Versorging is die hele gemeenskap se plig
BERRIE HOLTZHAUSEN VAN ALZHEIMER DEMENTIA NAMIBIA (ADN) SKRYF:
Eerstens wil ek die skrywer van die brief "Die stil dief - Alzheimer" in Republikein van 23 November 2018 bedank vir die raak beskrywing van die simptome en tekens van 'n geliefde wat met demensie lewe. Die skrywer spel ook baie duidelik uit watter uitdagings daar is vir die persoon wat met demensie lewe, sowel as sy/haar geliefdes en dus ook die samelewing van Namibië.
Alzheimers is maar een van die amper 100 siektes wat verantwoordelik is vir die permanente en progressiewe afsterwe van breinselle en die brein se konneksies (sinapsis) van breinselle, met ander woorde die brein self.
Hierdie afsterwe van die brein word veroorsaak onder andere deur verskeie siektes soos Alzheimers Dementia, Vaskulêre Dementia, Levy Body Dementia, Parkinsons Dementia, Picks Disease, Frontale Temporale Dementia en in Afrika waarskynlik grootliks deur MIV-vigs verwante demensie en nog meer as 90 ander siektes.
Demensie is dus die sambreelterm wat verskeie simptome en tekens verteenwoordig, soos mooi deur die briefskrywer oor haar man verduidelik is. Soos die term “kanker” as sambreelterm gebruik word om 'n siektetoestand te beskryf, maar waaronder tientalle soorte siektes val wat die kankertoestand veroorsaak, so gebruik die mediese wetenskap die term demensie om die permanente en progressiewe afsterwe van die brein te definieer en sal dit dan diagnoseer met een of meer spesifieke siektes (Alzheimer/MIV-vigs ens.) wat die oorsaak is van die permanente en progressiewe afsterwe van die brein.
OPE GESPREK
Die briefskrywer sluit af met 'n paar stellings en vrae wat ek as stigter van ADN graag op wil reageer.
Die skrywer vra onder andere ". . . hoekom daar nie gepraat, geskryf en raad gegee word oor die siekte nie".
Die Republikein het alreeds oor die laaste 8 jaar van ADN se bestaan verskeie artikels oor die siektetoestand demensie gepubliseer. Oom Des Erasmus het gereeld inligting by ADN ingewin en op 'n baie treffende wyse daaroor berig.
Henriette Lamprecht het die laaste drie jaar in Septembermaand se mediese bylaag in die Republikein geskryf oor demensie in Namibië en wat hier gebeur.
Die volgende maande en jare sal daar weereens daaroor berig word.
Namib Times het ook al 'n artikel die lig laat sien. The Namibian sal in die volgende weke ook 'n artikel daaroor publiseer.
Elke keer het joernaliste kontakbesonderhede van ADN geplaas.
Dit lyk vir my of sommige mense baie min koerant lees en of die woord demensie nog so onbekend is soos die woord tsunami voor Kersfees 2005 was. Mens lees dit, maar sien dit nie.
ADN het oor NBC Afrikaans die afgelope nege jaar aan meer as 30 radio-uitsendings deelgeneem. Dan was daar ook gesprekke op FM 99, Kanaal 7, Radio Kosmos, HIT Radio en selfs 'n TV-uitsending op Africa One saam met Kirsty Watermeyer op die program MYD.
Dan praat ons nie van talle bewusmakings- en opleidingsgeleenthede by kerke, ouetehuise, aftreeoorde, hospitale, munisipaliteite, nieregeringsorganisasies (NGO's), vrouegroepe, selfs vir personeel van 'n kettingwinkel, ens. Ons het 'n oop deur beleid by ons versorgingshuis langs die Swakoprivier op die Swakoprivierplotte.
BETROKKENHEID
Die skrywer se volgende vrae wil ek saam hanteer, want dis belangrik in terme van bewusmaking:
"As jy begin navraag doen, besef jy dit is eintlik 'n siekte net vir 'ryk' mense”, "is daar goedkoper ondersteuning?'"en "Kan die regering 'n plek skep. . .?"
Wanneer individue, families, geliefdes, vriende en 'n gemeenskap onbetrokke bly ten opsigte van mense wat met demensie lewe - en 'n mens verstaan die uitdagings van die siekte, soos baie goed beskryf deur die skrywer - moet mens aanvaar dat 'n organisasies soos ADN en versorging by ouetehuise, aftreeoorde en ander "step down"-fasiliteite wel baie duur sal wees omdat dit baie arbeidsintensiewe versorging verg ter wille van 'n kwaliteit lewe vir mense wat met demensie lewe.
As wit Afrikaan (Afrikaner klink meer na net 'n taalgroep) stem ek 100% saam met die beleidsrigting van ons regering en ander Afrika-regerings, naamlik: In die konteks van Ubuntu (ek is 'n mens deur ander mense) is dit nie 'n regering se plig om plekke te bou en te onderhou waar mense wat met demensie lewe versorg moet word nie. Dit is die gemeenskap se verantwoordelikheid om mekaar by te staan sodat ons gesamentlik kan help sorg dat die mees basiese menseregte ook die mens wat met demensie lewe toekom, naamlik: Die reg op 'n kwaliteit lewe totdat mens sterf.
AANBEVELINGS
Om dus bogenoemde vrae oor bekostigbaarheid en hulp aan die geliefdes van 'n persoon wat met demensie lewe prakties aan te spreek, beveel ADN al jare aan dat daar deur kerkgroepe, boereverenigings, vroueverenigings of watter gemeenskapsgerigte organisasies daar bestaan, demensie-vriendelike gemeenskappe op die been gebring moet word, sodat die persoon wat met demensie lewe selfs tot sy/haar dood in sy/haar woning kan aanbly en die gemeenskap die druk op die "versorger" kan help verlig.
ADN het tydens alle onderhoude in die gedrukte media, op radio en TV daarop gewys dat ons bewusmaking en opleiding aanbied regoor die land, want as 'n mens die siekte verstaan, dan sal 'n mens ook verstaan dat daar baie is wat 'n gemeenskap kan doen om hulp aan te bied sodat kwaliteit lewe vir beide die een met demensie sowel as die versorger moontlik is.
ADN het ook alreeds jare gelede begin met opleiding van winkelpersoneel sodat diegene wat te doen kry met mense wat met demensie lewe, hulle kan bystaan tydens hulle inkopie-ervaring, wat soms 'n nagmerrie kan word. Laasgenoemde geld vir elke vlak van die samelewing.
Bewusmaking en opleiding moet by alle hospitale (staat en privaat), mediese fondse, finansiële instellings (dan sal minder mense wat met demensie lewe uit hulle besittings en pensioene verkul word), skole, kerke, verkeersdepartemente (minder padongelukke vanweë onkunde oor die siekte en verkeerde medikasie), letterlik op elke vlak van die samelewing plaasvind. Dan, en dan alleen, sal die kosteaspek irrelevant wees, ryk en arm voluit hulle menseregte kan beleef en ons as samelewing ophou om na die regering te kyk vir oplossings.
Ek wil dit waag om te sê dat die enigste regeringsbetrokkenheid wat noodsaaklik is, is om deur middel van wetgewing die wette van ons land uit te brei sodat mense wat met demensie lewe se menseregte beskerm kan word, wat tans nie die geval is nie. En daarmee saam die betrokkenheid van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste sodat diagnose so vroeg as moontlik kan plaasvind en almal in die land deur gesondheidsorganisasies bewus gemaak kan word dat die bestuur van hoë bloeddruk, hoë bloedsuiker en MIV-vigs direk met demensie verband hou.
Selfs armoede hou verband met onkunde oor demensie omdat persone wat met demensie lewe gesien word as hekse in sekere kulture of as demoniese besetenheid deur kerkgroepe en godsdiensgroepe.
ADN daag dus elke organisasie, siviel en privaat, die ministeries van justisie en gesondheid en maatskaplike dienste uit om met ADN in kontak te kom sodat ons kan saamwerk vir die daarstel van demensievriendelike gemeenskappe.
Kontakbesonderhede: e-pos [email protected] of [email protected], Facebook ADN (Alzheimer Dementia Namibia), webjoernaal alzheimersdementianamibia.wordpress.com.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie