Vervaldatum sluip nader, maar mense wil nie ent
Vervaldatum sluip nader, maar mense wil nie ent

Vervaldatum sluip nader, maar mense wil nie ent

Teen die huidige vraag na Pfizer sal die bestaande voorraad langer as sewe jaar hou, terwyl van dié dosisse reeds einde Desember verval.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Met inentings teen Covid-19 wat al hoe traer geskied en sommige entstowwe wat binne die volgende maand of twee reeds hul vervaldatum bereik, skuif Namibië al hoe verder weg van sy doelwit om 60% van sy bevolking teen einde Maart aanstaande jaar teen die siekte in te ent. Waar tot 20 000 inentings ’n paar maande gelede per week toegedien is, het dit nou landswyd tot 10 000 per week afgeneem.

Sommige AstraZeneca-entstof wat geskenk of deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste aangekoop is, verval reeds vandeesmand. Van die land se Pfizer-entstowwe wat nou ook vir die immunisering van tieners in die ouderdomsgroep 12 tot 17 jaar gebruik gaan word, verval einde Desember en einde Januarie.

Teen die huidige aanvraag vir Pfizer – sowat 550 spuite per week (eerste en tweede dosisse) – sal hierdie voorraad langer as sewe jaar neem om opgebruik te word. Verlede week is ook meer opvolginentings met Pfizer gedoen as nuwe spuite.

Dit is volgens die hoof van Namibië se taakspan vir die landswye immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, wat inwoners se huiwering om teen Covid-19 ingeënt te word as “’n werklike kommer” beskryf. Volgens Masabane verval die Sinopharm en Johnson & Johnson entstowwe onderskeidelik in September en Mei 2023.

Die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, het Vrydag tydens die aankondiging van die nuwe Covid-19-regulasies ook sy ernstige kommer uitgespreek oor die algehele opname van immuniserings wat die laaste paar weke gedaal het.
Tydens Julie tot September vanjaar was die inentings tussen 3 500 en 4 000 en meer as 20 000 per week in alle streke. Dit het tot 1 900 per dag afgeneem, met net meer as 10 000 entstowwe wat per week toegedien word. Shangula het gemaan dié neiging sal moet verander vir Namibië om sy immuniseringsdoelwit teen die einde van die huidige finansiële jaar te bereik en wel om 1,5 miljoen mense in te ent om kudde-immuniteit van 60% te bereik.

“Ons sal meer moet doen anders loop ons die risiko om onsself in die toekoms vasgevang in nog Covid-19-golwe te bevind,” het hy gewaarsku.

Teen 11 November het 22,9% (343 482 mense) van die geskikte bevolking hul eerste dosis entstof ontvang, terwyl 18,6% (279 765 mense) ten volle ingeënt is. Shangula het beklemtoon daar is voldoende dosisse entstof in die land vir mense om in die immuniseringsry te gaan staan, met nog dosisse wat vandeesmaand en ook in Desember verwag word.

Masabane het op haar beurt gesê waninligting oor immuniserings en entstowwe word steeds teen ’n “kommerwekkende tempo” versprei.

“Met die huidige lae positiewe koers mag mense dink ons is buite gevaar en Covid-19 is verby. Net voor die derde golf het Namibië sowat 42 dae gehad van ’n enkelsyfer positiewe koers met geen of min sterftes. Binne dae het ons egter gesien lykshuise en hospitale loop oor,” het Masabane gemaan.

Sou Namibiërs hulself nie aanmeld om vir Covid-inentings te gaan nie, staar die land ’n styging in hospitalisasies, sterftes, die verlammende uitwerking van ‘lang Covid’ vir sommige, ekonomiese ellende en die verlies van lewensbestaan in die gesig, sê Masabane.

Dit is uitgesluit die langtermyn sielkundige trauma van die verlies van geliefdes.

Volgens Masabane gaan “kunstenaars en leiers” landswyd deur die ministerie ingespan word in ’n hernude poging om die veldtog weer op spoor te bring.

Dit sluit gesprekke met tradisionele owerhede en geestelike en politieke leiers, sowel as gesels- en inbelprogramme in.

“Werkgewers moet ook hul deel doen om hul werknemers en families hieroor in te lig. Ons het ’n benadering nodig wat die hele gemeenskap insluit. Elke een leer een en so aan,” het Masabane gesê.

Volgens beskikbare syfers het Namibië teen Saterdag nog byna 775 000 dosisse entstof in voorraad gehad.

Van Sinopharm is daar nog 51 523 eenhede en die regering het tevore gese 'n besending van nog 350 000 dosisse word verwag.

Daar is 220 490 dosisse AstraZeneca, 265 999 dosisse Johnson & Johnson en 221 513 dosisse Pfizer.

Die staat beskik ook nog oor 14 930 opvolgdosisse van Sputnik V, waarvan die gebruik onlangs gestaak is.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!