Vier meisies verkrag
Vier meisies verkrag

Vier meisies verkrag

Francoise Steynberg
Drie meisies (9, 12 en 16) is die feestyd verkrag en ‘n elfjarige meisie is tussen Junie en Desember glo herhaaldelik deur drie mans verkrag.


Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die elfjarige meisie op verskeie geleenthede deur drie mans (48, 57 en 76) in die Blok E-woonbuurt op Rehoboth verkrag.

Al drie verdagtes is in hegtenis geneem en die polisieondersoek duur voort.

Op Kersdag in die Ndama-nedersetting agter NamPower by Rundu is ‘n 16-jarige meisie glo deur twee mans (18 en 26) verkrag.

“Na bewering het die verdagtes om middernag die meisies in ‘n kamer ingesleep en verkag,” sê die polisie.

Die verdagtes is in hegtenis geneem.

Ook op Kersdag is ‘n negejarige meisie glo deur ‘n 41-jarige Zambiese man in die likunganelo-nedersetting in die Lisikili-gebied naby Katima Mulilo verkrag.

“Na bewering was die meisie omstreeks 20:00 op pad na haar oupa toe toe die man haar geroep het. Die verdagte is in hegtenis geneem en die ondersoek duur voort,” sê die polisie.

‘n Twaalfjarige meisie is Saterdag omstreeks 08:00 in die bosse agter die Otjikoto Senior Sekondêre Skool op Tsumeb glo deur ‘n onbekende man met ‘n panga verkrag.

“Na bewering het die slagoffer en haar sibbe gaan hout haal toe die onbekende man hulle nader en met ‘n panga begin dreig en jaag. Hy het die 12-jarige gevang en verkrag,” sê die polisie.

“Die slagoffer is deur haar ouers gered nadat die ander kinders huis toe gehardloop om hulle te roep.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer