Vermeende dwelmsmous kry borgtog

Een van die twee sakevennote wat daarvan beskuldig word dat hulle sowat 412 kilogram kokaïen vanaf Brasilië na Wal­vis­baai vervoer het, is gister onverwags op borgtog vrygelaat.
Kristien Kruger
­Kristien Kruger – Mnr. Dinath Azhar is gister vanuit aanhouding na die Windhoekse hoërhof geneem vir die hervatting van die dwelmsaak teen hom, maar kon aan die einde van die dag saam met sy ­geliefdes huis toe gaan.

Azhar en mnr. Grant Noble, wat op aanklagte van dwelmhandel, die besit van dwelms en geldwassery teregstaan, is op 15 Junie 2018 in ­hegtenis geneem ná die inspeksie van hul onderneming se vraghouer op Walvisbaai se hawe. Kokaïen met 'n geraamde straatwaarde van N$206 miljoen is in die vraghouer gevind.

Die verhoor, wat vandeesweek hervat het, het gisteroggend voortgeduur met die ondervraging van twee staatsgetuies.

Die staatsaanklaer het ter aanvang van die middagsessie aan die regter verduidelik hy gaan nie meer sy volgende twee getuies roep nie en het die hof vir uitstel tot 18 Oktober gevra.

Regter Orben Sibeya het sy versoek toegestaan, maar het uitgewys die staat het tot dusver nie voldoende bewyse teen Azhar gelewer nie en dit het die kwessie van borgtog onder die loep geplaas.



BORGTOG VAN N$10 000

Azhar se prokureur, mnr. Sisa Namandje, het gesê sy kliënt kan borgtog van N$10 000 betaal.

Die staat het N$20 000 voorgestel. Sibeya het 'n hofbevel van N$10 000 se borgtog uitgereik.

Azhar se borgtogvoorwaardes sluit in dat hy elke Vrydag aan die polisie­kantoor op Dolfynstrand moet ­rapporteer, sy paspoort bly in die polisie se besit, hy mag nie aansoek om 'n nuwe paspoort doen nie en hy mag ook nie die land verlaat nie.

Azhar is 'n 65-jarige Suid-Afrikaanse burger wat op Langstrand woon.

Noble bly in aanhouding tot die ­volgende hofverskyning.

Die staat beplan om vanaf 18 tot 22 Oktober nog hawepersoneellede en die polisiebeamptes wat teenwoordig was toe Noble en Azhar se ­vraghouer ondersoek is, as getuies te roep.

[email protected]

FOTO’s
Mnr. Dinah Azhar is gister tydens hul verhoor in die Windhoekse hoërhof op borgtog ter waarde van N$10 000, vrygelaat. Foto Argief
Een van die vermeende dwelmsmouse, mnr. Dinah Azhar, is gister borgtog toegestaan. Medebeskuldigde, mnr. Grant Noble, bly in aanhouding. Foto Argief

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer