Vetsmeer Stormers se voorland
Vetsmeer Stormers se voorland

Vetsmeer Stormers se voorland

Rugby
Stephen Nell

As ’n span só goed daarmee is om ’n wedstryd weg te smyt soos die Stormers Saterdag in Sydney teen die Waratahs gedoen het, is dit bitter moeilik om te sien hoe hy die Crusaders in Christchurch gaan klop.

Boonop is die Stormers onseker oor hul voorkeur-losskakel, Damian Willemse, se fiksheid, en ontbreek hulle duidelik aan diepte in sleutelposisies. Dít was veral duidelik in die laaste ses minute van die wedstryd toe die Kapenaars drie keer van vaste fasette die geleentheid verbrou het om druk te verlig.

Twee van die plaasvervanger-haker, Dean Muir, se ingooie was bo-oor die lynstaan sonder dat iemand vir die bal gespring het. Die tweede het uitgeloop op die flank Ned Hanigan se wendrie in die Waratahs se sege van 34-27. Daar was ook ’n skrum in die 79ste minuut waar die Stormers ’n vaskop afgestaan het. Dít nadat hulle die Waratahs die hele wedstryd oorhoops geskrum het.

“Ons het die skrums oorheers en ek is verras dat ons daardie bal verloor het. Ek weet nie hoe dit aan die Waratahs se kant uitgekom het nie. Ons moes dalk meer beloning vir ons goeie skrumwerk gekry het. Ons het die skrums in ons visier gehad, want ons het gevoel die Waratahs is nie goed genoeg daar nie,” sê die Stormers se afrigter, Robbie Fleck.

As die fout by die lynstane by Muir gelê het, is die enigste moontlike oplossing Saterdag om vir Ramone Samuels langer op die veld te hou. Die Springbok-haker Bongi Mbonambi sterk aan ná ’n blindederm-operasie, en die ervare Scarra Ntubeni is op die krukkelys.

Mbonambi behoort eersdaags weer fiks te wees. Tot dan is dit ’n geval van vasbyt, want daar is nie ander hakers van Superrugby-gehalte in die Westelike Provinsie se spens nie. As Willemse nie kan speel nie, sal George Whitehead waarskynlik die Stormers se nr. 10-trui dra. Whitehead is ’n leenspeler van Griekwas en nie naastenby van dieselfde gehalte as sy verwagte regstreekse teenstander vir Saterdag, Richie Mo’unga, nie.

Fleck put darem vertroue uit die goeie dinge wat sy span Saterdag gedoen het.

“Ons was goed in die skrums en by die afbreekpunte. Ek het ook gedink ons opskietverdediging was uitstekend en ons het hulle daarmee onder baie druk geplaas. Ons het ’n paar keer besit omgekeer. Ek is tevrede met hoe ons verdedigingstelsel ontwikkel. Ons het dit nodig, want in Nieu-Seeland sal daar in daardie afdeling van die spel uitdagings wees,” sê die breier.

Die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, meen die les wat uit die wedstryd gehaal kan word, is om meer doeltreffend uit hul gebied te kom. Dit bring ons terug by daardie verbroude lynstane en skrum.

“Dis dinge wat ons kan regstel, maar ook dinge wat nie verkeerd behoort te loop nie,” sê Kolisi. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!