Vermeende skietmal stroper bly agter tralies
Ses verdagtes is verlede week in verband met wildmisdaad in hegtenis geneem.
Francoise Steynberg
Die vermeende renosterstroper wat Sondag glo op polisie- en weermaglede op 'n plaas buite Otavi losgebrand het, het Dinsdag in dié dorp se landdroshof verskyn.
Mnr. Joseph Ngoma (42) van die Kavango-Oosstreek het op klagte van die onwettige jag van beskermde wild, asook die besit van 'n renosterhoring en 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie verskyn.
'n Klag van poging tot moord is bygevoeg omdat hy glo op 15 polisie- en weermaglede geskiet het toe hulle hom in hegtenis wou neem.
Landdros McLean Handjaba het beveel die beskuldigde moet in aanhouding bly en het die saak vir verdere ondersoek tot 19 November uitgestel.
Me. Sara Kandume het vir die staat verskyn. Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die Otjozondjupastreek, adj.komm. Naukalemo Andreas, het plaaswerkers van die plaas Streben, sowat 40 km suidwes van Otavi, die verdagte Sondag omstreeks 12:00 gewaar, glo met 'n jaggeweer en twee slagmesse gewapen.
Andreas het aan Nampa vertel die plaaswerkers het Otavi se polisie ingelig, wat weer polisieversterkings van Kombat af ingeroep het.
“Die gekombineerde polisiespan het die voetspore van die verdagte op die plaas gevolg en toe hy die polisie eerste gewaar, het hy op hulle losgebrand,” het Andreas gesê.
Sy sê die oor-en-weer-skietery het tot omstreeks 14:00 geduur waarná Ngoma sy .375-jaggeweer neergegooi het.
“Hy het begin hardloop, maar polisielede het die hulp van die weermaghelikopter ingeroep.”
Andreas sê die verdagte is omstreeks 23:00 op die buurplaas Marula in hegtenis geneem met dele van 'n renosterhoring, ammunisie en 'n waterbottel in sy besit.
Sy het bygevoeg niemand is tydens die oor-en-weer-skietery beseer nie.
OLIFANTKARKASSE
Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het bevestig twee olifantkarkasse is in die Kunenestreek ontdek.
Muyunda sê toeriste het 'n olifantkarkas waarvan die tande en vel verwyder is Maandag in die Khowarib-omgewing ontdek.
“Die vermoede bestaan dat die vel en tande verwyder is deur iemand wat eerste op die karkas afgekom het. Ons span is op die toneel en ondersoek nog die saak,” het hy gesê.
Die olifantkarkas wat Vrydag in die omgewing van Twyfelfontein deur toeriste gevind is, “het vermoedelik weens interne bloeding ná 'n bakleiery met ander olifante omgekom,” het Muyunda gesê.
Die Namibiese polisie het verlede week op drie olifanttande, twee velle en een stuk ivoor beslag gelê.
Vier verdagtes is in verband met olifantstropery en ivoorsmokkelary in hegtenis geneem, lui statistieke van wildmisdaad van 2 tot 8 September wat deur die polisie se eenheid vir bekermde hulpbronne (PRU) en die ministerie van die omgewing en toerisme se intelligensie- en ondersoekeenheid verskaf is.
Beslag is ook op een lewende ietermagô en 'n ietermagôvel gelê.
Altesaam vier wildmisdaadverwante sake is aanhangig gemaak en ses verdagtes is in hegtenis geneem.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie