Vermeende horingsmokkelaars uit op borgtog

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Borgtog van N$50 000 elk is gister sonder enige teenstand aan twee vermeende smokkelaars van renosterhoring in ’n stampvol hof toegestaan.
Twee Namibiese mans wat verlede week met vier renosterhorings in hul besit betrap is, mnre. Tangi Sheefeni Amon Namwandi en Jairus Shaalukeni, het gister in die landdroshof van Katutura verskyn en staatsaanklaer mnr. Fillemon Nyau het geensins borgtog teengestaan nie.
Net daarna het die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, op die Eros-lughawe tydens die ontvangs van ’n helikopter ter waarde van N$46 miljoen wat veral vir teenstropery-operasies in die land se nasionale parke en kommunale bewaringsgebiede gebruik gaan woord, sy ontevredenheid oor dié twee beskuldigdes se borgtog uitgespreek.
“Sindikate moet agter slot en grendel gehou word. Staatsaanklaers moet vooraf voorberei word om borgtog teen sulke verdagtes teen te staan,” het Shifeta gesê.
Hy meen sommige van die vermeende stropers van renosters en olifante en smokkelaars van renosterhoring en ivoor is geharde kriminele wat lankal gevolg word.
“Verlede jaar het ons ’n massa-arrestasie gehad en sommige van die verdagtes is op borgtog vrygelaat. Hulle het gegaan en weer dieselfde misdade gepleeg. As hulle op borgtog vry is, is dit vir ons ’n hoofpyn.”
Shifeta het gesê die instruksie aan staatsaanklaers moet wees om borgtog teen te staan “met beter kommunikasie tussen die ondersoekbeampte en die staatsaanklaer”.
Hy meen daar moet ’n nouer band met staatsaanklaers gevorm word, “want ons is hul kliënte”.
Die saak spruit uit die twee beskuldigdes wat volgens die polisie verlede Woensdag tydens ’n polisieoperasie met vier horings in hul besit in Windhoek betrap is.
Namwandi is volgens ingeligte bronne die neef van die berugte miljoener en moordenaar, mnr. Lazarus Shaduka, wat al vir meer as drie en ’n half jaar voortvlugtend is. Namwandi kyk na bewering na sy oom se besighede in Windhoek. Borgtogvoorwaardes vir die twee is dat Namwandi Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 12:00 by die ondersoekbeampte by die Katutura-polisiekantoor moet aanmeld en Shaalukeni dieselfde, maar by die Ongwediva-polisiekantoor. Namwandi mag nie die distrik van Windhoek sonder die kennis van die ondersoekbeampte verlaat nie en Shaalukeni mag nie die streke van Oshana, Ohangwena, Omusati en Kunene sonder die kennis van die ondersoekbeampte verlaat nie, behalwe as hy sy hofverpligtinge in Windhoek moet nakom.
Voorts moet die beskuldigdes al hul reisdokumente ingee en nie voor die saak afgehandel is, om nuwe dokumente aansoek doen nie. Hulle mag ook nie direk of indirek met staatsgetuies inmeng nie.
Die verhoor is tot 26 September vir verdere ondersoek uitgestel. Mnr. Kadhila Amoomo verteenwoordig vir Namwandi en mnr. Mbushandje Nhinda tree namens Shaalukeni op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!