Eloise kom stort dalk baie water
Eloise kom stort dalk baie water

Eloise kom stort dalk baie water

Terwyl die weerkantoor meen ’n tropiese depressie kan dalk swaar reën bring, loop vyf damme oor terwyl die Hardapdam se sluise Maandag wéér getrek is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

’n Tropiese depressie, of dit wat oorgebly het van wat aanvanklik sikloon Eloise was, kan vanaf vandag vir kwaai storms in Namibië sorg.
Tog sal Botswana waarskynlik die ergste geraak word.
Die Namibiese weerkantoor se eenheid vir rampbestuur het vroeër ’n verklaring uitgereik waarvolgens swaar reën van meer as 60 mm in 24 uur verwag word, wat tot vloede kan lei. Die waarskuwing geld vir Namibië se oostelike en suidoostelike gebiede, asook plek-plek in die hoogliggende sentrale dele.
Die weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, meen die weerstelsel sal boonop vir sterk winde en kwaai weerligstorms sorg, terwyl daar ook teen moontlike haelstorms oor die Khomas- en Omahekestreek gewaarsku word.
Die sikloon het Mosambiek op 23 Januarie getref en hoewel dit “matige skade” aangerig het, meen die Mosambiekse regering dit het sowat 7 000 mense gedwing om hul huise te ontruim en eindelik sowat 5 000 huise vernietig, beskadig of oorstroom.
Eloise het egter vinnig tot ’n tropiese depressie verswak nadat dit die vasteland getref het en het swaar reën in die noorde van Suid-Afrika, die suide van Zimbabwe en die ooste van Botswana veroorsaak.

DAMME
Terwyl die Hardapdam se sluise Maandag opnuut getrek is toe dit die 71,3%-merk bereik het om dit weer terug tot by 69% te bring, het vyf ander damme oorgeloop, volgens NamWater se jongste damverslag.
Dit was die Swakoppoort-, Neckartal-, Oanob-, Friedenau en Goreangabdam, wat almal meer as 100% vol was.
Met uitsondering van die Neckartaldam, was die vier ander damme verlede jaar dieselfde tyd onderskeidelik 5,2%, 37,2%, 20,4 en 98,5% vol. Die Hardapdam was verlede jaar dieselfde tyd net 6,1% vol en besproeiingskrane is toe vir die eerste keer in die geskiedenis toegedraai.
Terselfdertyd het tien damme tussen 18 en 25 Januarie nog water ontvang, met veral die Neckartal wat ’n enorme 62,916 miljoen kubieke meter (Mm³) water ingekry het. Dié hoeveelheid water sou nog ’n Swakoppoortdam, met ’n kapasiteit van sowat 63,489 Mm³, kon vol maak.
Namibië se damme het altesaam die afgelope week 74,683 Mm³ water ontvang en hul gemiddelde nasionale stand is tans sowat 87,7%, in vergelyking met 20,4% dieselfde tyd verlede jaar.
Die damme wat Windhoek en sentrale dele van die land van water voorsien, hou tans gemiddeld 93,1% water, terwyl Suide-damme gemiddeld 92,9% water hou en die Ooste se damme 44,9%.
Terwyl groot dele in die weste en noordwestelike dele van die land nog nie baie reën ontvang het nie, het me. Pauline Mufeti, hoof van hidrologie by die ministerie van landbou, water en bosbou se hidrologiese diens, belowende nuus gehad.
Volgens ’n vloedverslag wat sy Maandag uitgereik het, het satellietfoto’s getoon swaar reën het sedert Sondag in die sentrale Weste geval. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer