Vervoerstaking: u2018Geen rede tot panieku2019
Vervoerstaking: u2018Geen rede tot panieku2019

Vervoerstaking: ‘Geen rede tot paniek’

Namibiese vragvervoerders monitor die staking in Suid-Afrika, maar vrees nie tans vir die veiligheid van drywers nie.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Daar is niks om oor paniekering te wees nie. Ons monitor die situasie baie, baie streng.”

Dit was gister die woorde van mnr. Willie du Toit, voorsitter van die Namibië Logistiekverening (NLA), oor die vervoerstaking wat vir gister en vandag in Suid-Afrika afgekondig is en dreigemente van geweld wat teen vragmotor- en busbestuurders uit buurlande gemaak is.

Dit volg ná toenemende ongelukkigheid oor die indiensneming van buitelanders deur Suid-Afrikaanse vragvervoerders.

Du Toit, besturende direkteur van die FP du Toit Transport-groep, sê hoewel dié groep met sy 560 vragmotors bekommerd is oor die dreigemente, gaan hulle voort soos normaal.” Die maatskappye in die groep sluit Wesbank Transport, Pro Parcel Distribution en JET.X Couriers in.

“Ons vragmotors is onder voortdurende satellietmonitering en ons 24 uur-beheerkamer in Johannesburg stuur kort-kort statusboodskappe uit,” het hy gister gesê.

Hy sê die NLA is verder ook in gesprek met die Suid-Afrikaanse Padvragvereniging (RFA) en ontvang gereeld nuwe inligting oor die gebeure in die buurland.

Volgens hom sal Namibiese vragvervoerders die situasie fyn monitor en dadelik hul vragmotors van die paaie in Suid-Afrika onttrek as bestuurders se veiligheid bedreig word.

“Ongelukkig het daar stemboodskappe uitgegaan wat nie op feite gegrond is nie. Ons (NLA) het vir ons lede gesê elkeen moet vir homself besluit of hy sy vragmotors van die pad af gaan haal of nie,” sê Du Toit.

Intussen het die Internasionale Oorgrenshandelsvereniging (ICTA) die Suid-Afrikaanse regering Vrydag versoek om buitelandse bus- en vragmotorbestuurders te beskerm wat deur hul Suid-Afrikaanse eweknieë gedreig word.

Die ICTA se president, mnr. Denis Juru, het in Pretoria aan die Afrika-nuusagentskap (ANA) gesê dié vereniging het die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku om buitelanders in Suid-Afrika te beskerm.

“Ons het voorheen gesien hoe buitelanders doodgemaak, aangerand en gedreig word sonder dat ’n enkele persoon daarvoor gearresteer of vervolg is. Suid-Afrika is nie ’n eiland in die hemel nie. Die regering moet die regte van buitelanders respekteer,” het hy volgens ANA gesê.

Dieselfde nuusagentskap het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Vervoerwerkersvakbond (Satawu) het hom van die staking gedistansieer.

“Nuus oor ’n landswye straking in die bedryf het wyd gesirkuleer. Ons weet egter nie wat die oorsprong daarvan is nie, want nie een van die erkende vakbonde in die Nasionale Bedingingsraad vir die Padvrag- en Logistiekbedryf het dit belê nie,” het Satawu se mediabeampte, me. Zanele Sabela, volgens ANA gesê.

Namibië se minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het gister by navraag gesê hy was die week uitstedig en hoewel hy bewus is van die beplande staking, beskik hy nie oor nader inligting nie.

“Ek was nog nie met my Suid-Afrikaanse ampsgenoot (mnr. Fikile Mbalula) in gesprek nie.”

Mutorwa sal na verwagting vandag amptelik reageer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer