Vervaardiging boer met 3,6% agteruit
Vervaardiging boer met 3,6% agteruit

Vervaardiging boer met 3,6% agteruit

Dié sektor se volume produksie het in November op ’n jaargrondslag met 3,6% ingekrimp.
Elvira Wood – As die pas waarteen Suid-Afrika se vervaardigingsektor groei of krimp as ’n aanduiding van ekonomiese groei gebruik kan word, is die land in baie groot moeilikheid.

Dit is omdat dié sektor se volume produksie in November op ’n jaargrondslag met 3,6% ingekrimp het.

Dit is nou die sesde opeenvolgende maand wat Suid-Afrikaanse vervaardigers agteruit boer.

Luidens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers wat Donderdag bekend gemaak is, was daar laas in Mei 2019 positiewe groei wat vervaardiging betref. Toe was dit ook net ’n skamele 0,4% op ’n jaargrondslag.

Die vervaardiging van houtprodukte en papier (-9,3%) het die grootste ineenkrimping getoon.

Ander sektore wat agteruit geboer het, is:

· Motors en motoronderdele: -10%;

· Petroleum-, chemikalie-, rubber en plastiekproduksie: -2,6%;

· Tekstiele, klerasie, leer en skoene: -13,3%; en

· Yster- en staalproduksie: -2,5%.

Die enigste subsektor waar daar groei was, was kosproduksie, wat met 1,3% op ’n jaargrondslag gegroei het. Dit is egter beduidend laer as die 4% van Oktober 2019.

Op ’n maand-tot-maand-grondslag het produksie in November met 1,5% ingekrimp wanneer dit met dié van Oktober vergelyk word.

Op ’n kwartaalgrondslag lyk dinge ook nie juis beter nie.

Wanneer vervaardiging in die drie maande tot einde November met die voorafgaande periode vergelyk word, het net drie sektore positiewe groei getoon.

Kosproduksie het met 0,5% gegroei, vervaardiging van radio’s, televisies en ander toerusting met 3,6% en vervaardiging van meubels met 1,2%.

Oor die algemeen het vervaardiging op ’n kwartaalgrondslag egter met 1,7% ingekrimp teenoor die vorige periode.

Die grootste ineenkrimping was dié vervaardiging van motors en onderdele wat met 5,1% ingekrimp het.

Die swak vervaardigingsyfer kom waarskynlik as geen groot verassing nie.

Absa se aankoopbestuurdersindeks (PMI) vir November (wat reeds in Desember uitgereik is), het toe reeds tot 47,7 punte gedaal. Enige punt onder 50 dui daarop dat die land se vervaardigers aan die inkrimp is. Die indeks word deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch saamgestel.

As daar na die nuutste syfers gekyk word wat Woensdag vir Desember uitgereik is, dan het die vervaardigingsektor nie veel om na uit te sien nie.

Die syfer het selfs nóg verder tot net 47,1 punte gedaal.

Beurtkrag

Hoewel daar nie grootskaalse beurtkrag in November was nie, speel dit ’n groot rol in die land se vervaardigingsvermoë. Daar is tans soveel kommer oor die invloed van die groot vlaag beurtkrag wat in Desember en nou reeds aan die begin van 2020 ingestel is, dat daar selfs op internasionale vlak daaroor gewaarsku word.

Die Wêreldbank het Woensdag aangekondig dat hy weens beurtkrag net ekonomiese groei van 0,9% in 2020 in Suid-Afrika verwag.

Hy het in Oktober reeds gewaarsku dat beurtkrag dit baie moeilik maak om sake in Suid-Afrika te doen.

Om sake te vererger, wys die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se gemiddelde sakevertroue vir die jaar dat sake vinnig aan die agteruitgaan is.

Sakevertroue in 2019 was net 92,6 punte. Dit is die laagste tot nog toe sedert dit gemeet word en dus in minstens 34 jaar.

Die indeks van sakevertroue word saamgestel uit 13 ekonomiese faktore, onder meer die kragvoorraad, motorverkope, inflasie, aandeelpryse en die wisselkoers. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!