa gesê.

Die oorledene was die oom van 'n sesjarige meisie wat haar glo Sondag tussen 13:00 en 14:00 by 'n huis op Omatjete in die Okatjoto-nedersetting in die Erongostreek verkrag het.

“Die ma het haar dogter en 'n tweejarige seuntjie na bewering in die sorg van hul oom gelaat toe sy gaan kyk het hoe bouwerk aan haar nuwe huis vorder,” het 'n polisiewoordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, gesê.

“Haar bure het laat weet haar kind bloei, en toe sy by die huis kom, het haar dogtertjie vir haar vertel wat gebeur het.”

Die meisie is na die hospitaal gehaas en die verdagte was sedertdien voortvlugtig.

Die vermeende reeksverkragter, die 24-jarige mnr. Gewen Gawa-nab (die korrekte ouderdom en spelling van sy naam volgens sy identiteitsdokument), het gister weer in die Windhoekse landdroshof in Katutura verskyn nadat hy Maandag in verband met 'n ander verkragtingsklag verskyn het.

Hy het Vrydag ook op die vlug geslaan in die berge wes van Windhoek, nadat hy glo 'n negejarige meisie verkrag en haar geslagsdele met 'n mes gesny het, maar is Dinsdag­oggend knap ná middernag in ­Otjomuise in 'n sinkhuis vasgetrek.

Dit is die vierde verkragtingsklag wat teen hom aanhangig gemaak is met nog 'n string klagte teen hom, waarvoor hy telkemale op borgtog vrygelaat is. Emosies het gister in die volgepakte hofsaal hoog geloop met familielede wat hartverskeurend gehuil het.

Die beskuldigde was egter emosieloos, berig Ellanie Smit van Namibian Sun. ­Gawa-nab het op klagte van die verkragting van 'n minderjarige, asook op 'n aanrandingsklag wat geslagsgeweld behels, verskyn. Landdros Johannes ­Shuuveni het die saak tot 5 Desember vir verdere ondersoek uitgestel, asook vir die beskuldigde om regshulp te bekom.

Die staatsaanklaer me. Idda Itembu het borgtog heftig teengestaan “weens die baie ernstige klag van die verkragting van 'n minderjarige nadat hy haar gewelddadig aangerand het en hy het drie soortgelyke klagte teen hom”.

“Dit sal nie in die beste belang van die publiek wees nie, want hierdie saak het skokgolwe deur die nasie gestuur. Die beskuldigde toon geen berou nie en hy kan dit weer doen.”

Itembu het ook gesê die polisie­ondersoek is nog in 'n vroeë stadium.

Die beskuldigde bly in aanhouding, maar die landdros het gesê hy het die reg om intussen formeel om borgtog aansoek te doen.

Terwyl die ma van die slagoffer ­onbedaarlik buite die hof gehuil het, het haar pa aan Namibian Sun gesê hy kan nie in woorde beskryf hoe hy voel nie, “maar so 'n mens hoort nie in die gemeenskap nie en moet nooit borgtog kry nie”.

Die pa het gesê sy dogter is by die huis en dit gaan beter met haar.



PROTESOPTOG

Ds. Zack Pienaar van die NG Kerk se Eros-gemeente, wat by barmhartigheid- en gemeenskapsontwikkelingsprojekte betrokke is, was ook gister by die hof om die familie te ondersteun.

Hy sal ook vir hulle geestelike ­berading bied.

“Ek wil 'n ernstige veldtog van stapel stuur van kerklike kant af. Die kerk is te stil. Hier gebeur 'n klomp goed in ons gemeenskappe en die kerk sing net 'halleluja' elke Sondag. Intussen ly mense hier buite,” het hy gister aan Republikein gesê.

“Ek wil 'n organisasie, Voice of the Voiceless, stig sodat alle ­bekommerde Namibiërs ook 'n stem het. Daar is sekere goed wat in die gemeen­skap gebeur, wat nie net so verby moet gaan nie.”

Hy doen 'n beroep op Namibiërs om op 5 Desember swart aan te trek en aan 'n protesoptog tydens die be­skuldigde se volgende hofverskyning deel te neem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!