Verpligte inenting 'netelige kwessie'
Verpligte inenting 'netelige kwessie'

Verpligte inenting 'netelige kwessie'

Al hoe meer lande oorweeg verpligte inenting in die werksplek as deel van die stryd teen Covid-19, maar Namibiese kenners sê dis ’n komplekse saak.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Verpligte inenting kan net oorweeg word as voldoende entstowwe beskikbaar is en as daar genoegsame wetenskaplike bewyse is van die noodsaaklikheid daarvan, asook dat die risiko van newe-effekte laag is.
Verder kan die inwerkingstelling van verpligte inenting wysigings aan bestaande wetgewing vereis.

Volgens die Namibiese arbeidskenner, mnr. Herbert Jauch, is werkgewers wat werknemers wil verplig om hulself teen Covid-19 te laat inent, “’n netelige kwessie”.

“Inenting is tans nie verpligtend nie. Om dus werknemers te straf omdat hulle nie ingeënt is, sou as ’n onregverdige arbeidspraktyk beskou word."

Die “moeilike deel” is dat werknemers wat nie ingeënt is nie, hul kollegas en kliënte kan blootstel wat dan volgens Jauch die vraagstuk van individuele regte teenoor kollektiewe regte na vore bring.
“My gevoel is dat die huidige regsraamwerk nie voorsiening vir gedwonge inentings maak nie.”
Volgens Jauch word die individuele keuse deur huidige wetgewing gerespekteer.
Die probleem ontstaan wanneer dié individuele reg ander blootstel en werknemers se verpligting om gesondheid en veiligheid by die werk te verseker, in gedrang kom.
“’n Werknemer wat nie ingeënt is, kan ’n risiko vir ander inhou wat dan die individuele keuse teenoor die kollektiewe belange van ander in die werksplek plaas.”
In die lig van die huidige situasie waarin Namibië nog lank sal neem om kudde-immuniteit te bereik deur 60% van die bevolking in te ent, is dit volgens Jauch beslis ’n oorweging omdat die kollektiewe belange moontlik bo dié van individuele belange geplaas moet word.

NIE ’n WONDERKUUR
Volgens Jauch is verpligte inenting “beslis nie die wondermiddel” om die land se ekonomie terug op die spoor te bring nie.
“Ons het strukturele verandering nodig – insluitend veel meer plaaslike bevoordeling. ’n Voorbeeld is ’n sistematiese behuisingsprogram wat staatmaak op plaaslik vervaardigde materiale. Ook inisiatiewe soos die bevoordeling van landbouprodukte wat die biomassa van bosse gebruik vir skoolmeubels ens. is noodsaaklik.”
Die arbeidskenner het erken inenting kan beslis ’n rol speel in die voorkoming van ernstige siekte en sterfte en sodoende die behoefte verminder vir grendelmaatreëls wat ekonomiese aktiwiteite kan smoor.
“In hierdie sin is inenting een element van ekonomiese herstel.”
Tans is inenting teen Covid nie verpligtend of deel van werksvoorwaardes nie, sê Jauch.
Dié argument kan egter weerlê word deur ander wat uitwys dat ’n persoon wat nie ingeënt is nie, ’n groter risiko vir ander inhou as ’n ingeënte persoon.
Hy erken hy is nog nie genader deur werkers wie se werkgewer hulle wou dwing om hulle te laat inent nie.
“Ek weet nie hoe wyd verspreid dié praktyk is nie, maar namate meer entstowwe beskikbaar raak, is dit moontlik dat meer maatskappye dit van hul personeel sal vereis. Die opweeg van individuele regte teenoor kollektiewe regte en belange sal die hart van die debatte wees wat gaan volg,” sê hy.

DIE AARD VAN DIE WERKPLEK
Prof. André du Pisani het op sy beurt gesê in sosiale en morele etiek, asook in die filosofiese debatte oor regte, is daar altyd ’n spanning tussen die regte en vryhede van die individue en die verpligtinge wat die individu teenoor die gemeenskap/ samelewing het. Hy maan die spanning is “natuurlik en onafwendbaar”.
“Die etiese beginsel wat geld, is dat regte en vryhede nie ten koste van ander uitgeoefen moet word nie. Indien daar ’n konflik tussen individuele regte en vryhede en die regte van die gemeenskap/burgers ontstaan soos in hierdie geval, beredeneer ’n mens die gevolge van die spanning. Met ander woorde, die negatiewe en positiewe gevolge of konsekwensies van die botsing.
“Ons noem dit etiese relativisme of etiese konsekwensialisme,” het hy verduidelik.
Indien die regte van die individu die gemeenskap se regte aantas of negatief beïnvloed, kan daar volgens hom ’n beperking op individuele regte deur ’n legitieme owerheid geplaas word.
Du Pisani gebruik die voorbeeld van ’n geval van korrupte individue en misdadigers wat uit die gemeenskap geneem word en nie hul regte verloor of prysgee nie, maar aan beperkinge onderwerp word.
Volgens hom hang gedwonge inentings af van die aard van die maatskappy of werkgewer. Indien die werkgewer of maatskappy strategies is sonder ernstige voorbehoude soos bv. gesondheidsdiensverskaffers, werknemers in die sekuriteitsektor (polisie en weermag) of in doeane en immigrasie, sal dit as redelik beskou word om inenting prakties te verplig.
“Daar moet egter voorsiening gemaak word vir individuele gevalle en agentskap.”
Verweer neem volgens Du Pisani gewoonlik twee vorme aan. Eerstens ’n beroep op die bepalings in die Grondwet wat vir persoonlike vryheid en outonomie voorsiening maak, en tweedens ’n appèl op morele outonomie op grond daarvan dat die individu oor morele kapasiteit beskik, al word dit nie altyd uitgeoefen nie. “Met ander woorde die vryheid van wil.”
Hy verduidelik daar is verskeie gronde en argumente waaronder bio-etiese reg in werking tree. Dit sluit in wanneer die voortbestaan van ’n spesie in die gedrang is, of wanneer bio-genetiese veelvoud bedreig word. Volgens hom is daar ook ander kontekste wat meer kompleks is.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!