Vier olifantjies oorleef
Vier olifantjies oorleef

Vier olifantjies oorleef

Die droogte het 'n erge impak op Namibië se woestynaangepaste olifante.
Tanja Bause
ont face="Verdana" >

Tanja Bause - Sewe woestynaangepaste olifante is sedert Januarie in die Hoanibrivier se opvangsgebied gebore waarvan drie binne ‘n week ná hul geboorte gesterf het.

Dit gaan goed met die oorblywende vier.

Volgens dr. Laura Brown, direkteur van die organisasie Desert Elephant Conservation, woon daar tans 22 olifante, waarvan twee volwasse bulle, in die Hoanib-opvangsgebied .

“Daar is slegs 11 olifante in die laer opvangsgebied van die Hoarusib, waarvan ook twee bulle is. Hulle ly erg weens die droogte. Vier matriarge het onder meer die afgelope tyd gesterf,” het sy gesê.

Op 10 Augustus het die olifantkoei Franny (F7) in die Hoarusib gevrek en haar tweejarige kalf wees gelaat.

“Ons het gehoop ’n ander olifantkoei sal die kalf aanneem omdat sy nog te klein is om op haar eie te oorleef, maar dit was nie die geval nie. Die kalf is met die toestemming van die ministerie van die omgewing en toerisme gevang en na ’n lodge naby Etosha geneem. Sy is in goeie hande en sal goed versorg word.”

Vyftien jaar gelede was daar 30 olifante in die rivier se opvangsgebied, maar nou is daar net 11 oor.

Volgens me. Christin Winter van die organisasie Elephant Human Relations Aid (Ehra) is daar 25 olifante in die Ugabrivier en -opvangsgebied.

“Hulle is drie troppe met twee bulle. Die laaste baba wat oorleef het, is in Julie 2014 in die rivier gebore.”

“In die Huabrivier en -opvangsgebied is daar 35 olifante wat in twee troppe met vyf bulle verdeel is. In die rivier doen die kalfies bietjie beter en die laaste kalf wat oorleef het, is in Mei 2018 gebore. Dié kalf doen baie goed,” het Winter gesê.

Volgens haar is daar nog ’n trop van agt olifante wat nou en dan in die Huab gesien word.

“Hulle word deur dr. Laura Brown gemonitor en ons moet nog vasstel of hulle tyd in die Huab-gebied of verder noord in die Palmwag-gebied deurbring. Dit is belangrik dat ons hulle nie twee keer tel nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer