Vier onwaarskynlike vriende
Vier onwaarskynlike vriende

Vier onwaarskynlike vriende

Tanja Bause
Tanja Bause – Hierdie is die storie van 'n ou tannie, twee jong manne en 'n hoender.

Ek weet dit klink bietjie verwarrend, maar kom ek vertel julle 'n wonderlike storie van omgee, menslikheid en egte Namibiese gees.



Tannie Betsie is al 'n groot vrou wat in 'n kompleks in Windhoek saam met haar dogter woon. Die dogter moet werk en sy kan dus nie elke dag by haar ma wees en na haar kyk nie. Nie dat tannie Betsie dit nodig het nie, want hoewel sy al hoog in jare is, is sy nog baie bedrywig in die huis en tuin. Maar enigiets kan mos maar gebeur en dit is die vrees van elke kind wat na sy of haar ouers omsien. Dít is waar die twee jong manne inkom.



Sien, hulle is veiligheidswagte wat in die kompleks werk. Hulle loop ook deur die kompleks om seker te maak alles is reg langs die heining en in die kompleks.



Kallie van Koakoland en tannie Betsie het eerste geselsies aangeknoop en vriende geword. Hy weet sy is gedurende die dag alleen by die huis en dat sy in haar tuin ploeter of op haar stoep koffie drink.

Tannie Betsie het Kallie vir tee en 'n broodjie en natuurlik geselskap op die stoep genooi. Kort voor lank was dit 'n daaglikse ritueel dat Kallie sy koerante by tannie Betsie kom haal. Dis 'n vinnige inloer, omdat Kallie nie te lank kan sit en niks doen nie, want hy moet patrollie doen. Maar elke dag as hy aan diens is, kom loer hy in.



Tannie Betsie se dogter kon met 'n geruste hart werk toe gaan, want sy het geweet Kallie sal tydens sy daaglikse rondes altyd seker maak sy “ouma” makeer niks nie. Hy het ook sy ouma se kind se nommer op sy foon en bel haar as hy klop en sy ouma maak nie die deur oop nie.

Hy draai ook vir sy ouma die stram gasbottel se kraan oop.

Op 'n dag kom stel Kallie toe vir Langman voor. Hy vertrou vir Langman met sy ouma vir wanneer hy op vakansie gaan, of dalk die dag nie daar is nie. En volgens Kallie is twee beter, want as hy besig is met rondes aan dáái kant kan Langman 'n oog op ouma dié kant hou.



Dit is nie lank nie of Langman is so goed soos Tannie Betsie se tweede seun. Ook hy kry sy tee, broodjie en geselsie wanneer hy kom inloer.



Volgens die dogter vertel tannie Betsie elke dag vir haar die nuus van die veiligheidswagte.

“My ma vertel my van Kallie se Himba-familie in die Noordweste, of dit al daar gereën het en of die leeus langs Etosha hulle pla.”



Langman vind toe uit wanneer tannie Betsie verjaar. Met haar verjaardag kom hy met 'n groot glimlag en 'n rooi henkuiken onder sy arm aangestap.

“Die hoender is vir ouma. Dit is ouma se verjaardaggeskenk. Haar naam is Kiepie. Nou het ouma altyd geselskap – ook wanneer ek en Kallie nie vir ouma kan kom besoek nie,” het Langman gesê.



Vir 'n dag of twee was tannie Betsie nie so seker oor die hoender in haar huis nie. Sy het immers honde en katte. Maar die diere het vinnig hulself ondermekaar uitgesorteer en vrede gemaak. Tannie Betsie het lief geword vir haar kleurvolle Kiepie.



Saans is Kiepie in 'n ou voëlhok toegemaak – natuurlik vir haar eie veiligheid, want tannie Betsie het die vrede tussen die kat, Terroris, en Kiepie aan die begin nie baie vertrou nie.

Maar Kiepie het haar vrou gestaan en sy het deel van die huishouding geword. Sy volg tannie Betsie oral en hulle is onafskeidbaar. Saans stap sy na die ou voëlhok wat haar slaapplek is en wag dat sy toegemaak word sodat sy kan slaap. Dit is ook nie 'n vreemde gesig om Kiepie en tannie Betsie saam in die tuin te sien ploeter en skrop nie.



Langman kom kuier nou vir sy ouma en haar hoender en maak seker beide is gesond en oukei, en Kallie, hy sal altyd haar eerste Himba-seun bly.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!