Vermoorde Heckmair se ma getuig

André Heckmair het glo ’n afspraak met twee Amerikaners gehad die dag wat hy vermoor is.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Wyle André Heckmair se ma, me. Birgit Heckmair, het verlede week en gister in die Windhoekse hoërhof getuig dat haar seun ’n middagete-afspraak met twee Amerikaners sou hê voor hy op 7 Januarie 2011 vermoor is.

Mnre. Marcus Thomas en Kevin Townsend staan tereg op die moord op André Heckmair wat in Klein Windhoek in sy motor met een skoot aan die kant van sy kop doodgeskiet is. Hy was 25 jaar oud. Die twee Amerikaners is die afgelope nege jaar in aanhouding.

Heckmair het getuig dat sy op 28 Desember 2010 ’n SMS-boodskap ontvang het waarin iemand vir André se nommer gevra het en gesê het dat twee Amerikaners hom graag wil ontmoet. Birgit het haar selfoon vir André gegee en hy het die boodskap geantwoord.

Volgens Birgit het André vir haar gesê dat hy op 7 Januarie ’n afspraak met twee Amerikaners het en dat hy selfs ’n bespreking by 'n eetplek by Jenny’s Place vir hulle drie gemaak het.

André het glo sy ouers afgelaai en haastig na die afspraak gery, maar is vermoor voordat hy die afgespreekte plek gehaal het.

Birgit kon nie tydens die kruisverhoor die verdediging se vraag antwoord oor waarom Heckmair se liggaam in Gusindestraat gevind is en wat hy moontlik daar gedoen het nie.

SLUIERSKERM-FOTO

Op die dag van die moord het polisie glo ’n skootrekenaar na Birgit se huis gebring wat hulle na bewering by een van die verdagtes gekonfiskeer het.

Volgens Birgit se getuienis het die polisie die skootrekenaar aangeskakel en sy het gesien die sluierskerm was ’n foto van André se meisie met wie hy al vanaf 2007 uitgegaan het, saam met ’n man wat sy in daardie stadium nie geken het nie.

Toe die moordverhoor begin en sy die verdagtes die eerste keer sien, kon sy met sekerheid getuig dat dit Marcus Thomas was wat in die foto saam met André se meisie was.

ANDRÉ SE FOTO’S

Tydens gister se hofverrigtinge is tydens haar getuienis sowat 50 foto’s aan Birgit oorhandig wat van André se skootrekenaar afgelaai is.

Vyf van die foto’s is van André en sy meisie en die res is foto’s van André saam met familie en vriende.

Volgens Birgit het André se meisie die dag voor sy moord teruggevlieg Switserland toe nadat sy vir sowat twee weke saam met hom in Namibië by sy familie kom kuier het. André sou die dag ná sy moord teruggevlieg het Switserland toe waar hy in die gasvryheidsrigting gestudeer het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!