Versekeraars wil nie nóg besigheid 'weggee'
Terwyl daar op die hoërhof-uitspraak oor die herversekeringsaak tussen die regering en plaaslike versekeraars gewag word, verduidelik rolspelers waaroor die stryd éintlik gaan.
Elvira Hattingh - Versekeringsmaatskappye sê polisse in Namibië word buitensporig belas omdat dit reeds onderhewig is aan 15% BTW, asook 32% korporatiewe belasting, en versekeraars wil om dié rede nie 12,5% van polisse aan die regering sedeer nie.
Dié reaksie is die gevolg van versekeringsmaatskappye, waaronder Hollard, Sanlam, Santam, Trustco, OF Namibia, Old Mutual, Namibia Limited én hul uitvoerende hoofde, wat voor die hof gedaag is om herversekering by NamibRe uit te neem totdat uitspraak in die hooggeregshof gelewer kan word oor die grondwetlikheid van die Namibië nasionale herversekeringskorporasiewet.
Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, sê hierdie is ‘n poging om te keer dat meer as ‘n miljard jaarliks die land uitvloei. Uitspraak in die eerste saak word op 20 September verwag.
‘n Verteenwoordiger van plaaslike versekeraars, wat anoniem wil bly, sê die hofgeding handel oor ‘n vereiste wat in Junie vanjaar van krag geraak het wat versekeraars dwing om 12,5% van alle polisse wat in Namibië uitgeneem word, aan die regering, oftewel NamibRe, te sedeer.
Dit volg nadat dié persentasie 15 jaar lank op 0% gestaan het.
“Versekeraars is totaal en al daarteen gekant dat hulle nou 12,5% van hul maatskappye aan die regering moet ‘gee’ - gratis en verniet,” het die versekeraar verduidelik. “Dit beteken alle versekeraars moet 12,5% van elke laaste polis in die land, buiten mikroversekering, aan die regering sedeer.
“Dit maak die regering onmiddellik een van die grootste versekeraars in die land. Dit gaan in dié geval nie meer oor herversekering nie, maar oor doodgewone versekering, wat jou polis op jou voertuig, huis of lewenspolis insluit.
“Nie net vat hulle 12,5% van alle versekeraars se besigheid nie, maar weier boonop om die volle administratiewe koste te dra wat met die daaglikse bestuur hiervan gepaard gaan. Hulle betaal slegs 20% hiervan.”
Die verteenwoordiger het bygevoeg versekeraars word dus op drie maniere gedwing om met NamibRe, die regeringsbeheerde herversekeraar, sake te doen.
Afgesien van die gedeeltelike sedering van polisse, moet ‘n gedeelte van verdragherversekering aan die regering gesedeer word, en laastens moet die regering eerste opsie op verdere herversekering kry wat uitgeneem word, nadat eersgenoemde twee opsies toegepas is.
KATASTROFIESE GEVOLGE
Volgens die versekeraar hou dit katastrofiese gevolge vir verskeie rolspelers in die waardeketting in.
“Premieverhogings vir kliënte om hierdie bykomende koste te dra, is onvermydelik. ‘n Moontlikheid bestaan dat van die kleiner versekeraars die lewensvatbaarheid van hul besighede gaan moet heroorweeg.
“Die wet gee die minister nou die reg om hierdie persentasies te wysig nes hy wil. Hy kan skielik besluit om dit op 50% vas te stel – daar is niks wat hom keer nie. Dit maak dit vir aandeelhouers baie moeilik om in Namibië te belê, want die wet magtig die regering om die hele bedryf oornag oor te neem, sou hulle wou.
“Verder skaad dit Namibië se beeld vir buitelandse beleggings omdat dit groot onsekerheid oor die veiligheid van beleggings bring.
“Laastens behels dit groot risiko. Gestel ‘n aardbewing tref Windhoek en skade van byvoorbeeld sowat N$10 miljard word gely, is die vraag of die regering verantwoordelikheid vir ‘n reusedeel van dié verlies gaan neem. Dit is ‘n waarborg wat hulle nie bereid is om te gee nie, hoewel hulle die premies wil hê.
“Die vrees bestaan dat, indien die eise teen hulle (die regering) te veel raak, hulle NamibRe eenvoudig sal likwideer, soos in die RCC se geval. Dit kan katastrofiese gevolge vir versekeraars hê wat dus self die eise sal moet betaal en nie die geld teen NamibRe sal kan verhaal nie. Uiteindelik kan dit veroorsaak dat klousules by polisse ingesluit word waarvolgens versekeraars nie aanspreeklik gehou kan word vir verliese wat kan ontstaan indien NamibRe nie sy gedeelte kan betaal nie. Dit maak polishouers self kwesbaar.”
NAMIBRE REAGEER
Me. Astrid Feris, ‘n direkteur van Sisa Namandje & Co. Inc, wat NamibRe in die hof verteenwoordig, het gesê die vereiste sedering van 12,5% kan nie gelyk gestel word aan “belasting” nie, omdat ‘n oordrag van risiko plaasvind en eise uitbetaal kan word.
“NamibRe sal sy 12,5% van enige versekeringseise uitbetaal.”
Sy het ook gesê ‘n ooreenkoms is tussen die minister, NamibRe en die Namibië Versekeringsvereniging onderteken om besigheid aan NamibRe, met netto behoud, te sedeer.
“Dit verwys na versekeringsbesigheid wat by die versekeraar bly sonder dat risiko aan die herversekeraar oorgedra word.
“Dié ooreenkoms is bereik nadat versekeraars ‘n grondwetlike uitdaging in die hoërhof verloor het en dus aan die wet gehoor moes gee.
“Sedertdien staan die ooreenkoms reeds meer as 15 jaar. Die regering het dus nie ‘n wet verander nie, hy pas net ‘n bestaande wet toe,” het Feris verduidelik.
Oor die bewering dat die regering die persentasie kan aanpas soos hy wil, het sy gesê die wet is doelbewus só opgestel sodat die uitvloei van kapitaal na die buiteland beperk kan word.
Sy het verder gesê dit is onwaar dat NamibRe slegs 20% van administratiewe koste sal dra, maar dat hy betalings sal maak soos in die Staatskoerant uiteengesit, waarin voorsiening vir besigheidsverkryging en inligtingskommissie gemaak word soos deur Namfisa voorgeskryf.
Feris het ook gesê die sedering van 12,5% sal nie tot premieverhogings vir kliënte lei nie, soos hulle in die hof in beëidigde verklarings deur die Bank of Namibia (BoN) en Namfisa bewys het.
“Kleiner versekeraars se werksaamhede kom ook nie in die gedrang nie omdat hulle meer as 70% van hul besigheid in herversekering oordra. Dit sal húlle dus nie raak nie, maar slegs hul herversekeringsbesigheid.”
Sy het gesê die meeste Afrikalande begin herversekering binnelands hou.
Dis sluit in Ghana, Kenia en Zimbabwe.
RISIKO-OORDRAG
Sy het ook gesê daar is geen plaaslike versekeringsmaatskappy wat die vermoë het om op sy eie byvoorbeeld N$10 miljard se versekering te bied nie.
“In die praktyk word daar van risiko-oordrag gebruik gemaak, waar versekeraars die grootste deel van hul risiko aan hul beheermaatskappye oordra. Selfs hierdie beheermaatskappye dra die risiko oor aan verskeie ander herversekeraars om seker te maak hul balansstaat word nie onder té veel druk geplaas nie.”
“NamibRe, soos elke ander versekeraar en herversekeraar, het sedert sy begin maatreëls in werking en kon byvoorbeeld sy verpligting om eise uit te betaal in 2006 nakom, toe Mariental oorstroom het.
“Dit was die grootste versekerings-aangeleentheid in Namibiese geskiedenis.
“NamibRe het ‘n risiko-oordrag-program vir enige verlies gely, insluitend rampe.”
Feris het gesê dit is interessant dat die uitvloei van kapitaal meestal na Suid-Afrikaanse multinasionale verskeraars gaan, terwyl Suid-Afrika self maatreëls het om alle ander Afrikalande uit te sluit as dit by herversekeringsbesigheid in dié land kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie