Vier kiesafdelings in kwarantyn na bek-en-klouseer
Vier kiesafdelings in kwarantyn na bek-en-klouseer

Vier kiesafdelings in kwarantyn na bek-en-klouseer

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming vra boere se samewerking om hul diere vir inenting te bring en enige tekens van bek-en-klouseer aan te meld.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - ‘n Verbod op die beweging van diere met gesplete hoewe en ongekookte vleis is op dele in die Kavango-Wes-, Ohangwena- en Oshikotostreek geplaas nadat ‘n wilde buffel in die gebied opgemerk is.

Verder mag veeveilings en tradisionele diereskoue tans nie in die gebiede plaasvind nie, terwyl alle vervoerpermitte vir vee ook gekanselleer is.

Dit is omdat buffels bekende draers van die gevreesde bek-en-klouseervirus is en ‘n groot gevaar bestaan dat die teenwoordigheid van so ‘n dier vir die verspreiding van die siekte na beeste kan sorg.

Mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur van landbou, water en grondhervorming, het in ‘n veeartseny-kennisgewing Woensdag gesê die verbod is van toepassing op spesifiek die Mpungu-, Okongo-, Nehale Lyampingana- en Eengodi-kiesafdelings.

Dit om biosekuriteit te beskerm wat noodsaaklik is vir die ekonomie asook die land se voedselsekuriteit.

Misika sê die buffel is deur ‘n lid van die publiek op 7 April by die Okashalandona-nedersetting in die Okongo-kiesafdeling in die Ohangwenastreek langs die C45-pad gesien.

“Amptenare van beide die ministeries van landbou, water en grondhervorming asook omgewing, bosbou en toerisme het die dag daarna begin om na die buffel te soek.

“Die buffel is op 11 April weer langs die C45-pad deur die amptenare naby die Omupanda-nedersetting bespeur. Dit is sowat 20 km verder van waar dit die eerste keer gesien is.

“Die buffel het deur die heining van ‘n nabygeleë plaas gebreek voor die amptenare dit geskiet, maar gekwes het,” sê Misika. Hy sê tans word daar steeds na die buffel gesoek.

Padblokkades sal opgestel word om seker te maak mense gee gehoor aan die verbod en die uitvoer van alle lewende hawe en lewendehaweprodukte van die gebiede word ook tot verdere kennis opgeskort, lui die kennisgewing.

Verder sal die gebied vir enige tekens van bek-en-klouseer onder vee gefynkam word en boere word versoek om hul diere aan beamptes te toon wanneer hulle so versoek word.

“Noodinenting teen bek-en-klouseer sal in die geraakte gebiede van stapel gestuur word en ‘n versoek word aan boere gerig om hul beeste hiervoor te bring.

“Boere en die publiek word verder versoek om, wanneer hulle enige buffels in hul gebied opmerk, dit onmiddellik by die naaste polisiekantoor, asook by veeartseny-kantore en die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme aan te meld,” lui die kennisgewing.

Verder moet boere dit ook aanmeld as hul vee enige tekens van bek-en-klouseer toon, wat insluit dat hulle blase op die neus, tong, mond en lippe het, of ook tussen hul tone of op hul spene. Blase wat bars, kan veroorsaak dat vee spoeg, kreupel loop en nie wil beweeg of eet nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!