Vermeende Gobabis-aanrander kry borg
Francoise Steynberg - Die vermeende Gobabis-aanrander, mnr. Sarel de Waal (43), is gister in die landdroshof op dié Oostedorp op borgtog van N$3 000 vrygelaat.
Die voormalige werknemer van Omaheke Megasave is Maandag op ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer in hegtenis geneem en het die nag agter tralies deurgebring.
Dít volg nadat die beskuldigde verlede week op kringtelevisiekamera betrap is dat hy verlede Maandag ’n medewerknemer aangerand het.
De Waal word daarvan beskuldig dat hy sy kollega, mnr. Samuel Afrikaner, verskeie kere aangerand het ná hy Afrikaner daarvan beskuldig het dat hy by ’n ander kollega gesteel het.
Ná die kringtelevisiebeeldmateriaal ’n oproer in die sosiale media veroorsaak het, is De Waal Vrydag onmiddellik by Megasave ontslaan.
Gister is ’n bykomende klag van die oortreding van die wet op die voorkoming van rassediskriminasie by die beskuldigde se klagstaat gevoeg.
’n Mediese verslag van die klaer is ook gister by die hof ingehandig.
Volgens De Waal se regsverteenwoordiger, mnr. Bennie Venter, moet die saak weens die bykomende klag na die aanklaer-generaal vir beslissing verwys word.
Landdros Eden Iyambo het borgtog van N$3 000 toegestaan en die saak tot 14 April vir die aanklaer-generaal se beslissing uitgestel.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie.
Volgens die groepeienaar van Megasave, mnr. Gerrie Mostert, het De Waal sowat ses maande lank by Omaheke Megasave gewerk en voorheen ook slegs ’n paar maande by ’n tak in die Noorde.
Ná die voorval het De Waal Saterdag op sy persoonlike Facebook-blad ’n verklaring geplaas waarin hy verskoning vir die voorval aan Megasave en sy personeel, spesifiek vir Afrikaner, die mense van Gobabis, die Omahekestreek en Namibië vra.
“Hierdie voorval is nie deur rassisme gemotiveer nie, maar het bloot ongelukkig in die hitte van die oomblik buite beheer geraak,” het hy geskryf.
“Ja, dit kon op ’n meer beskaafde manier gehanteer word, maar ons is almal mense en maak soms foute.”
De Waal het bevestig die voorval is nie ’n weerspieëling van Megasave nie, “maar die optrede van een inidividu”.
Die menseregteprokureur mnr. Norman Tjombe het aangedui hy sal Afrikaner gratis verteenwoordig, maar hy was nie gister in die hof op Gobabis teenwoordig nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie