Verlof tot appèl teen Hoff se vonnis toegestaan
Die staat het toestemming gekry om 'n appèl in te dien teen die vonnis en skuldigbevinding van poging tot moord van 'n Windhoekse sakevrou.
Jacqueline Louw
Regter Alfred Siboleka het gister (31 Julie) in die hoërhof in Windhoek gesê hy stem saam dat Susanne Hoff se skuldigbevinding verkeerd was, voordat hy verlof om te appelleer aan die staat toegestaan het.
Regter Siboleka het in sy uitspraak gesê streekhoflanddros Alexis Diergaardt het tot die gevolgtrekking gekom dat aangesien niemand dood is nie, dit toepaslik was om Hoff van poging tot moord skuldig te bevind.
Hy het verder gesê die skuldigbevinding is verkeerd omdat Hoff van sameswering om moord te pleeg, 'n statutêre oortreding, aangekla is, terwyl sy skuldig bevind is aan poging tot moord, wat 'n gemeneregtelike oortreding is.
Hoff is in Februarie vanjaar in die streekhof in Windhoek skuldig bevind aan poging tot moord op haar man, mnr. Egbert Hoff. Sy is in Maart 'n boete van N$30 000 of ses jaar tronkstraf opgelê.
Hoff is 'n verdere twee jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie weer skuldig bevind word aan 'n soortgelyke misdaad nie en dat sy 300 uur se gemeenskapsdiens by die Hope Village in Havana, Katutura voltooi.
Dit was die staat se argument dat Hoff met drie mans saamgesweer het om haar man in November 2011 te vermoor.
In daardie stadium was die Hoffs se huwelik op die rotse volgens getuienis wat in die streekhof aangehoor is.
Staatsgetuies Wilbard Malima en Jekonia Shipepe het getuig dat Hoff hulle gevra het om haar man te vermoor en dat sy hulle N$25 000 aangebied het.
Hulle het beide ontken dat Hoff 'n perdekooptransaksie tydens hul onderhandelinge met haar aan hulle genoem het.
Hoff het tydens die verhoor getuig dat sy die mans gehuur het om voor te gee dat hulle perdekopers is sodat sy 'n lokval vir haar man kon stel omdat sy vermoed het dat hy haar stoetperde sonder haar wete verkoop het.
In hul aansoek om verlof tot appèl het die staat betoog die landdros het regtelik en feitelik gefouteer toe sy Hoff skuldig aan poging tot moord bevind het.
Volgens die staat is bo enige redelike twyfel bewys dat Hoff met Malima, Fanuel Haiduwa en Shipepe saamgesweer het om haar man te vermoor.
Die staat het verder aangevoer die landdros het gefouteer toe sy bevind het dat aangesien Malima en/of Haiduwa en/of Shipepe nie met Hoff se plan om haar man te vermoor saamgestem het nie, daar nie 'n samesweringspoging bestaan het nie.
Die staat het verder aangevoer die skuldigbevinding was nie 'n bevoegde beslissing nie omdat Hoff nie tereg gestaan het op moord nie.
Hoff het self vroeër vanjaar 'n aansoek om verlof tot appèl teen haar vonnis en skuldigbevinding by die hoërhof in Windhoek ingedien.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie