Vervoerkommissie in 'n doodloopstraat
Weens die kommissie se bedrywighede wat gestaak is, is daar tans tien hangende aansoeke wat nie afgehandel kan word nie.
Mathias Haufiku – Byna ses maande nadat die Vervoerkommissie van Namibië gestig is, is alle bedrywighede gestaak weens besware wat geopper is oor die geskiktheid van die voorsitter, me. Rachel Nathaniel-Koch, om in dié posisie te dien.
Die kommissie is verantwoordelik vir die regulering van die vervoerbedryf, wat onder meer die uitreiking van lugdienslisensies in die lugvaartbedryf insluit.
Weens die staking van bedrywighede is daar tans tien hangende aansoeke wat nie afgehandel kan word nie.
Die ministerie van werke en vervoer voer egter aan dat maatreëls wel in plek is om te verseker dat die kommissie se afwesigheid nie die regulering van die vervoerbedryf benadeel nie.
Die Wet op die Padverkeer en Vervoer, nr. 22 van 1999, vereis dat die voorsitter 'n toegelate regspraktisyn moet wees wat vir minstens vyf jaar gepraktiseer het.
Republikein het verlede maand berig die Prokureursorde het aangedui dat Nathaniel-Koch se naam nie op die databasis van gesertifiseerde regspraktisyns verskyn nie.
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het Sondag tydens 'n mediakonferensie kommer uitgespreek oor die traagheid van die kommissie.
GEEN VERGADERINGS
Hoewel daar geen twyfel oor die geldigheid van die kommissie se ander lede – adv. James Diedericks (ondervoorsitter), mnr. Mapuku Thikusho, dr. Helvi Petrus en mnr. Joe Shipepe – bestaan nie, kan hulle nie vergader nie, want volgens wetgewing kan slegs die voorsitter vergaderings belê.
“Die prokureur-generaal is tans besig om die regsadvies af te handel. Die vraag is of die ondervoorsitter gemagtig is om geldige vergaderings te belê,” het Mutorwa gesê.
Die kommissie kan slegs met vier lede vergader onder aanvoering van die ondervoorsitter.
Volgens 'n bron in die lugvaartbedryf is daar aansoeke deur operateurs oor kwessies rakende lugdienslisensies wat die kommissie moet hanteer.
SERTIFIKAAT VAN UITSLUITING
Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, het verneem dat die adjunk- uitvoerende direkteur in die ministerie se departement vervoer, mnr. Jonas Sheelongo, verlede maand 'n sertifikaat van uitsluiting ontvang het wat op 21 Mei 2013 deur die destydse minister van justisie, mnr. Utoni Nujoma, uitgereik is.
In die sertifikaat verklaar Nujoma dat Nathaniel-Koch vrygestel is van artikel 5(1)(cA)(i)(aa) van die Wet op Regspraktisyns van 1995, aangesien sy vir 'n tydperk van vyf jaar “'n bevredigende diens” aan die regering by die Regshulpraad gelewer het.
Mutorwa het Nathaniel-Koch tot 15 Maart 2021 kans gegee om haar kwessies met die owerhede op te klaar, of anders loop sy die risiko om vervang te word.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie