Verskeie operasies ná spoegkobra se byt

Amptelike riglyne vir die hantering van slangbyte in Namibië is reeds sedert 2003 beskikbaar.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



'n Sjef van Katima Mulilo word in die staatshospitaal op Rundu behandel, nadat sy in Augustus op die dorp deur 'n Mosambiekse spoegkobra gebyt is.

Me. Marthie Zwemmer moes reeds verskeie operasies ondergaan om dooie weefsel te verwyder.

Volgens Zwemmer bly sy langs die rivier op die dorp en het sy die oggend van 19 Augustus met koue koors wakker geword en haar arm was seer.

“Ek was pap en siek en kon die volgende dag omtrent nie opstaan nie,” vertel sy. Haar arm het begin opswel en 'n knop gevorm wat gelyk het asof dit ontsteek is. Volgens Zwemmer was haar aanvanklike vermoede sy is deur 'n spinnekop gebyt.

Sy het die Saterdagnag by die hospitaal op die dorp aangeklop wat haar aanvanklik vir 'n spinnekopbyt en vir drie dae met antibiotika behandel het.

Navrae aan die slangkenners dr. Christo Buys en mnr. Francois Theart het egter bevestig sy is deur 'n ­Mosambiekse spoegkobra gebyt. Sy is na tien in die staatshospitaal op Katima Mulilo na die ­staatshospitaal op Rundu oorgeplaas waar sy ­uiteindelik vir 'n slangbyt behandel is.

Volgens Zwemmer het sy reeds twee operasies ondergaan om die dooie weefsel en gif weg te sny. Die wond moet nou eers herstel voordat sy 'n veloorplanting kan ondergaan.

Hoewel sy “verskriklike pyn” ervaar, is sy dankbaar sy het steeds die gebruik van haar regterhand.

“Dis seer, maar ek kan my vingers beweeg en 'n beker vashou. Die senuwee is tans oop en ons wag vir dit om gesond te word, dan kan ek 'n veloorplanting kry.”

Intussen sê Theart, wat 'n slang­kenner en -vanger is, hoewel die ­Namibian Snakebite Interest Group (NSIG) reeds in 2016 gestig is, bestaan daar reeds sedert 2003 amptelike riglyne in gedrukte formaat oor die hantering van slangbyte in Namibië. Dit is ook vanjaar opgedateer.

“Verskeie lesings met ­demonstrasies is die afgelope tien jaar by verskeie mediese kongresse aangebied, asook oraloor in die land aan van para­mediese personeel tot die publiek,” sê Theart. Tydens dié besprekings is 'n voorstel gemaak dat slangbyte in Namibië as 'n aanmeldbare voorval en as sulks rapporteer móét word.

Volgens Theart het die ­voormalige minister van gesondheid en maat­skaplike dienste, dr. Bernard Haufiku, NSIG in 2018 genader om 'n Namibiese Nasionale Slangbyt Raadgewende Groep op die been te bring wat alle aspekte van die hantering van slangbyte en -bewaring sou adviseer.

Die groep sou ook verbeterde statistieke rakende slangbyte in Namibië (voortspruitend uit die ­voorgestelde wetgewing op aanmeldbaarheid daarvan) verwerk.

“Die handleiding bevat ­omvattende regimes vir die hantering van alle giftige slangbyte en is spesifiek gerig op die onervare dokter wat by hospitale en klinieke se noodgevalle werk,” sê Theart.

Met verwysing na die behandeling van 'n byt deur die Mosambiekse spoegkobra sê Theart word die toediening van antiserum aanbeveel.

“Noodchirurgie word ­aanbeveel met die verwydering van al die dooie weefsel deur verkieslik 'n ervare chirurg of 'n plastiese chirurg. Vakuum-verbandverpakking is ook van groot waarde.”

Dit moet ook deeglik gemonitor word met die herevaluering van die wond wat ten minste elke 48 uur gedoen moet word.

“Indien aangedui moet verdere oorskot dooie weefsel verwyder word, totdat die wond vry van nekrotiese weefsel is. Hierna word die hegting van die wond en veloor­plantings ­aanbeveel, indien moontlik.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!