Verower of gesteel? (Deel 4)

Mandy Rittmann
J.W.F. (KOOS) PRETORIUS SKRYF:

Ek het my laaste brief van Januarie 2017 afgesluit met die slagspreuk van Jan Jonker Afrikaner naamlik, “Africa for the Africans, but Namaland and Hereroland to us.”

Op 10 Augustus 1880 word Jan Jonker Afrikaner vermoor deur sy seun, Phanuel, omdat laasgenoemde nie met Hendrik Witbooi wou onderhandel oor vrede nie. Dit was dan ook die stuiptrekkings van die Oorlams wat polities begin kwyn het. Kaptein Hendrik Witbooi sou nou ook die dominante leiding in Namaland begin oorneem.

Hy sit Jan Jonker Afrikaner se stryd voort en word 'n openlike voorstander van selfbeskikking en onafhanklikheid (outonomie). Bykans 'n eeu later word Swapo met mnr. Sam Nujoma as leier gestig met letterlik dieselfde doelwit, maar sonder om die eienaarskap van grond uit te lig.

Met die stigting van die Volkebond (1919/20) en die toekenning aan Engeland van SWA as mandaat, was daar groot teleurstelling onder die bruin, swart en rooi (Namas) volkere wat geglo het dat hulle toe hulle grond sou terugkry. Engeland het weer sy mandaat oorgedra aan die Unie van Suid-Afrika. Laasgenoemde was toe nog bestuur soos 'n kolonie.

In werklikheid het dit nie Brittanje se verantwoordelikheid minder gemaak nie. Hulle kon nog deur die Permanente Mandaatkommissie van die Volkebond deeglik kontrole uitoefen oor hoe Suidwes-Afrika deur die Unie van Suid-Afrika bestuur word. Die Permanente Mandaatkommissie was beskou as een van die beste kommissies van sy tyd.

Die Unie van Suid-Afrika moes elke jaar verslag doen oor sy aktiwiteite in SWA. Die Permanente Mandaatkommissie het hulle deeglik gebombardeer met vrae. 'n Mens kan dan wel redeneer dat wat deur SA in SWA gedoen is, geskied het met internasionale goedkeuring. Die kwessie van grond, reservate, eienaarskap, arbeid, onderwys, gesondheid, ens. was wel deeglik onder die loep geneem.



TOE EN NOU

Terloops: in 1929 was die prys van een hektaar onbewerkte landbougrond ongeveer 10 sjielings of dan N$1,00. Dit was ook die prys van 'n mooi vet skaap en die salaris van 'n plaasarbeider. Wat laasgenoemde betref, dus minder as vyf sent 'n dag.

Vergelyk dit met die pryse van vandag en sien watter rol inflasie speel. Dit is nie vergelykbaar nie.

Toe ek hier teen 1970 N$8,00 per maand vir my kontrakarbeiders betaal het, was dit op 'n plaas wat ek ses jaar voor dit teen N$5,00 'n hektaar gekoop het. My buurman, mnr. Japie Smit, het 'n paar jaar later die buurplaas ook vir N$5,00 'n hektaar gekoop.



WAS DIT BLOOT VENSTERVERSIERING?

Suid-Afrika het moeite gedoen om te verduidelik wat in SWA plaasgevind het.

Dit is ook uitgewys dat almal, wit, swart, bruin, en rooi (die Namas het hulle destyds graag self so genoem), enige plek in die destydse Suidwes-Afrika landbougrond kon koop. Dit terwyl blankes verbied was om grond te koop in reservate of daar handel te dryf.

Suid-Afrika het selfs die Permanente Mandaatkommissie uitgenooi om self te kom kyk hoe dinge gedoen is. Die antwoord was dat daar nie die nodige fondse was om iemand te stuur nie.

Hierdie posisie het vir alle praktiese doeleindes voortgeduur tot die dag dat Namibië onafhanklik geword het. Ek het dikwels in my openbare toesprake en skriftelike artikels daarop gewys dat Swapo baie dom was deur nie die miljoene wat hulle wêreldwyd ingesamel het vir hulle vryheidstryd aan te wend om alle landbougrond in SWA op te koop nie. Dit is duidelik dat Swapo se adviseurs hulle nie reg ingelig het nie.

Ek het selfs die Landbankwette van die 1920'ers nageslaan. Daar was geen bepaling dat 'n swartman nie kon aansoek doen vir 'n lening nie. Dit was ook nooit verander nie.

Ook Liberië en Ethiopië het in die wêreldhofsaak in die 1960'ers nie kans gesien om Suid-Afrika as mandaathouer hieroor aan te vat nie. Trouens, as die saak gegaan het oor die meriete van die klag dan was die swartes, bruines en rooies in SWA baie beter af as die mense in Liberië of Ethiopië.

Niemand het my probeer verkeerd bewys toe ek beweer het dat op die dag van onafhanklikheid op 21 Maart 1990 daar onder die swart mense, veral in die Noorde, meer miljoenêrs was as onder die Afrikaners in SWA nie.

Diegene wat beweer het dat alle witmense en veral boere (en "Boere") baie ryk was, het bewys dat daar 'n groot gebrek aan kennis was. Dit kon voorkom gewees het as die betrokke minister, me. Pendukeni Ithana, my voorstel aanvaar het om eers 'n studie te maak voordat 'n grondhervormingsbeleid aanvaar word.

Sy het gesê Swapo weet genoeg. Nou na 27 jaar van onafhanklikheid, is bewys dat Swapo nie genoeg geweet het nie, en steeds nie genoeg weet nie.



BESITSPATRONE

Kom ons aanvaar dat daar ongeveer 5 000 blanke boere in Namibië was en dit uit 'n totaal van ongeveer 100 000 blankes, groot en klein. Dan besit slegs 5% van alle blankes landbougrond in Namibië.

Waarom dan, argumentsonthalwe, besit 95% van die witmense nie kommersiële landbougrond nie? Ja, waarom besit dalk 100% van die swartmense kommunale grond en 99% besit geen kommersiële landbougrond nie?

Die antwoord is eenvoudig. 99% swartmense en 95% blankes besit nie kommersiële grond nie omdat daar nie genoeg ekonomiese eenhede beskikbaar is nie en omdat daar nie genoeg geld is nie.

Diegene wat sê dat slegs die blankes kommersiële landbougrond besit het, is eenvoudig domastrant.

Ekself het gedurende die tagtigerjare my sommetjies gemaak en tot die gevolgtrekking gekom dat byna 80% van die blanke kommersiële boere een of ander lening of verband op hulle grond gehad het. Meer daaroor in toekomstige artikels.

* Pretorius is 'n voormalige lid van die Grondwetskrywende Vergadering (1889-1990) en Nasionale Vergadering van Namibië (1990-2005)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!