Vervoerband van kampioene bly aan die rol

Geesdriftiges kan maar die datum 21 Oktober op hul kalender omkring.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die MTC Nestor Sunshine Tobias Boks­akademie bied op Saterdag 21 Oktober sy volgende toernooi by die Windhoek Buiteklub aan waar 20 beroepsvegters die geleentheid kry om hul slag te wys.

Die Champions in Action-skouspel beloof om soos telkens in die verlede opnuut aan elke boksliefhebber se smaak te voldoen.

In die eerste gevegte is daar boksers wat hul debuutverskyning in die beroepskryt maak, terwyl ander soos die gevreesde Walter Kautondokwa (The Executioner) sy volgende tree na 'n wêreldtitelgeveg kan gee.

Kautondokwa, die 32-jarige middelgewig en houer van beide die WBO en IBF se Afrika-titels, verdedig in die hoofgeveg sy gordels teen Meshack Mwankemwa van Tanzanië.

Die lenige Laksman het tot dusver 'n indrukwekkende rekord opgestel waar hy 14 van sy 15 teenstanders (93.3%) uitgeslaan het. Sy onoorwonne rekord en harde slaankrag het binne vier jaar van hom 'n legende gemaak wat ál moeiliker opponente braaf genoeg kry om teen te boks.

Die langste wat Kautondokwa nog besig gehou was, is toe hy op 1 April vanjaar vir tien rondes teen die glibberige Med Sebyala van Uganda geboks het. Agterna het Kautondokwa vertel dat hy ondervinding wou opdoen en in die tiende ronde genoeg van sy teenstander gehad het en hom daarna planke toe gestuur het.

In sy geskeduleerde 122 rondes wat Kautondokwa in sy 15 gevegte moes boks, het hy slegs 48 rondes (39%) geneem om sy kantoorwerk vir die dag af te handel, wat gemiddeld 3.2 rondes per geveg is.

Dat die Laksman inderdaad so vinnig en giftig soos die Afrika-mamba is, is nie te betwyfel nie. Maar of die Namibiër ná sy volgende geveg sy kans sal kry om Billy Joe Saunders, die WBO middelgewigwêreldkampioen van Brittanje, uit te daag, is 'n ope vraag.

Volgens vegknoper Nestor Tobias, stigter en voorsitter van die MTC Nestor Sunshine Tobias Boks-akademie, sal Kautondokwa moontlik volgende teen Saunders te staan kom indien hy teen Mwankemwa wen.

In die hoofvoorgeveg kry Mike Shonena teen Juma Waiswa van Uganda die kans om vir die WBO Afrika weltergewigtitel te boks. Die 29-jarige Shonena het tien gevegte agter die rug waarvan hy almal gewen het. Die Ugandees wat elf gevegte op sy getuigskrif het, sal vir die eerste keer in sy loopbaan buite sy land veg.

Die program (al die boksers is van Namibië tensy anders aangedui):

1. Junior middelgewig (4 rondes): Max Iipinge (1 geveg, 1 verloor) teen Joseph Nghishongwa (professionele debuut).

2. Kapokgewig (4 rondes): Andreas Amupolo (2W, 1L) tn NOG Een.

3. Liggewig (4 rondes): Harry Simon junior (2W) tn NOG Een.

4. Weltergewig (4 rondes): Charles Shimima (2W) tn December Nuuyoma (2W, 2L).

5. Vlieggewig (4 rondes): Jacob Jacob (5W, 1L) tn Salatiel Moses (1L).

6. Nasionale weltergewigtitel (10 rondes): Emmanuel Mungandjela (9W, 3L) tn Steven Shimbonde (7W, 4L).

7. Internasionale middelgewig (6 rondes): Paulinus Paulus (6W) tn Silas Mandeya van Zimbabwe (5W, 5L, 1D).

8. Nasionale veergewigtitel (10 rondes): Onesmus Nekundi (8W, 3L, 2D) tn Kennedy Imalwa (3W, 3L, 1D).

9. WBO Afrika weltergewigtitel (12 rondes): Mike Shonena (10W) tn Juma Waisa van Uganda (10W, 1L).

10. WBO Afrika middelgewigtitel (12 rondes): Walter Kautondokwa (15W) tn Meshack Mwankemwa van Tanzanië (17W, 3L, 2D).

Kaartjies vir die toernooi kos N$200 vir gewone sitplekke, terwyl belangrike persone 'n tafel vir tien mense teen N$10 000 by Computicket, Antonio's Shop in Post Street Mall of by die Windhoek Buiteklub se ontvangs kan koop.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!