Vervoerders wil staak

Die vervoerbedryf sê bevoegde mense met kennis van logistiek moet by padblokkades ontplooi word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Ondanks 'n suksesvolle vergadering Sondagmiddag tussen 19 ministers en afgevaardigdes van die vervoer- en logistieksektor oor oponthoude by padblokkades wat vragverkeer vir ure vertraag, het probleme gister voortgeduur.

Teen laat gistermiddag het al meer gefrustreerde operateurs op die Transport Comms Lockdown Whats­App-groep voorgestel vervoermaat­skappye haal hul lorries van die pad af en hou op om noodsaaklike goedere en produkte tussen Suid-Afrika en Namibië te vervoer.

Dit lyk of die owerhede by padblokkades lorriedrywers terroriseer en die gevolg gaan wees dat drywers staak en nie verder vrag vervoer nie, het ene Sakkie op die groep gesê.

“Ek is jammer, maar ons owerhede is onbevoeg om die situasie te hanteer,” het 'n ander operateur bygevoeg.

In 'n stadium het meer as 30 vragmotors by die padblokkade by Seeis gewag om toegelaat te word om na Windhoek te ry.

'n Video is later geplaas wat wys hoe nege vragmotors onder polisie­begeleiding na die hoofstad op pad is.

Vragmotors op pad na die Noorde het ook by die padblokkade buite ­Okahandja opgehoop.

“Die rede is dat ons moet wag om geskandeer te word. Dit is verstaanbaar, maar ons verloor omtrent 'n dag in die proses,” het mnr. Willie van Zyl gesê met verwysing na lorries wat gisteroggend vroeg met vrag uit Windhoek vertrek het, en teen gistermiddag steeds by Okahandja opgehou is.

Mnr. Harald Schmidt, sekretaris-­generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA), wat die ­ministeriële vergadering Sondag saam met mnr. Markus van der Merwe, ­besturende direkteur van Imperial Logistics, bygewoon het, sê die ministers het saamgestem vervoer is 'n noodsaaklike diens en dit is van kritieke belang dat dit ongehinderd moet voortgaan.

Volgens hulle was die probleme wat Saterdag en Sondag ondervind is die gevolg van swak kommunikasie en teenstrydige interpretasies van die inperkingsmaatreëls.

Daar is ooreengekom dat die bestuurders van Namibiese vrag­motors wat vrag uit Suid-Afrika bring by grensposte geskandeer word. 'n Permit word aan hulle ­uitgereik wat hulle toelaat om ongehinderd te ry tot by die plek waar vrag afgelaai word.

As die vragmotor nie dadelik kan terugdraai nie, kan die drywer nie huis toe gaan nie. Hy moet na 'n plek van kwarantyn gaan tot die vragmotor weer vertrek,” het Van der Merwe tydens die vergadering aan operateurs op die groep gesê.

Lorriedrywers kan na die regering se plekke van kwarantyn gaan, of vervoermaatskappye kan by hul depots kwarantyngeriewe volgens die voorgeskrewe gesondheid­standaarde vir hul drywers inrig.

Van der Merwe sê verder is ooreengekom binnelandse ­vragverkeer van noodsaaklike goedere moet ongehinderd geskied sodra die nodige permit by die ministerie van industrialisering en handel verkry is.

Schmidt sê die “bestuurstyl” van die weermag- en polisiebeamptes by padblokkades en ­gebrekkige ­inligting oor hoe die inperkingsmaatreëls geïmplementeer moet word, veroorsaak probleme.

Hy het in 'n verslag na afloop van Sondag se vergadering gesê die ­situasie het onhoudbaar geword.

“Dit verhoog die vervoerkoste en veroorsaak vrees en onsekerheid by drywers.”

Volgens hom het die NLA aanbeveel bevoegde mense met kennis van logistiek moet by die padblokkades ontplooi word om die inperkingsmaatreëls toe te pas.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!