Vier Torra-leeus verskuif
Die ministerie het besluit ingryping is nodig weens die verswakte toestand waarin die woestynleeus in die Kunenestreek verkeer.
Francoise Steynberg – Ná die skokfoto's van uitgeteerde leeus in die Kunenestreek gaan die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme vier sogenaamde woestynleeus verskuif.
“Dringende ingryping van die ministerie is nodig met vier woestynleeus in swak kondisie in die Torra-bewaringsgebied in die Kunenestreek,” het die ministeriële woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, Maandag in 'n nuusverklaring gesê.
“Daarom gaan die ministerie die vier leeus na N/a'an ku sê verskuif. Met die verswakte toestand van die woestynleeus het N/a'an ku sê aangebied om die leeus te vang, te verskuif en in een van hul wildreservate in die Windhoek-gebied te rehabiliteer,” het die woordvoerder gesê.
Een van die stigters van N/a'an ku sê, dr. Rudie van Vuuren, het gister aan Republikein gesê “ons is altyd bereid om te help.
“Mense moet nie net kla nie, maar ook daadwerklik optree. Ons wil graag hê die woestynleeus se genetiese bank moet opgebou word en dat hulle weer vrygelaat word,” het Van Vuuren gesê.
Hy sê sodra die leeus gerehabiliteer en weer in normale, gesonde kondisie is, sal hulle weer in die wildernis vrygelaat word in 'n geskikte habitat – gekies deur die ministerie.
“Hierdie verskuiwing is volgens ons Vriende van die Parke-program wat ontwikkelingsvennote, die private sektor en ander rolspelers aanmoedig om betrokke te raak en die ontwikkeling en bestuur van Namibië se parke en wildbewaring te ondersteun.”
Muyunda nooi belangstellendes uit wat by die program wil aansluit, om by die ministerie te registreer.
“Sleutelgebiede van ondersteuning behels bestuur en ontwikkeling van waterinfrastruktuur, heinings, die onderhoud en opgradering van paaie, padtekens, toerismegeriewe en enige ander geboue in nasionale parke, asook teenstropery en wildbestuur.”
AANVALLE OP MENSE
Muyunda het twee voorvalle van leeu-aanvalle op mense bevestig: “Ons is bewus van berigte dat leeus aggressief teenoor mense opgetree het – vermoedelik weens hongersnood.”
Een voorval was verlede week in die Ugabrivier toe mnr. Charlie Ward (72) tydens 'n staptog van agter af deur 'n leeu aangeval is.
“Ek dank God dat ek nie ernstig beseer is nie,” het Ward aan die koerant vertel nadat hy 20 steke in sy been moes kry.
“Die impak van die leeu se aanval het my soos 'n sak mieliemeel neergevel. Dit was 'n traumatiese ervaring en ek tel my seëninge dat ek oorleef het,” het Ward vertel.
“Hierdie leeu was honger; as hy gesond was, sou hy my nie aangeval het nie. Dié gebied het vir jare nie reën gehad nie en is baie droog.”
Volgens Ward is hy die eerste persoon wat in die Ugabrivier deur 'n leeu aangeval is.
Muyunda sê die ministerie is nog besig om die feite van die voorval vas te stel, maar “ons waarsku diegene wat leeuhabitatte in die streek besoek om baie versigtig te wees”.
Hy sê die ministerie sal vanjaar nog 'n leeubestuur- en bewaringsplan ontwikkel om die langtermynbewaring van leeus te verseker.
“Ons sal voortgaan met onmiddellike optrede namate voorvalle plaasvind, soos die bestuur van mens-dier-konflikvoorvalle in die gebied.”
Die woordvoerder sê waarnemings sal nog vandeesweek op die grond en vanuit die lug uitgevoer word om ingrypings op kort en medium termyn te bepaal.
“Die situasie van die woestynleeus verdien ons dringende en onmiddellike aandag. Ons doen 'n beroep op besoekers en die publiek om enige voorvalle van leeus by die naaste kantoor van die ministerie aan te meld,” het Muyunda versoek.
– [email protected]
FOTO
Mnr. Charlie Ward ná die leeu-aanval in die Ugabrivier verlede week. Foto Facebook

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie