Vermeende ivoorsmokkelaars kry borg

Die twee olifanttande het wye draaie van Botswana tot Walvisbaai en Lüderitz en terug na Walvisbaai gemaak.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai - Die drie vermeende ivoorsmokkelaars, mnre. Dirk Vermeulen, Edgar Clark en Michael Lusse, is Vrydag in die Walvisbaaise landdroshof op borgtog van N$30 000 elk vrygelaat.

Tydens hul borgtogaansoek Donderdag en Vrydag het al drie beskuldigdes getuig hulle was nooit bewus van die olifanttande se oorsprong nie.

Twee olifanttande is vroeër vandeesmaand glo in die besit van Clark en Vermeulen tydens ’n geheime polisieoperasie gevind. Lusse is eers later in hegtenis geneem.

Die ivoor weeg 64 kg en die waarde word op N$103 072 beraam.

Vermeulen het getuig hy het sy werk sewe maande gelede verloor en was sonder inkomste.

“Michael het my vertel hy het olifanttande in sy besit waarvan hy ontslae wil raak. Ek het hom genader en aangebied om van die tande ontslae te raak,” het Vermeulen getuig.

“Ek het gedink ek kan geld maak deur hulle te verkoop. Ek het Edgar genader om kopers vir die tande te help soek.”

Lusse het getuig hy het die tande by ’n vriend, ’n voormalige burgemeester van Walvisbaai, mnr. Bruce Edwards, gekry.

“Hy het aan my gesê die permit vir die tande het verval en my gevra om dit ’n ruk lank vir hom te hou terwyl hy ’n nuwe permit reël. In dié tyd het hy Kaapstad toe verhuis en kort ná hy die tande by my gelos het, het hy gesterf. Ek ken nie Edwards se familie nie en kon hulle nie kontak om die tande aan hulle terug te gee nie,” het Lusse getuig.

“Ek het nooit met die olifanttande handel gedryf nie. Ek het dit sedert 2012 in my besit en as ek wou, kon ek hulle verkoop het. In plaas daarvan het ek die tande aan Vermeulen gegee om daarmee te doen wat hy wil.”

Die ondersoekbeampte, sers. Stefanus Frans, het aan die hof gesê die tande is na sy oorspronklike eienaar in Kaapstad nagespoor, wat in die vroeë 2000’s oorlede is.

TROFEE VAN BOTSWANA

“Die tande het in ’n stadium ’n permit gehad, maar dit het verval ná die oorspronklike eienaar se afsterwe. Hy het die tande 20 jaar gelede as ’n trofee in Botswana bekom,” het Frans getuig.

“Die oorspronklike eienaar het by dieselfde visfabriek as Edwards gewerk. Die eienaar het Kaapstad toe getrek en Edwards versoek om die tande na een van die visfabriek se bote te bring. Die tande is op die boot gelaai en toe dit by Lüderitz vasmeer, het die polisie die boot se kaptein en bemanning in hegtenis geneem ná hulle die tande gevind het,” het Frans gesê.

“Toe het die tande steeds ’n geldige permit gehad, die verdagtes was ’n ruk in die polisieselle op Lüderitz en die saak is later teruggetrek. Die tande is na ’n prokureur wat die bemanning verteenwoordig het, oorgeteken. Die prokureur het die tande aan Edwards oorhandig, wat dit op Walvisbaai gehou het tot hy in 2012 na Kaapstad verhuis het.”

Frans het aangedui hy het nog twee maande nodig om die presiese beweging van die tande tussen Walvsibaai en Lüderitz vas te stel.

Hy het ook aangedui ’n misdaad soos hierdie hou ernstige gevolge vir die land se ekonomie in.

Landdros John Liwayo het borgtog van N$30 000 elk met streng voorwaardes toegestaan.

Al drie beskuldigdes moet hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig en mag nie om nuwe reisdokumente aansoek doen nie. Hulle moet ook drie keer ’n week by die Walvisbaaise polisiekantoor aanmeld.

Die saak is tot 28 November uitgestel.

Die staatsaanklaer Tuihaleni Hilikuete verskyn vir die staat, en die beskuldigdes word deur mnr. Jan Wessels verteenwoordig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!