Via kry agt nuwe programme in April

Vrydae is daar ’n rits nuwe lekkertes wat op jou wag. ’n Opwindende kompetisieprogram, Kom ons Kamp, slaan op 13 April tent op as ’n splinterprogram van Via se immergewilde Kom ons Braai.

Van 13 April af is Johan Badenhorst van Voetspore-faam saam met die skrywer Johan Bakkes en die bierliefhebber Ampie Kruger op soek na die lekkerste boetiekbiere. Kom les jou Dors is op Vrydae om 20:00.

Vanaf 20 April gaan Joe Pietersen die rugbyveld prysgee om saam met sy wildbewaarder-broer Willie by mense te kuier wat hul lewe daaraan wy om kwesbare dierespesies te help red. Dít in Veldhelde, Vrydae om 17:00.

Op 20 April skop ’n kaloriebelaaide kosprogram af – Konings van Kitskos. Die vriende Gerhard Steyn en Alvin Bruinders gaan kykers na topkitskosplekke neem waar hulle dié eetplekke se kleurryke karakters en kosse beter gaan leer ken. Vrydae om 20:30.

Op die kosfront maak twee nuwe programme hul buiging. Vanaf 9 April nooi die kosdosent en kok Annelien Pienaar ons (en ’n klomp bekendes) haar kombuis binne. In die trant van haar bekende boek, Boerekos met ‘n Twist, maak sy goue gunstelinge vir hedendaagse etenstafels. Die program heet ook Boerekos met ’n Twist en is Maandae om 18:00 te sien.

Die kleurryke Marinda Engelbrecht kuier en kook vanaf 12 April ook op Via. In elke episode lê sy besoek af by ’n kombuisleek en wys hulle hoe om lag-lag ’n feesmaal met basiese bestanddele te berei. Maklik met Marinda is Donderdae om 17:30 te sien.

Vanaf 16 April gaan Edu Hanekom, die vleisghoeroe en eienaar van The Boer & Butcher-slaghuis in Durbanville, op ’n soektog na ’n vakleerling vir sy vleispaleis. Twee aspirantslagters moet hom wys wat in hulle steek. Slagmeester is Maandae om 17:30 te sien.

En dan is Via geëerd om die legendariese Coenie de Villiers met ’n splinternuwe dokuwerklikheidsprogram, Daar’s ’n plek, te verwelkom. Op dié program gaan die geliefde TV-persoonlikheid en sanger op reis vanaf 18 April en ontmoet hy die randfigure van ons samelewing - van tronkma’s tot cowboys. Woensdae om 20:00.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer