Vier oumas onthou die Ou Lokasie
Vier oumas onthou die Ou Lokasie

Vier oumas onthou die Ou Lokasie

Vier inwoners van die Ou Lokasie se gedagtes dwaal terug na hul kinderjare en hul lewens­reise daarna.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Die Ou Lokasie was 'n plek van liefde. Dit was 'n plek waar ons almal, Damaras, Basters, Herero's en 'n paar Ovambo's saamgebly het, soos een groot familie. Dit was in seksies ingedeel soos byvoorbeeld Damara 1 en Herero 2, maar Sondae het jy die borde kos van een seksie na die ander sien loop. Mense het vir mekaar kos geskep, nie omdat ons swaar gekry het nie, maar omdat die dit plek van liefde was,” het vier oumas van die Ou Lokasie uit een mond gesê.

Die oumas Dorothea Hoeses (85), Tusnelde Aribes (79), Justine Mbembe (75) en Tusnelde Kooper (65) het oor hulle lewe in die Ou Lokasie en hul lewensreise daarna gesels.



Ouma Dorothea Hoeses

Sy is op Otjiwarongo gebore en het tot standerd 1 op die dorp skoolgegaan voordat sy saam met haar oom en tannie na die Ou Lokasie getrek het.

“Hier het ek skoolgegaan van st. 2 tot st. 6, wat in ons tyd matriek was. Terwyl ons op skool was, het ons elke dag iets geleer, soos brei, naaldwerk en kleremaak,” het sy gesê.

Ná skool het sy by die Rooi Kruis se nuwe kraamkliniek begin werk.

“Daar was nie 'n kraamkliniek in die lokasie nie. Die vroue moes na die hospitaal in die dorp gaan of by die huis kraam. Twee dokters het vanaf Duitsland gekom en die Rooi Kruis-kraamkliniek gebou. Ons was van die eerstes wat daar verpleeg het, toe het die deurmekaar gekom en ons moes trek, toe is ons ook die laastes.”

Sy het geen idee hoeveel babas sy oor die jare gevang het nie, omdat die vroue daardie tyd, volgens ouma Dorothea, baie babas gehad het.

“In die aande as ons op nagskof is dan maak ons babaklere vir die wesies en vir die ma's nagrokke, kappies en togas. Wanneer die vrou inkom kry sy alles, asook 'n waslappie, handdoek en seep.

“Daar is ook alles op die beddens, soos lakens, komberse en kussings, dit is nie soos nou nie. Nadat sy gekraam het, lê sy vir drie dae en word deur ons bedien. Sy druk die knoppie, ons kom en bring vir haar wat sy wil hê. Wanneer sy huis toe gaan, vat sy alles en nog babaklere saam.”



Ouma Tusnelde Aribes

Sy is in die Ou Lokasie gebore en het daar skoolgegaan.

“Ek het by die Betel-skool in die Ou Lokasie klein sub A (voor skool) en groot sub A (gr. 1) bygewoon. Daarna het ek na die Evangeliese Lutherse Kerk se skool tot st. 6 gaan bywoon.”

“Daar was baie liefde in die Ou Lokasie alhoewel ons ook baie swaar gekry het. Ons het met mooi rokke, wat ons ma's gemaak het, rondgeloop maar sonder skoene, dies het ons nie gehad nie.”

Haar ma het met 'n man van Otjimbingwe getrou en die familie het soontoe getrek.

“Daar het ek Bybel-skool ­bygewoon. Ek het later met iemand van daar getrou en ons het terug ­Katutura toe getrek. Ek het by 'n familie huiswerk gedoen totdat hulle weggetrek het. Toe het ek begin om naaldwerk te doen. Ek maak tot vandag nog rokke en klere vir mense. Ek doen kralewerk soos tradisionele Damara-­kraleversierings.”



Ouma Justine Mbembe

Sy is ook in die Ou Lokasie gebore.

“Dit was vir my baie moeilik om skool by te woon. Beide my ma en pa het voltyds gewerk en ek moes na my jonger suster en broer kyk. Wat nog moeiliker geword het toe my pa dood is nadat ons Katutura toe moes trek.”

Hoewel sy ook goeie herinneringe van die Ou Lokasie het, was dit vir haar baie moeilik om Katutura toe te trek.

“My pa was in die werk toe ons moet trek en ek was bang dat hy nie sal weet waar om ons te kry nie en ek moet na die tweetjies kyk. Pa het by die lokasie aangekom en die huis was alreeds platgetrap. Ons is op 'n bus gelaai en Katutura toe gevat. Toe my pa van die werk af by die huis kom was daar niks meer nie. Hy het op die bus geklim en Katutura toe gery en ek het vir hom by die bushalte gewag. Ek het hom huis toe gevat en vir my ma by die ­bushalte gaan wag. Ek was 12 jaar oud en ons het in 'n huis ingetrek waar daar vensterrame was, maar geen ruite nie,” het ouma Justine gesê.

“Ek kan ook rokke maak, maar ek werk met die masjien. My ma het my geleer. Wanneer sy 'n rok gemaak het, het sy altyd gesê dié deel doen jy en so het ek geleer.” Sy het eers huiswerk gedoen voordat sy in 1977 by Dagbreek-skool begin werk het. Ouma Justine het vir die volgende 28 jaar by die skool kos gekook en gehelp om die kinders te versorg.



Ouma Tusnelde Kooper

Sy is op Rietoog gebore, maar sy het op 'n baie jong ouderdom saam met haar ouer suster by haar ouma in die Ou Lokasie gaan bly.

“My suster het daar skoolgegaan en omdat daar niemand by die huis was wat my kon oppas nie, het ek saam gegaan. Ek was nog selfs vir klein sub A te jonk, so ek het saam met die ander kleintjies onder 'n groot boom gesit en onder toesig gespeel. Die onderwysers het ons brood, sap en water gegee en dit was baie lekker.”

Sy het later vir twee jaar die Betel-skool bygewoon.

“Ons was plaasmense en ons het die plaas baie verlang. Dit was ook die tyd wat ons gehoor het dat ons Katutura toe moet trek. Vir ons van die plaas was die Ou Lokasie al 'n groot aanpassing en ons wou nie Katutura toe trek nie. Ons was bang. Die grootmense het begin baklei en gesê hulle sal nie trek nie. Ons het daai Desember terug huis toe gegaan en nie weer teruggekom nie.”

Ouma Tusnelde het nie verder skoolgegaan nie en sy het begin om alles van boerdery af te leer.

“Ek het tuingemaak en bokke opgepas. Niemand kan my iets van bokke of groente vertel nie. Ek het gewerk en geleer.”

Op 20-jarige ouderdom het haar broer haar Windhoek toe gebring om sy kinders op te pas en groot te maak.

“Ek was gewoond daaraan om geld in my sak te hê as ek van die groente verkoop het en ek het besluit ek kan nie net kinders oppas nie. Ek het 'n werk gaan soek. Ek het vir 'n Duitse familie begin werk. Ons was 'n klomp huiswerkers wat elke Woensdag ver­skillende klasse bygewoon het. Ons het geleer koek en brood bak en kos maak. Ons het ook eerstehulp geleer en ek kan nog vandag mense help as hulle seerkry.”

Ná die geboorte van haar eerste kind het sy bedank, maar van rondsit was daar geen sprake nie.

“Ek het by die Katolieke Kerk gaan leer hoe om te hekel en brei. Ek het truie, sokkies, kouse, serpe en ­kniekomberse gemaak. Ek het ook vir 'n paar jaar as skoonmaker by 'n maatskappy gewerk. Daarna het ek weer besluit ek wil nog leer en 'n naaldwerkkursus gedoen. Ek maak nou nog rokke en manshemde, asook verstellings aan klere.”

“Ek het wel nie skool nie, maar ek het nooit ophou leer nie. Ek het ­kursusse en klasse bygewoon en ek is ook nog nie klaar geleer nie.”



NOG Herinneringe

“In daai jare was ons almal een groot familie. As 'n vrou sien 'n kind doen iets verkeerds het sy die reg gehad om die kind te slaan. Dan het jy huil-huil huis toe gegaan en jy is gevra wie het jou geslaan. Jou ma sal jou by die hand vat en na die vrou toe neem en dan sal jy weer voor die ­grootmense geslaan word. Dit is hoe dit was, almal het almal geken, grootgemaak en opgepas,” het ouma Dorothea gesê.

Volgens die oumas was daar net een speelgrond en almal het saam gespeel. Daar was geen verskil nie. Almal was net kinders van die Ou Lokasie.

“Ons het nie tyd gehad nie. Sodra skool klaar was, het daar 'n klokkie by die saal gelui wat beteken het jy moet saal toe hardloop. Daar was 'n sersant van die Suid-Afrikaanse polisie, Andrew Matjila, hy het die kinders geken en hulle onder die beddens kom uithaal as hulle nie by die saal was nie. By die saal is ons besig gehou. Ons het iets by die Rooi Kruis geleer. Of ons het soos soldate gedril,” het ouma Dorothea gesê.

“Die dril was baie lekker en ons het baie daarvan gehou,” het ouma Justine bygevoeg.

“Ek onthou die dag toe die Suid-Afrikaanse eerste minister, Jan Smuts, in die Ou Lokasie kom kuier het. Dit was 'n groot dag. Ons het gedril en Suid-Afrikaanse liedjies soos die Stem geleer. Daar was net een pad wat vanaf Katutura tot in die Ou Lokasie gelei het. Dit was nie soos vandag waar daar baie paaie uitdraai nie.

“Al die huise langs die pad het vlae op hul dakke gehad. Daar is beeste geslag en die grootmense het beesvleis gekry. Daar was so 'n Duitse man wat koeldrank gemaak het en by die saal kom aflaai het. Die groot winkels daai tyd was Nictus, Pupkewitz en Wecke & Voigts en hulle het almal bokse vol lekkers en beskuit uitgedeel. Die kinders het die lekkers en koeldrank gekry. Dit was goeie tye,” het ouma Dorothea gesê.

“Ons het op daai dag vir Smuts gedril, gesing, gehardloop, vlaggies gewaai en lekkers geëet. Die mense het vir ons hande geklap. Dit was 'n baie lekker dag,” het ouma Justine gesê.

“Daai tyd wanneer dit so warm was, het ons almal buite die huis in die erf op die vloer geslaap omdat die huis te warm was. Die volgende dag staan jy op en niks het gebeur nie. Die huis het oopgestaan en niks is gevat nie. As jy dit vandag doen sal ander mense die volgende dag net 'n lyk kom kry. Daar was almal – vrou, dogters, kinders – veilig. Ek verlang baie terug na daai dae en as iemand nou sê jy kan terug gaan dan is ek alreeds op pad,” het ouma Dorothea gesê.



KersfeesRokke

“Dit was baie lekker in die Ou Lokasie, veral Kersfees. Die ma's het materiaal gekoop en rokke gemaak. Die rok het jy Kersfees gekry en dit het nie saak gemaak hoe die rok lyk nie, jy het hom aangetrek en met hom gespog. So was dit gewees,” het ouma Kooper gesê.

“Daai tyd het die materiaal vir die rok 15c gekos. Ma het al begin Desember begin om die rok te werk, maar dit was 'n geheim en jy mag dit nie gesien het nie. So het ons 'n stukkie ­afgesnyde lappie gesoek en dit skool toe gevat en vir mekaar gewys hoe ons rokke gaan lyk. As jou rok nog so drie valletjies gehad het met 'n band waarmee jy die rok agter vasmaak, was jy die baas en kon behoorlik spog.

“Ons het ook gebrei en ons het kouse, jersykies en barratse gebrei. Al die kinders se hare was afgeskeer, ook die meisies was kaalkop en die koppe is met Vaseline gesmeer. Dan sit jy daai gebreide barrats so skuins op jou kop en loop spog-spog die hele dag rond,” het ouma Dorothea gesê.

“Om daai rok en nog dalk 'n onderrok op Kersdag te kon kry, moes jy werk. Die huis moes van bo tot onder blink. Dit was nie net van kry nie, ons het baie hard vir die rok gewerk,” het ouma Justine gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!