Vier kleuters sterf oor naweek
’n Taxibestuurder op Ongwediva tel onder die vermeende vermoordes.
Tanja Bause - Die ses maande oue Aksel Fleermuis is Saterdag om 14:45 in Blok E in Rehoboth dood in sy bed gevind.
Sy ma het hom en ’n sewejarige kind na bewering alleen by die huis gelos toe sy die huis omstreeks 09:00 verlaat het.
Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die bottel met pap wat die ma in die huis agtergelaat het, opgeraak en die ouer seun het ’n nuwe bottel aangemaak.
Die baba is later met pap om sy mond dood in sy bed gevind.
Die polisieondersoek duur voort.
Saterdag om 17:00 het die eenjarige Ndapandula Festus in die Epinga-nedersetting by Eenhana in haar ma se sorg gesterf.
Sy het na wat verneem word aan ’n maroelavrug gesuig, wat in haar keel vasgesit het. Die vrug is verwyder, maar Ndapandula het kort daarná gesterf. Die polisieondersoek duur voort.
’n Twee weke oue meisie is in haar ma se arms op pad hospitaal toe dood.
Die baba het die vorige aand glo asemhalingsprobleme ervaar. Sy het Vrydag in die Kamupupu-nedersetting in die Kavango-Wesstreek gesterf en ’n nadoodse ondersoek sal volg.
Ndapewaoshali Gabriel (5) het haar huis Vrydag glo ná haar ouma en ander kinders verlaat.
Haar liggaam is Saterdag in ’n waterkanaal gevind. Die polisie ondersoek die voorval.
Verkragting
’n Man het Vrydag om 19:00 ’n 14-jarige meisie in die Oshikandanga-nedersetting in die Oshikotostreek glo verkrag.
Hy het na bewering belowe om vir haar ’n selfoon te koop voor hy op die vlug geslaan het. Die verdagte is glo ’n skoonmaker by die Gekombineerde Skool Pukulukeni en word deur die polisie gesoek.
’n Vrou (22) is na wat verneem word deur ’n onbekende man op Mariental verkrag.
Die slagoffer, haar vriende, die verdagte en sy vriende was na bewering almal van ’n sjebeen af op pad na Klub Vegas.
Die slagoffer en die verdagte het glo voor hul vriende uitgestap. Die verdagte het toe glo ’n mes uitgehaal en die slagoffer beveel om hom na ’n rivier te volg waar hy haar verkrag het.
Hy het op die vlug geslaan en niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Moord
Mnr. Lucas Michael (31) is Saterdag om 23:35 glo in sy taxi op Ongwediva doodgeskiet.
Hy het na wat verneem word by Okandjengedi van die pad af getrek sodat ’n passasier kon uitklim. ’n Skoot is gehoor en drie mans het van die taxi af gevlug. Sekuriteitswagte het na wat verneem word een van die vlugtendes in die been geskiet en hom in hegtenis geneem.
Hy was glo in die besit van ’n gelisensieerde pistool en ’n vol magasyn.
Die taxibestuurder het in die hospitaal gesterf en die verdagte is in die Oshakati-staatshospitaal onder polisiebewaking opgeneem.
Die ondersoek duur voort.
Mnr. Iswan Platt (28) se liggaam is die naweek in Blok A op Rehoboth ontdek.
Hy het glo aan ’n steekwond in sy bors gesterf. Die polisieondersoek duur voort.
Vier mans en een vrou tussen die ouderdomme van 18 en 48 het die naweek na bewering selfdood gepleeg.
Vier van die oorledenes het hulself oënskynlik gehang, en een man het homself glo met ’n pistool geskiet.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie