Verskuilde web versteek pedofiele se bedrywighede

’n Kenner verduidelik hoe die onderwêreld van internasionale kinderpornografie werk.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Aanlyn pedofiele tree nooit alleen op nie. Hulle is deel van uitgebreide netwerke waarin hulle kinderpornografie aan mekaar verskaf.

“Omdat hulle hierdie netwerke op die verskuilde web (dark web) bedryf, is dit bykans onopspoorbaar.”

Só sê mnr. Andrew Fordred, ’n kubermisdaadondersoeker van Cynetio Cyber Security Solutions in Windhoek.

Volgens hom gebruik aanlyn pedofiele normale webwerwe op die internet waar hulle foto’s van kinders plaas as ’n “heuningpot” om ander pedofiele te lok.

“Dit is soos ’n bemarkingsblad aan die voorkant van die verskuilde web.”

Hy sê ’n mens kan die beeld van ’n draairoomys gebruik.

“Van die voorste, ‘onskuldige’ blad op die normale web, beweeg die pedofiele dan al dieper in die verskuilde web in waar hulle toegang tot die pornografiese materiaal kry,” het hy gister aan Republikein verduidelik.

Mnr. Johann Maree (48), die vermeende pedofiel wat eergister in die hof verskyn het op 40 klagte wat verband hou met die verkragting en uitbuiting van minderjarige seuns vir die vervaardiging van kinderpornografie, is na bewering die skepper van so ’n oënskynlik onskuldige bemarkingsblad, of “heuningpot”.

Daarop verskyn foto’s van jong seunsmodelle. Die meeste lyk of hulle nog in die laerskool is. Seuns tussen 8 en 19 jaar word uitgenooi om aan te sluit en elke maand ’n wenmodel te kies. Kontantpryse word beloof.

Verder word besoekers op die blad meegedeel hulle moet registreer om die foto’s te kan sien, of enige van die “inhoud” te kan koop. Hoewel registrasie gratis is, moet hulle ’n geldige e-posadres verskaf.

Fordred sê pedofiele ontmoet mekaar gewoonlik in geselsforums op die internet. Dit blyk dit kan oënskynlik onskuldige Facebook-blaaie wees.

Hy verduidelik pedofiele het gewoonlik ’n sagmaak- of versorgingstaktiek (grooming process) wat hulle volg wanneer hulle kinders nader en uiteindelik vir die vervaardiging van kinderpornografie misbruik.

“Hulle sal byvoorbeeld vir die kinders geld aanbied om eers net onskuldige foto’s van hulle te neem.”

’n Ouer van twee van die seuns wat na bewering deur Maree bevriend en misbruik is, sê hy het vir hulle duur selfone gekoop.

Intussen het ’n groep sielkundiges in Windhoek saamgespan om gratis berading aan die slagoffers te verskaf.

Dit blyk nagenoeg 34 seuns was oor ’n tydperk van jare Maree se slagoffers. Van hulle was kwesbare kinders wie se swemlesse hy geborg het.

Maree bemark homself as ’n sport- en modelfotograaf. Hy vertel glo ook vir mense hy is in die polisie en doen private speurwerk.

Me. Fritzie van Rooyen, een van die sielkundiges, het bevestig dat sy en ander sielkundiges in die stad die seuns gaan help om die trauma te verwerk. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!