Vermeende brandstigter 'te emosioneel' in hof
Vermeende brandstigter 'te emosioneel' in hof

Vermeende brandstigter 'te emosioneel' in hof

Volgens die polisie was die hoteleienaar en die beskuldigde voorheen in 'n arbeidsdispuut betrokke.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die vrou wat daarvan beskuldig­ word dat sy die geskiedkundige Seeheim Hotel buite Keetmans­hoop op 10 Junie laat afbrand het, me. Janine Almaviva Swartz (35), het gister vlugtig in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn.

Swartz het op klagte van brandstigting, aanranding met die opset om ernstig te beseer, diefstal en bedrog verskyn, maar volgens die Namibiese polisie se streekshoof in die ||Kharasstreek, komm. Rudolf Isaak, was die beskuldigde “te emosioneel” en het sy “verskriklik in die hof gehuil".

Landdros Murray Shikongo het die saak tot vandag uitgestel.

Ná die beskuldigde glo 'n brand by die Seeheim Hotel gestig het, waar sy voorheen gewerk het, en die eienaar, mnr. Zirkie Kloppers (65), met 'n mes in die arm gesteek het, is sy in hegtenis geneem.

Volgens die Namibiese polisie se koör­dineerder van misdaadondersoeke in die ||Kharasstreek, adj.komm. Chrispin Mubebo, is sy met 'n gebreekte kakebeen in 'n hospitaal op Keetmanshoop opgeneem en later na 'n hospitaal in Windhoek oorgeplaas waar sy onder polisiebewaking was.

'n Bykomende klag van bedrog en diefstal is toe reeds deur OK Furniture op Keetmanshoop teen die be­skuldigde aanhangig gemaak.

Die bestuurder van OK ­Furniture, me. Lourencia Mbahuma, het aan Republikein gesê sy het die klag op Vrydag 8 Junie, vóór die brand, reeds teen Swartz aanhangig gemaak. Swartz het die dag daarna glo bedank.

“Sy het vir net drie maande by OK Furniture gewerk nadat sy op 1 Maart daar begin het en het N$10 000 se kontant gesteel wat sy in die kluis moes bêre. Sy is 'n baie slim vrou,” beweer Mbahuma.

Op 9 Junie het Swartz na bewering­ 'n brand by een van die chalets van Seeheim Hotel gestig, maar die werkers kon daarin slaag om dit te blus en was onder die indruk dit is deur 'n elektriese kortsluiting veroorsaak.

Die hotel het op 10 Junie tussen 18:00 en 19:00 afgebrand en die skade word volgens Mubebo op meer as N$10 miljoen beraam.

“Die hotelpersoneel en Kloppers het Swartz glo van die brandtoneel sien weghardloop en hulle het haar agternagesit en in hegtenis geneem. Dit is ten tyde van haar inhegtenisneming wat sy glo vir Kloppers met 'n mes in die linkerarm gesteek het,” het Mubebo gesê.

Volgens Mubebo was Kloppers en die beskuldigde voorheen in 'n arbeidsdispuut betrokke. Die eienaar het Swartz vier maande vantevore van diefstal en bedrog aangekla, maar sy is op borgtog vrygelaat.

Die geskiedkundige Seeheim Hotel is in 1896 met klip uit die omgewing gebou om die Duitse Schutztruppe te huisves. Ná Seeheim in die 1970's in 'n spookdorp verander het en die hotel vir 30 jaar leeggestaan het, het Kloppers die Seeheim Hotel weer volgens die oorpronklike argitektuur opgebou.

Dit is tans die piekseisoen vir toerisme, maar 'n besoek aan die hotel is nou vir toeriste verlore.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer