'Renosterstropers' vry op borgtog

Verskeie beskuldigdes wat in afsonderlike sake van renosterystropery aangekla is, is op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Ondanks optogte en petisies van die Outjo-gemeenskap is ses vermeende renosterstropers gisteroggend in die landdroshof op borgtog van N$10 000 elk vrygelaat.

Mnre. Simon Petrus Mbanzi (37), Immanuel Haingura (42), Christopher Kanonga (37), Joseph Kativa Ndumba (44) en Abel Dumeni (28) word daarvan beskuldig dat hulle op 27 Mei 'n renosterbul by 'n luukse lodge suidwes van die Etosha Nasionale Park gestroop het. Hulle is op 29 Mei op Rundu in hegtenis geneem.

'n Sesde beskuldigde, mnr. Rukeeveni Nguronda, is eers Vrydag in hegtenis geneem en het Maandag sy eerste verskyning in die Outjo-landdroshof gemaak.

Ondanks staatsaanklaer Johannes Kalipi se heftige teenkanting dat die beskuldigdes op borgtog vrygelaat word, het landdros Peingondjabi Shipo borgtog toegestaan en die saak tot 7 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.

Borgtogvoorwaardes is dat die beskuldigdes Maandae en Vrydae tussen 08:00 en 17:00 by die naaste polisiekantoor moet aanmeld.

Die beskuldigdes word deur twee private regslui, mnr. Trevor Brockerhoff en me. Tjitja Harases, verteenwoordig.

LODGE-EIENAAR REAGEER

Volgens die eienaar van die private lodge aan die suidwestekant van die Etosha Nasionale Park waar die renoster gestroop is, het hy vrede met die borgtoguitspraak. Sy naam en dié van sy lodge word weens veiligheidsredes weerhou.

Hy sê volgens die landdros het die ondersoekbeampte "sy kaarte te na aan sy bors gehou en nie genoeg harde bewyse gelewer om te bewys dat die beskuldigdes betrokke was nie".

Die eienaar meen die rede daarvoor is dat die ondersoekbeampte moontlik nie die ondersoek van die saak wou belemmer nie.

"Ek glo dat die landdros se uitspraak korrek was, maar dit was irriterend om die glimlagte op die gesigte van die beskuldigdes te sien toe hul borgtog toegestaan word," het die eienaar gesê.

"Ons as gemeenskap is terdeë bewus daarvan dat die beskuldigdes belangrik vir die sindikaat is en lag-lag N$60 000 kontant vir hul borgtog kan uitruk."

Die eienaar sê hy het steeds vertroue in die stelsel en "ek glo dat die netwerke wat die sinkdikate teenwerk, nie liggewigte is nie".

Hy bedank die gemeenskap van Outjo wat in hul massas opgeruk en teen renosterstropery betoog het. Drie petisies is Vrydag by die landdroshof ingehandig.

Volgens hom is vanaf Maart 2018 tot op hede al 13 renosters by sy lodge gestroop. Volgens die ministerie van die omgewing en toerisme is vanjaar 19 renosters in die eerste ses maande van 2019 gestroop.



OTJI-HOF GEE OOK BORGTOG

Intussen het nóg 'n vermeende renosterstroper Dinsdag borgtog van N$10 000 in die landdroshof op Otjiwarongo gekry, berig Nampa.

Mnr. Eeno Anguwo (30) is op 15 April op Omuthiya in die Oshikotostreek in verband met die stroping van 'n swartrenoster op 'n private wildreservaat naby Otjiwarongo in hegtenis geneem. Hy word met 'n renosterstropingsindikaat verbind.

Staatsaanklaer Jatiel Mudamburi het borgtog heftig teengestaan weens die erns van die saak, die vrees dat die beskuldigde op die vlug kan slaan en met staatsgetuies kan inmeng of hulle intimideer.

Ondersoekbeampte Daniel Wilbard was die enigste staatsgetuie wat teen die toestaan van borgtog aan Anguwo getuig het. Wilbard het getuig hoe Anguwo en vier ander vermeende stropers glo probeer het om die renosterhorings te verkoop aan 'n geheime polisiebeampte wat hulle op Epalela in hegtenis geneem het.

Anguwo se regsverteenwoordiger, mnr. Pieter Greyling, het gesê sy kliënt is 'n rekenmeester vir die regering op Omuthiya en hy sorg vir sy familie.

Landdros Karel Muyeghu het borgtog toegestaan op die voorwaardes dat Anguwo sy paspoort by die ondersoekbeampte inhandig, en Woensdae en Vrydae by die Omuthiya-polisiekantoor aanmeld. Hy mag ook nie buite die dorp reis sonder om die polisie in te lig nie.

Sy medebeskuldigdes, mnre. Vemukuta Tjipurua (49), Kaukamburua Tjingee (32), Justice Embula (49), Sakeus Ekango en Issaskar Paulus Kadhila (40), bly in aanhouding op Otjiwarongo.

Hul saak is tot 4 Julie uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!