Verslag: Geen verhoogde risiko vir kanker
Verslag: Geen verhoogde risiko vir kanker

Verslag: Geen verhoogde risiko vir kanker

Geëvalueerde bestralingsvlakke by die Rössing uraanmyn is soortgelyk aan die blootstelling van natuurlike agtergrond­bestraling waaraan werknemers in hul daaglikse lewe blootge­stel word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Studie van sekere tipe kankers onder werknemers by Rössing Uranium het geen beduidende bewyse opgelewer dat bestraling of enige ander blootstelling by die myn 'n verhoogde risiko van kanker in die werksmag veroorsaak nie.

Volgens die verslag van die Universiteit van Manchester wil dit voorkom asof die bestralingsblootstelling laag is vir werknemers by die myn gebaseer op data wat verskaf is.

“Op hierdie bestralingsvlakke en van wat bekend is oor bestralingsrisiko's verwag ons nie 'n toename in die voorkoms van kanker onder Rössing se werksmag nie,” lui die verslag.

Ook is die geëvalueerde bestralingsvlakke by die werk soortgelyk aan die blootstelling van natuurlike agtergrondbestraling wat in hul daaglikse lewe en soos die blootstelling aan radon (die chemiese element van atoomgetal 86, 'n skaars radioaktiewe gas wat aan die edelgasreeks behoort) in hul huise voorkom.

Die navorsers sê hoewel die moontlikheid nooit uitgesluit kan word dat vir sommige kankerpasiënte die myn­omgewing moontlik kon bydra tot die ontwikkeling van hul siekte nie, die studie nie sterk bewyse verskaf dat bestraling en ander blootstelling by die Rössing-myn 'n verhoogde risiko van kankers in die werksmag veroorsaak nie.



ONAFHANKLIKE NAVORSERS

Die Rössing Uranium Limited-myn in Namibië word sedert 1976 bedryf. Dit is 'n oopgroefmyn waar ­uraanhoudende gesteentes ontplof, gebreek en chemies verwerk word om uraankonsentraat vir uitvoer te ­produseer. Werknemers by die myn word aan bestraling direk van ra­dioaktiewe materiaal in die rotse blootgestel, maar kan ook radioaktiewe stof en radongas inasem wat van die rotse kan ontsnap.

Werknemers kan volgens die studie ook ander nie-radioaktiewe middels soos suurmis inasem.

Die Universiteit van Manchester is deur Rio Tinto, wat tot onlangs die grootste aandeelhouer in die myn was, aangestel om 'n onafhanklike studie uit te voer om ondersoek in te stel of werksaamhede by Rössing verbind word met 'n hoër risiko om kanker te ontwikkel.

Die navorsingspan het uit rekords by die myn 7 901 mense geïdentifiseer wat ten minste tussen 1976 en 2010 by die myn gewerk het. Met die hulp van die Namibië Nasionale Kankerregister, die Suid-Afrikaanse Nasionale Kankerregister en inligting uit die rekords van die myn se beroepsgesondheidsdiens is dié geïdentifiseer wat kanker ontwikkel het.

Die werknemers se rekords is vertroulik verbind met rekords van die kankerregisters. Die studie het gefokus op longkanker, kankers van ander dele van die lugweë, leukemie, nier- en breinkanker.

Volgens die navorsers is 32 gevalle van longkanker, 18 ander lugwegkankers, agt gevalle van leukemie, nege gevalle van breinkanker en nege gevalle van nierkanker opgespoor.



FAKTORE IN AG GENEEM

Inligting is van blootstelling by die myn en in veral blootstelling aan bestraling aan silika, suurmis en die uitlaatgasse van dieselenjins ingewin. Dit is gedoen vir werknemers wat die betrokke kankers ontwikkel het en vir 'n verteenwoordigende monster van 1 121 mense van die hele werksmag.

Dié inligting is gebruik om algehele blootstelling te bepaal in die tyd wat die betrokke werknemers by die myn werksaam was.

Inligting is ook verkry oor ander faktore wat moontlik kanker kan veroorsaak en wat rook en mediese X-strale insluit. Volgens die navorsers is inligting ook verkry oor geslag, geboortedatum, ras en vlak van inkomste, omdat hierdie faktore ook die risiko kan beïnvloed om kanker te ontwikkel.

“Ons het bevind die aantal longkankers onder swart Namibiese werkers was veel minder as die van ander etniese groepe,” lui die verslag.

Gebaseer op bykomende ontledings van alle kankergevalle in die ver­teenwoordigende monster van ­Rössing-werknemers, was navorsers dit eens dat dit bloot is omdat minder kankers by swart Namibiërs voorkom.

“In plaas daarvan is ons van mening dat dit minder waarskynlik is dat ­kankergevalle in swart Namibiërs behoorlik deur die kankerregisters gediagnoseer en opgeteken word.”

Statistiese ontledings om die risiko vir die ontwikkeling van kanker te identifiseer, was hoër in werknemers met groter blootstelling aan bestraling.

Dié ontledings het gewys die totale bestraling in die Rössingmyn word nie verbind met 'n hoër risiko van enige van die kankers wat deur die navorsers ontleed is nie.

Volgens die verslag het bykomende sensitiwiteitsontledings en veral vir een tipe bestraling (gammabestraling) in sommige van die ontledings bevind hoër bestralingsblootstelling is verbind tot 'n hoër risiko om longkankers te ontwikkel.

Met betrekking tot die inasem van radioaktiewe stof het die navorsers in sommige van die ontledingsvoorstelle 'n moontlike verbintenis met longkanker bevind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer