Verlamde hond begin weer stert swaai

Shimbungu gaan eerskomende Maandag ’n spesialis in Suid-Afrika besoek sodat meer oor spinal walking uitgevind kan word.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg- Die storie van die rugafhond, Shimbungu, het diereliefhebbers oraloor Namibië en Suid-Afrika se harte diep geraak.

Me. Lexi Austen (31) het haar hart en huis vir Shimbungu oopgemaak, wat al die pad na Suid-Afrika gevlieg is om by sy nuwe tuiste verwelkom te word.

Dié hartroerende storie het wéér opslae in sosiale media gemaak toe Shimbungu sy stert tydens ’n besoek aan die veearts in Suid-Afrika dié week vir die eerste keer weer gewaai het.

“Dit was ongelooflik emosioneel toe ons sien hy swaai sy stertjie. Die uitdrukking van pure dankbaarheid en waardering op sy gesiggie was ongelooflik,” sê Austen.

Dr. Valeria Andreeva, van Pride Veterinary Clinic in Windhoek, meen Shimbungu kan spinal walking aanleer.

Dié wonderhond gaan eerskomende Maandag ’n spesialis in Suid-Afrika besoek sodat meer oor dié verskynsel geleer kan word.

Spinal walking word as ’n soort wonderwerk beskou, wat behels dat diere met dié soort rugbeserings weer kan begin loop, al “kommunikeer” hul liggaam nie met hul brein nie.

“Dit is moontlik vir honde wat hierdie tipe rugbeserings opdoen om spinal walking te ontwikkel. Shimbungu het ’n goeie kans om weer te begin loop. Hy sal moontlik nie 100% kan funksioneer nie, maar sal beslis kan beweeg,” sê Andreeva.

Volgens hom gaan dit baie harde werk en terapie verg.

“Dit neem dikwels ses maande, of selfs langer, maar met die regte fisioterapie is beweging beslis moontlik.”

Andreeva het bevestig Shimbungu het ook tydens sy besoek aan Pride Veterinary Clinic sy linkerbeen beweeg.

Austen het aan Republikein gesê hulle is tans besig met hidroterapie om spiertonus in Shimbungu se bene te versterk.

“Dit gaan baie werk en tyd kos, maar ons gaan nie moed opgee nie.”

Die storie van Shimbungu het verskeie mense diep geraak, en dr. Ruan du Preez, ’n ortopeed van Ortho Pets in Suid-Afrika, het op 27 Januarie ’n geborgde harnas met wiele aan dié geliefde hond gegee, wat dit vir Shimbungu moontlik maak om rond te beweeg.

“Shimbungu sukkel nog om by die harnas aan te pas, maar hy is op sy gelukkigste wanneer hy net vrylik kan rondbeweeg. Hoewel hy nie kan hardloop nie, kan hy nogal vinnig beweeg,” sê Austen.

Sy en haar man, Ronnie (32), bedryf die All Hearts Foundation SA in Hartebeespoort, wat beseerde en verwaarloosde diere inneem en versorg. Hulle het onder meer 12 honde, 19 katte, ’n skaap, hoenders en 17 wolwe waarna hulle omsien.

“Dit is ongelooflik hoe die ander diere besef Shimbungu is beseer. Hulle is baie versigtig rondom hom, en die honde kyk veral mooi na hom,” sê Austen.

Shimbungu beweeg glo graag saam met die ander honde, en spring selfs in ’n dammetjie in.

“Hy is op sy gelukkigste in die water, want dan is hy nie deur sy pootjies beperk nie. Die ander honde klim ook nie uit tot ek hom nie kom uithaal nie, want dit is asof hulle weet hy kan nie self uitklim nie,” sê Austen.

“Shimbungu is ’n gelukkige hond, en ons het so ongelooflik lief geword vir hom. Niks kry hom onder nie; hy is net ’n juweel van ’n hond.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer