Vettel klim van Ferrari-perd af
Vettel klim van Ferrari-perd af

Vettel klim van Ferrari-perd af

Motorsport
Ná vyf jaar en 14 oorwinnings vir Ferrari het Sebastian Vettel besluit om die Pronkende Perd die rug toe te keer.
Ferrari het Dinsdagoggend aangekondig Vettel, ’n viermalige F1-wêreldkampioen, sal ná die 2020-seisoen nie meer vir hulle jaag nie, omdat kontrak-onderhandelings ’n dooiepunt bereik het.
“Dis ’n besluit wat ons en Sebastian saam geneem het,” het die Ferrari-spanbaas, Mattia Binotto, in ’n verklaring gesê. “Albei partye voel dis beter so.”
Vettel het in die verklaring gesê sy en Ferrari se paaie skei nie weens finansiële oorwegings nie.
“Ek en die span het besef ons het nie meer ’n gesamentlike begeerte om ná hierdie seisoen saam te werk nie,” het hy gesê.
“Finansiële oorwegings het geen rol in hierdie gesamentlike besluit gespeel nie. Dis nie hoe ek besluite neem nie en dit sal nooit wees nie.”
Die groter dryfveer, het hy aangedui, is eerder die gedwonge opskorting van Formule Een en alle ander sport weens die Covid-19-pandemie.
“Wat die laaste paar maande gebeur het, het baie van ons laat nadink oor ons ware prioriteite in die lewe.
“’n Mens moet jou verbeelding gebruik en ’n nuwe benadering volg wanneer ’n situasie verander het. Ek sal nou tyd opsy sit om te dink aan wat regtig saakmaak wat my toekoms aanbetref,” het hy gesê.
Volgens Reuters berig die Duitse media dat Vettel nie die bepalings wou aanvaar wat Ferrari hom aangebied het nie. Vroeër het Italië se Gazetta dello Sport-koerant berig dat Vettel ’n verlenging van een jaar op sy kontrak aangebied is – met ’n kleiner salaris.
Die Duitser, wat tussen 2010 en 2013 as Red Bull-jaer vier wêreldtitels gewen het, het verlede maand nog gesê hy sou voor die begin van die seisoen (wat weens die pandemie tans nog opgeskort is) ’n nuwe kontrak hê. Nou is daar onsekerheid oor sy span vir 2021.
Ferrari het volgehou Vettel is hul eerste keuse om saam met Monaco se Charles Leclerc vir die Scuderia te jaag, maar moet nou ’n nuwe maat vir die jongeling kry.
Leclerc is net 22, maar het verlede jaar twee renne gewen en is tot 2024 by Ferrari gekontrakteer. Daar is nooit reguit gesê wie Ferrari as sy nr. 1-jaer beskou nie, al het die melkbaard in 2019 meer punte, podium-uitslae en seges as Vettel behaal.
Die Aussie Daniel Ricciardo en Spanjaard Carlos Sainz is glo in die binnebaan om Vettel te vervang.
Die sesmalige wêreldkampioen Lewis Hamilton is ook vroeër met Ferrari verbind, maar het sedertdien gesê hy wil by Mercedes bly. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!