Vernietig Swapo en alles is tot niet u2013 Ya Nangoloh
Vernietig Swapo en alles is tot niet u2013 Ya Nangoloh

Vernietig Swapo en alles is tot niet – Ya Nangoloh

'n Menseregte-aktivis sê hy sien hoe daar magte binne en buite die party is wat Swapo wil vernietig.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die uitvoerende direkteur van Namrights, mnr. Phil ya Nangoloh, sê hy is vol vertroue die sekretaris-generaal van Swapo, me. Sophia Shaningwa, sal binnekort sy lidmaatskapskaart onderteken.

In 'n brief wat hy verlede week per hand by haar afgelewer het, hou dié vurige menseregte-aktivis vol hy het voldoen aan die vereiste om in die openbaar verskoning aan oudpres. Sam Nujoma te vra. Hy sê die gedrukte en elektroniese media het wyd oor sy verskoning berig.

Hy sê verder in sy brief hy is “diep daarvan oortuig” dat sy openbare verskoning “die nodige morele, maatskaplike en wetlike vereistes van die Swapo-party en sy Politburo nakom”.

Ya Nangoloh het op 7 Mei vanjaar aansoek gedoen om by die regerende party aan te sluit. Hy het Swapo in die verlede daarvan beskuldig dat hy Namibiërs vermoor en hom aan ernstige menseregtevergrype skuldig gemaak het in die tyd van die vryheidstryd.

Hy het ook volgehou Nujoma moet deur die Internasionale Strafhof (ICC) vir sy aandeel hieraan ondersoek word.

Shaningwa het verlede Maandag tydens 'n nuuskonferensie 'n openbare ver­skoning deur dié menseregte-aktivis as vereiste gestel vir haar ondertekening van sy partylidmaatskapskaart.

“Ek rig my onvoorwaardelike ver­skoning aan Tatekulu Nujoma – nie vir die NSHR (Namibiese Vereniging vir Menseregte) se voorlegging aan die ICC nie, maar vir alles wat ek persoonlik gesê of gedoen het om sy eer of beeld te na te kom of in woede oor hom gesê het tydens my stryd vir menseregte en vryhede,” het sy openbare verskoning gelui.

Hy vra daarin ook vir wyle mnr. Ambinda Toivo ya Toivo, voormalige pres. Hifikepunye Pohamba en pres. Hage Geingob verskoning, maar voeg by hy sal aanhou vra vir die totstandkoming van 'n Namibiese waarheids- en versoeningskommissie om vergrype deur beide kante tydens die vryheidstryd te ondersoek.

In 'n verklaring Donderdag sê Ya Nangoloh hy sien daarna uit om ten nouste met Shaningwa en die ander lede van die party saam te werk en 'n reusesukses van dié party se doelwitte en oogmerke te maak.

Ya Nangoloh het die naweek in 'n onderhoud aan Republikein gesê hy het in 1974 in Zambië by Swapo aangesluit en kort daarna 'n lid van sy gewapende vleuel, PLAN, geword.

“Eintlik het ek Swapo nooit verlaat nie.

“Ek het die party nie openlik verdedig nie, want ek was besig om Namibiërs van hul menseregte te leer en om menseregtevergrype deur beide Swapo en die Suid-­Afrikaanse magte te openbaar,” sê hy.

Ya Nangoloh sê hy sien egter hoe daar magte binne en buite die party is wat Swapo wil vernietig. “As Swapo vernietig word, is ons nasionale sekuriteit daarmee heen. Alles sal tot niet wees,” sê hy en voeg by dit is hoekom hy die huidige leier­wskap in die party ondersteun.

Volgens hom het Nujoma in elk geval nooit daarop aangedring dat hy hom om verskoning vra nie. “Hy het tydens die Politburo-vergadering op 17 September gesê hy het hoegenaamd geen probleem met my nie,” het Ya Nangoloh Sondag gesê.

Skriftelike vrae aan Shaningwa oor of sy tevrede is met sy openbare verskoning en hom gaan terug verwelkom in die party, was teen druktyd nog onbeantwoord.

[email protected]

FOTO Namibian Sun

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!