Vier leeus glo by Sesfontein vergiftig
Die ministerie van die omgewing en toerisme maan die reg moet nie in eie hande geneem word nie.
Francoise Steynberg - Drie mans het glo vier leeus, drie mannetjies en een wyfie, in die omgewing van Sesfontein vergiftig.
Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die drie verdagtes glo Saterdag wildsvleis met gif naby Sesfontein in die veld uitgesit. Vier leeus het die vergiftigde vleis na wat verneem word geëet en gevrek.
Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die Kunenestreek, adj.komm. Rudolf Kanyetu, is die vier volwasse leeus by Nuwepos naby Sesfontein vergiftig.
Hy sê die leeus is na sy wete nie met nekbande toegerus nie.
“Die polisie het die voetspore gevolg wat na ’n huis gelei het waar sebra- en gemsbokvleis weggesteek is,” lui die misdaadverslag.
“Die skoene is ook gevind wat by die voetspore op die misdaadtoneel pas.”
Die polisie het drie mans in hegtenis geneem. Hulle sal van die onwettige jag van spesiaal beskermde wild, vergiftiging, die onwettige besit van beheerde wildprodukte en dwarsboming van die gereg aangekla word.
Die verdagtes verskyn vandag in die landdroshof op Opuwo.
MINISTERIE REAGEER
Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het die voorval gister bevestig.
“Dit is ’n ongelukkige voorval en die ministerie veroordeel dit. Ons herhaal ons pleidooi dat boere en lede van die publiek hulle moet weerhou daarvan om die reg in eie hande te neem,” het Muyunda gemaan.
Hy sê die ondersoek in die saak duur voort “en dit is ons hoop dat die gereg sy verloop sal neem”.
Volgens ’n mens-dier-konflikverslag van mnr. Richard Fryer, hoofbewaringsbeampte van wildondersteuningsdienste in die ministerie van die omgewing en toerisme, het leeus tussen 2017 en 2019 drie mense in die Kunenestreek in aanvalle beseer.
“Leeus het nie in dié tydperk tot enige lewensverliese in dié streek gelei nie. Die mees onlangse voorval in Januarie is ’n seuntjie wat in die Kunenerivier deur ’n krokodil gevang is,” sê Fryer. Hy sê hy het nie daarna enige ander verslae van mens-dier-konflikvoorvalle uit dié streek ontvang nie.
Kanyetu het ook gesê voorvalle van mens-dier-konflik kom nie meer gereeld in die gebied voor nie, dus het die vergiftiging van leeus nie onlangs plaasgevind nie.
Mnr. Izak Smit van Desert Lions Human Relations Aid (Dehlra), wat krale in die Noordweste oprig om vee teen roofdiere te beskerm, het gister gesê Nuwepos het onlangs ses beeste weens leeu-aanvalle verloor.
“Boere laat wei hul beeste in die gebied vir noodweiding in die droogte. Hulle het ook geen beskermde krale waar hulle hul vee snags aanhou nie,” het Smit gesê.
“Die leeus is nie met nekbande toegerus nie en daar is geen vroeë waarskuwingstelsels nie.”
Volgens hom is 18 leeus tussen 2014 en 2018 vergiftig.
Van die Vyf Musketiers, die woestynaangepaste leeumannetjies in die bekroonde dokumentêre rolprent Vanishing Kings, is ook vergiftig.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie