Vier Namibiu00eb se erfenis diu00e9 week
Vier Namibiu00eb se erfenis diu00e9 week

Vier Namibië se erfenis dié week

Namibiërs word uitgenooi om 'n verskeidenheid geleenthede by te woon, tradisionele drag aan te trek of om 'n Namibiese dis voor te berei.
Francoise Steynberg
Vandeesweek word Namibiese Erfenisweek oral in die land gevier met die tema “Ons is saam hierin”.

Volgens die Museumvereniging van Namibië is dit 'n geleentheid vir Namibiërs in al 14 streke om deel te hê aan die land se natuurlike en kulturele erfenis wat 'n belangrike rol in nasiebou en eenheid speel.

Die viering van Namibië se kultuur, erfenis en kuns deur verskeie uitstallings, kulturele tentoonstellings, debatte, kulturele staptogte en 'n tradisionele voedselfees het gister reeds afgeskop en sal tot Sondag voortduur.

Namibiese Erfenisweek is gisteraand amptelik by die Onafhank­likheidsmuseum in die hoofstad geopen en ­Namibiërs word uitgenooi om vandeesweek tradisionele kleredrag aan te trek of een eg Namibiese dis voor te berei. Die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), 'n entoesiastiese en toegewyde vennoot van Namibiese Erfenisweek, sê afgesien van Namibië se mooi landskappe en ryk wildlewe, bied Namibië se kulturele erfenis 'n mededingende voordeel bo ander toeriste­bestemmings in die streek.

“Die tema vir Namibiese Erfenisweek pas perfek by die gees van toerisme in ons pragtige land,” sê die uitvoerende hoof van HAN, me. Gitta Paetzold.

“Alle geleenthede tydens Erfenisweek - van kunsuitstallings tot studentedebatte - is gerig op die publiek se bewustheid oor die uniekheid en waarde van Namibië se kuns, kultuur en erfenis. Dit is iets wat ons as mense van hierdie mooi land verenig.”

Paetzold sê HAN is opgewonde en trots daarop om betrokke te wees by die Namibiese Erfenisweek sodat Namibië se mees unieke kuns, kultuur en erfenis bevorder kan word.

“Ons sien uit daarna dat toeriste die kulturele diversiteit van ons land kan geniet, en na hoe Namibiërs die verskeidenheid van kulture, talente en geskiedenis wat ons as mense van die land verenig, respekteer en vier,” het sy gesê.

Volgens Paetzold is die fokus van Wêreldtoerismedag, wat op 27 September gevier word, vanjaar die waarde van kuns, kultuur en erfenis as sleutelaantreklikheid vir toeriste in Namibië.

Die ministerie van die omgewing en toerisme sal Wêreldtoerismedag tydens 'n reeks geleent­hede tussen 22 en 27 September vier met die tema “Toerisme begin by die huis”.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer