Vier verdrink op Kersdag in Kaapse waters
Vier verdrink op Kersdag in Kaapse waters

Vier verdrink op Kersdag in Kaapse waters

Karin Eloff
Hanti Otto – Die Kaapse kuswaters het op Kersdag die lewe geëis van vier mense, insluitend dié van ’n agtjarige meisie.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Dinsdag gesê die vier mense het binne 'n bestek van sewe ure by vier verskillende strande verdrink.

Die eerste voorval was om 09:04 toe reddingswerkers, die polisie en menseredders uitgeroep is na Mosselbaai waar ’n agtjarige meisie naby die Groot Brak-riviermond besig was om te verdrink.

“Munisipale lewensredders het die meisie in die rivier gekry en dadelik noodhulp toegepas. Paramedici het opgedaag en oorgeneem. Hulle het op die toneel kardiopulmonêre resussitasie voortgesit, die pasiënt in ’n ambulans gelaai en heelpad op pad na die hospitaal met die noodhulp voortgegaan.

“By die hospitaal het dokters verder probeer, maar die meisie het nie oorleef nie,” sê Lambinon.

Om 11:42 is die NSRI ontbied na Wildernes se strand waar drie mense vasgevang was in sterk seestrome. ’n Reddingsboot is ingestuur om lewensredders, wat toe reeds in die water na die drenkelinge gesoek het, by te staan.

Een van die lewensredders het ’n bewustelose man gevind en hom na die strand gebring. Ook dié man is ondanks noodbehandeling op die strand dood.

Die departement van toerisme staan die oorledene se vrou en twee dogters by in dié tyd.

Die ander twee mense, volgens Lambinon familielede van die man, het veilig uit die see gekom.

“Die departement van toerisme staan die oorledene se vrou en twee dogters by in dié tyd,” het Lambinon gesê.

Dit is nie bekend wie van dié familielede saam met die man in die seestrome vasgevang was tydens die verdrinking nie.

Intussen het nog iemand by die Strand, naby Gordonsbaai, in die water vermis geraak.

’n Groep kinders het om 11:49 alarm gemaak, maar die NSRI kon nie die persoon opspoor nie.

Reddingswemmers en twee bote is ingeroep.

“Die vermiste man is later in die water gekry, maar is ondanks intensiewe noodhulp dood. Hy is nog nie geïdentifiseer nie en dit lyk in die stadium nie asof iemand by Deep Blue Strand hom geken het nie,” sê Lambinon.

Ook by Buffelsbaai naby Knysna het die see ’n slagoffer geëis.

Reddingswerkers is om 16:15 ontbied na waar ’n man besig was om te verdrink.

Hy is bewusteloos in die water gevind en na die strand gebring.

“Daar was vier dokters, wat toevallig met vakansie was, op die strand. Hulle het noodbehandeling op die man, vermoedelik van Malawi, toegepas.

“Hy is ook egter later dood verklaar,” sê Lambinon.

* Intussen is die NSRI ingelig dat ’n lyk, vermoedelik dié van die 10-jarige seun wat die naweek saam met sy pa by Beach View in die Oos-Kaap, vermis geraak het, Maandag gevind is. Die seun, sy 35-jarige pa en ’n 16-jarige nefie het Saterdag met ’n kano gaan visvang. Die boot het vermoedelik omgeslaan, maar die tiener kon na die kus swem en hulp ontbied. In daardie stadium is net die kano en hengelgereedskap gevind.

“Ondanks ’n soektog van 3 km langs die kuslyn en 1 km die see in, was daar geen teken van die pa of die seun nie. Die polisie se duikeenheid het toe die soektog oorgeneem,” sê Lambinon. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!