Verlange na my kinderjare
Thusie Gamibes
Wanneer ek stilsit en terugdink aan 25 tot 30 jaar gelede en die lekker wegbreektye wat ek gehad het, kan ek nie help om te sug nie.
Die beste tyd in elke mens se lewe is seker maar jou kinderjare, wanneer jy geen bekommernis het nie en geen gejaagdheid jou baas raak nie.
Niks is lekkerder as om rondom ’n vuurtjie te sit met die oop Melkweg bokant jou nie. Met ’n koppie swart koffie in jou hand terwyl jy na die brul van leeus en hiënas luister wat in die verte weerklink nie.
Dan is dit rustig, met geen motors wat heen en weer jaag met die bestuurders wat op die remme of toeters lê nie. Daar is ook geen innerlike bekommernis van rowers wat dalk enige oomblik jou rustigheid en veiligheid gaan versteur nie. Dit is nou my dorpie Tsumkwe waarvan ek praat. Daar waar ons net een winkel, ’n polisiekantoor en hoër- en laerskool het. Verder is dit nog net die laerhof en ’n halwe teerpad.
Ek het jare gelede my ouerhuis en so ook die platteland vir die stadslewe verruil. So het ek in Windhoek beland. My hoofdoelwit was om ’n werk te kom soek, asook ’n dak oor my kop.
Aan die begin was ek skrikkerig. Van die stadsmense het my vertel van al die rondlopers en kwaaddoeners wat hier in Windhoek is. Ek was bang om êrens heen te gaan en het altyd oor my skouer geloer en was baie versigtig.
Iemand het selfs vir my die raad gegee dat ek so “tsotsierig” moet stap met ’n glystappie, sodat ek nie as ’n plattelandse meisie uitgeken word aan my netjiese regop liggaamshouding nie. Dan sou niemand moeilikheid soek nie. Daardie glystappie was vir my die moeilikste ding. Ek is nie so grootgemaak nie.
Aan die begin het ek kinders opgepas en inslaaphuiswerk gedoen, totdat my destydse werkgewers my kennis gegee het dat hulle Suid-Afrika toe gaan verhuis. Eers was ek paniekerig en het gewonder waar begin ek nou weer werk soek. Deur God se genade, het iemand my gesê ek kan ’n werksaansoek by Republikein inhandig.
Ons was 20 vroue wat werk gesoek het. My persoonlikheid en my geloof, glo ek, het daardie tyd vir my deure oopgemaak en doen dit vandag nog steeds. Dit is waarom ek ingeroep is vir ’n onderhoud.
Ek en my destydse werkgewer het die dag van die onderhoud in die motor gebid voor ek ingegaan het. Die onderhoud was toe suksesvol en ek het die daaropvolgende Maandag begin werk.
Dit is nou presies 20 jaar gelede. Ek was gewillig om te leer en nou kyk ek met trots na alles wat ek sedertdien bereik het. Mens is nie te dom om te leer nie.
Die stadslewe het my egter destyds darem goed behandel en oor die jare het ek later besluit ek gaan hier oud word.
Mettertyd kon ek darem vir my ’n huisie aanskaf met die hulp van ’n lening van die destydse DMH. Hierna het daar ’n rustigheid oor my siel begin kom, want ek het my eie nessie geskrop. So het dit gekom dat ek vandag my koerant met trots na my tuiste Tsumkwe toe kan dra.
Tsumkwe sal altyd my rustige hartsplek wees waar al die bekommernisse van die daaglikse lewe soos niet voor die son verdwyn en ek onder die sterre net stil kan word.
Boesmanland, vat my hand. Lei my oor die rand se kant.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie