Vetsug: leefstyl of gene?

Gerine Hoff
Henriette Lamprecht – Die voorkoms van vetsug onder veral kinders en tieners is besig om drasties toe te neem, met statistieke wat daarop dui dat tussen 17 en 27% van tieners oorgewig is. Republikein het by Celia Leibbrandt (BSc in Dieetkunde (US), Paediatric Dietetic Modules [Accredited Masters Modules of the British Dietetic Association Paediatric Group and Plymouth University, UK]) gaan kers opsteek om agter die kap van die byl te kom.
Wat is vetsug?
Vetsug is soos ondergewig, ’n vorm van verkeerde voeding. Dit word gedefinieer as die vlak waar liggaamsvet skadelik vir ’n persoon se gesondheid kan wees. Beide oorgewig en vetsug word geklassifiseer deur middel van die LMI (liggaamsmassa-indeks, beter bekend as die BMI = Body Mass Index), ’n skaal wat die gesonde, oorgewig- en vetsugspektrums identifiseer.
Die LMI-spektrums vir kinders neem ook die ontwikkelingsouderdom en geslag in ag. ’n Kind is oorgewig of vetsugtig wanneer sy/ haar LMI die gesonde spektrum vir sy/haar ouderdom en ontwikkelingstadium oorskry.
Is die voorkoms van vetsug onder kinders in Namibië ’n probleem?
Die vetsug-epidemie onder ons kinders en tieners veroorsaak groot kommer vir kenners. Statistieke van Amerika, Australië en Engeland (VK) raak al hoe meer vreesaanjaend. Soek ’n mens na statistieke, dui verskillende lande se syfers daarop dat byvoorbeeld tussen 17-27% van tieners oorgewig is. Wat meer is, is navorsing het bevind dat die meeste kinders nie oorgewig is weens ’n mediese probleem nie, maar as gevolg van hul lewenstyl.
Kom dit in ’n sekere ouderdomsgroep voor en waarom?
Oorgewig en vetsug is meer algemeen onder volwassenes as kinders. Die probleem is dat eetgewoontes en gesonde lewenstyl in die kinderjare vasgelê word. Data verkry van Amerika en die VK stem feitlik ooreen en dui op baie dieselfde neiging. Tot en met vyf jaar is ongeveer 9 tot 10% vetsugtig en tussen 20 tot 25% oorgewig. Met die aanvang van die tienerjare, verhoog die syfers na 19 tot 33%.
In Engeland is in 2014 bevind meer as 58% van vroue en 64% van mans is oorgewig of vetsugtig. In Amerika is meer as twee derdes van die bevolking oorgewig of vetsugtig.
Wat is die grootste oorsaak van vetsug onder kinders?
Oorgewig en vetsug is die gevolg van ’n energiewanbalans. Die liggaam benodig ’n sekere hoeveelheid energie (kalorieë of kilojoules) uit kos om die basiese lewensfunksies te verrig. Liggaamsgewig bly min of meer dieselfde wanneer die hoeveelheid energie wat ingeneem word, dieselfde is as die energie wat verbruik word. Wanneer kinders of volwassenes oor ’n tydperk meer eet en drink as die energie wat verbruik word, tel ’n mens gewig op wat uiteindelik tot oorgewig of obesiteit lei.
Baie faktore kan hiertoe aanleiding gee. Hoewel genetika ’n rol speel, is die rol van gesonde eetgewoontes en ’n aktiewe lewenstyl meer bepalende faktore. Waar mense bly, hul gesindheid teenoor kos asook hulle verhouding met kos, leefstylgewoontes en inkomste speel ook ’n rol. Ouers het ’n verantwoordelikheid teenoor kinders om ’n gesonde lewenstyl te kweek en hulle aan te moedig om ’n gebalanseerde verhouding met kos te hê om sodoende ’n goeie lewenskwaliteit te verseker en die risiko van siektes van lewenstyl te verminder.
Wat is die gesondheidsrisiko’s van oorgewig en vetsug?
• Tipe 2 Diabetes Mellitus
• Kardiovaskulêre siektes en beroerte
• Hoë bloeddruk
• Nie-alkoholiese vettige lewersiekte (oormaat vet wat in die lewer van oorgewig en vetsugtige mense infiltreer sonder dat hul enigsins alkohol of min alkohol gebruik)
• Osteo-artritis (pyn, swelling en styfheid van die gewrigte)
Sommige tipes kanker (borskanker, kolonkanker, endometriale en nierkanker)
Wat kan ouers doen om kinders van jongs af gesonde eetgewoontes aan te leer?
Bevorder gesonde eetgewoontes in die huis.
Kinders is meer geneig om gesonde eetgewoontes te ontwikkel as hulle by die huis kan kies uit ’n verskeidenheid gesonde kos. Probeer dus om gesonde kos op jou inkopielys te hê en berei gesonde maaltye en peuselhappies vir die hele gesin voor. Dit sal help om minder van die ongesonde sondaars (soos pakkies skyfies, lekkers, gaskoeldranke, soet koekies en sjokolade) in die kas te hê. Sodoende hoef niemand polisieman te speel nie!
Vestig ’n gesonde eet-roetine.
Om gesond te eet, gaan nie net oor koskeuses nie, dit is net so belangrik om gesonde kos op ’n gereelde, voorspelbare basis te eet. Dit is daarom belangrik om ontbyt te eet; om gereelde maaltye en tussenvoedings (peuselhappies) deur die dag te eet; om maaltye as ’n gesin om die tafel te eet eerder as voor die televisie; laat genoeg tyd toe sodat maaltye in ’n ontspanne en rustige atmosfeer geniet kan word.
Moenie van ‘slegte kos’ praat of alle lekkers en gunsteling peuselhappies heeltemal uitskakel nie.
Kinders is dan geneig om te ooreet aan hierdie kosse wanneer jy as ouer nie by is om te keer nie. Onderskei tussen “elke dag kos” (die gesonde kos wat ons altyd kan eet) en “partykeer kos’(die ongesonder kos wat ons net per geleentheid mag eet). Prys kinders wanneer hul ’n gesonde voedsel kies en benadruk die voordele van gesonde eetgewoontes. Probeer om nie te baklei oor kos nie.
Ontwikkel ’n aktiewe lewenstyl as familie.
Dit is nie nodig om heeltyd strawwe oefeninge te doen nie, maar maak oefening ’n deel van die familie se daaglike roetine wat almal geniet. Dit sluit in om skool toe en terug te stap, bal te gaan skop, die trappe te gebruik pleks van die hysbak of roltrappe en ’n wandeling saam met die hele gesin. Die aanbevole aktiwiteit vir kinders is 60 minute van matige tot hoë aktiwiteit per dag.
Beperk lae-energie aktiwiteite.
Beperk televisie-kyk en rekenaarspeletjies tot een of maksimum twee ure per dag. Probeer om nie te veel aandag te vestig op u kind se gewig nie, dit kan lei tot ’n swak selfbeeld en gebrek aan selfvertroue. Onthou om as ouer ’n goeie voorbeeld te stel deur ’n aktiewe lewenstyl en gesonde eetgewoontes te volg.
Hoe gemaak met kinderpartytjies?
Om lekker te eet en fees te vier, is deel van ons kultuur. Niemand doen dit egter elke dag nie. Dit is goed om een keer per week ’n bederfkos te eet, maar kinders moet geleer word dat hulle dit in matigheid moet doen. Ouers is meer bewus van wat gesond is en ons kan almal help deur nie soveel massas lekkers, skyfies en suikerryke koeldrank by partytjies te hê nie. Sorg dat water of ystee wat nie so soet is nie, beskikbaar is. Vervang skyfies met springmielies of pretzels. Dit is nie nodig om berge lekkers daar te hê nie, net genoeg vir elke kind om bietjie bederf te voel.
Watter emosionele of sielkundige invloed het vetsug op kinders en onder meer hul verhouding met vriende?
Obesiteit tydens die kinder- en tienerjare kan ernstige gevolge vir ons welstand en gesondheid inhou. Buiten die siektes van ’n swak leefstyl, kan dit emosionele en maatskaplike probleme veroorsaak en wat terg en afknou, swak selfbeeld, verwronge liggaamsbeeld, eetversteurings en depressie insluit. Dit kan weer lei tot kinders wat ongelukkig is in hul skool, tussen hul maatjies en gevolglik onderpresteer.
Wenke vir ’n gesonde lewenstyl/happies vir kinders
• Eet gereelde maaltye met ’n gesonde tussenvoeding.
Gesonde tussenvoedings kan ’n volgraan muffin, vrug, laevet jogurt, ’n glasie melk, volgraan beskuitjie bv. Provita of rogbeskuitjie, “lite Jungle Energy Bar” of ander ontbytstafies, laevet springmielies of onversoete droëvrugte insluit. Jou kind sal op die lange duur meer volhoubare energievlakke hê en beter kan konsentreer. Dis belangrik dat hulle verstaan waarom ’n kosblik ’n bruin of volgraan toebroodjie, vrug en water, eerder as ’n pastei en ’n gaskoeldrank moet bevat. Dit is nie nodig om alle lekkers en ander bederfhappies uit te sluit nie. Een tot twee keer per week in matige hoeveelhede is toelaatbaar. Lekkers, sjokolade, koek en ander soet versnaperinge is daar vir bederf en plesier, maar nie vir elke dag se tussenvoedings om hongerpyne te stil nie.
• Maak komplekse koolhidrate die basis van elke ete.
• Sluit groente ten minste by een ete per dag in.
• Drink meer water en probeer suikerryke koeldrank uitsluit.
• Verminder vetinname:
Gebruik laevet of afgeroomde melk in die plek van volroom. Verwyder alle sigbare vet van vleis en die vel van die hoender. Bak, rooster, stoom of kook eerder. Gebruik eerder margarien as botter. Vermy om ekstra vet by kos te voeg. Eet minder rooivleis en meer hoender en vis. Verminder inname van verfynde koolhidrate.
• Probeer gesonde keuses maak: Vrugte in die plek van lekkers, tuisgemaakte kos in die plek van verwerkte kos en wegneemetes. Gesonde gaarmaak metodes. Kies eerder komplekse koolhidrate soos volgraan, vrugte, groente en min verfynde koolhidrate soos lekkers, skyfies, koek, koekies, witbrood en versoete kitspappe wat laag is in vesel.
• Hou in gedagte dat porsiegroottes nie te groot moet wees nie.
Die porsie van proteïene by die hoofmaaltyd moet min of meer so groot wees soos die individu se eie handpalm. Die styselporsie moet so groot soos die individu se vuis wees of tussen ½ en ¾ koppie vol. Die porsie van een vrug moet die grootte van ’n tennisbal of twee gholfballe wees.
Dis van kardinale belang dat ons probeer om ons kinders te leer om gesond te leef in plaas daarvan om bv. ter voorbereiding van vakansies of ’n sekere seisoen op diëte te gaan. Die geheim is om die meeste van die tyd die regte, gesonde voedselkeuses te maak en nou en dan jouself te bederf terwyl matigheid voor oë gehou word.
Wat is ’n eetstoornis?
Eetstoornisse is ernstige stoornis in dieetgedrag wat ’n negatiewe invloed het op gesondheid, emosies en die vermoë om in belangrike gebiede van ’n mens se lewe op ’n optimale vlak te kan funksioneer.
Wat is die verskillende eetstoornisse?
Die algemeenste eetstoornisse is anoreksie, bulimie en “binge eating disorder”.
([email protected]; [email protected])

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!