Vierpotiges só gehelp

Landswyd help individue om ’n verskil in honde en katte se lewens te maak. ’n Paar barmhartige Samaritane vertel hul stories.
Tanja Bause
Tanja Bause – Oraloor die land is daar talle welsynorganisasies wat vir diere sorg wat geen heenkome het nie. Daar is takke van die Dierebeskermingsverenigings (DBV), Have-a-Heart, Cat Protection Society Namibia (CPSN) en Civilian Animal Protection Unit (C.A.P.U), om net ’n paar te noem.

Daar is ook Cool Cats wat in 2014 as ’n Facebook-blad begin is om katte wat by die diere-organisasies in hokke sit, te adverteer en huise vir hulle te soek.

Intussen werk die Cool Cats ook met Have-a-Heart om straatkatte te vang, te steriliseer en te kastreer en om hulle terug in kolonies te plaas.

“Hulle hou ander katte weg van die plek waar hulle woon en vang rotte en muise. Die katte plant nie meer voort nie en so word die kolonie op die lang duur verminder,” het Cool Cats gesê.

Volgens hulle het elke dorp verskeie katkolonies. Om die katte onder beheer te hou, moet mense wat katte het verantwoordelikheid neem en hulle laat regmaak.

“Vir elke kat wat gesteriliseer word, is daar 100 minder katte op straat. Katte kan op vier maande reeds die eerste kleintjies kry. Hulle kan drie keer per jaar geboorte skenk – elke keer vir tot ses kleintjies.

“Talle van die babakatte word weggegooi, doodgemaak, loop weg, word verwaarloos of word straatkatte. Daar is talle kolonies wat ons besig is om onder beheer te kry, veral in die dorpe waar mense is wat omgee en help.”

Intussen het talle mense in hul eie dorpe die nood van nie net katte nie, maar ook honde en ander diere gesien en besluit om ’n verskil te maak. Dié mense, net soos die welsynorganisasies, se werk is afhanklik van skenkings. Wanneer geen skenkings ontvang word nie, word die kos, melk, veeartsbesoeke en ander uitgawes uit hul eie sakke betaal.

OKAHANDJA

Mnr. Louis Avenant en sy vrou, Mariette, versorg al die afgelope drie jaar troeteldiere in Okahandja.

“Ons het drie jaar gelede Okahandja toe getrek met een hond en twee katte. Ons het tans 13 honde en 23 katte. Dit was diere wat geen huis gehad het nie. Diere wat in ’n boks by ons afgegee word. Diere wat mense nie meer wil hê of nie meer kan versorg nie. Diere wat andersins op straat sou wees. Dit is alles weggooi- en optelkinders,” het Louis gesê.

Op Okahandja is geen dierebeskermingsvereniging nie en die Avenant-egpaar doen wat hulle kan om te help waar hulle kan.

“Ek het op 15-jarige ouderdom by ’n hondesalon gewerk en dit is waar my liefde vir troeteldiere begin het. Ek het later met ’n ewe groot diereliefhebber in die huwelik getree en die twee van ons het nog altyd vir diere omgegee, gehelp en hulle versorg waar ons kon.”

Vir die afgelope drie jaar kry hulle katkos van Cool Cats Namibia. Onlangs het Louis ook twee stewige borgskappe van besighede gekry, maar dit is dit.

“Ons gebruik maar ons petrol en ons geld om te help. Die nood raak al hoe groter en ek en my vrou kan nie al die diere help nie, maar ons kan hulle ook nie wegwys nie.

“Iewers in die land moet iemand wees wat ’n stuk grond het wat nie gebruik word nie waarop ons ’n heenkome vir die diere kan maak, waar ons hulle heen kan vat, gesond maak as hulle siek is en hopelik weer ’n nuwe tuiste kan gee,” het hy gesê.

Die kosskenkings wat hulle ontvang, deel hulle met mense in die omliggende informele nedersettings.

“Die kos sorg dat daar een minder honger hond op straat is. Een hond of kat wat versorg word en een minder wat uitgesmyt en weggegooi word en dalk in elk geval by ons beland.”

In samewerking met die Have-a-Heart-stigting het Louis laas jaar 100 katte laat steriliseer en kastreer. Vir die afgelope drie jaar het hulle in samewerking met dr. Ian Baines 400 diere laat regmaak.

“Ons het verlede naweek weer met die hulp van dr. Baines 34 katte en honde laat regmaak. Dis ’n begin, maar dis nog te min en veel meer moet in die dorp gedoen word om die kwessie van ongewenste diere te takel,” het hy gesê.

“Soms kry ons tot 29 babakatte op ’n slag omdat die wyfie dragtig is wanneer sy gesteriliseer word. Die kleintjies word dan weggevat en kom na ons toe sodat ons huise vir hulle kan kry en verseker dat hulle op vyf maande reggemaak sal word.

“Maar ek en my vrou is beide werkloos en lewe van los werk. Ons kan nie vir soveel katte op een slag sorg nie en die diere-organisasies in Windhoek loop oor van die diere en hulle wil ook nie met meer opgesaal word nie. Dit is bose kringloop,” het Louis gesê.

GOBABIS

Dolene Schmitd von Wühlisch en Anneliese Langenhoven was deel van die DBV op Gobabis voordat dit toegemaak het.

“Ons wou nie weer by troeteldiere betrokke raak nie, maar op ’n dag het ’n inwoner van Gobabis by die veearts waar Anneliese werk, ingestap en ’n uitgeteerde maer hond afgegee. Sy het gesê dit is iemand anders se hond en sy weet nie wat om met hom te doen nie.

“Die hond het bosluiskoors gehad wat een rede was hoekom hy so maer was. Ons het ook uitgevind die vrou het gelieg en dit haar hond was. Die hond het ons laat besef ons moet weer met ’n organisasie begin wat diere kan help. Ons was nog nie reg nie en die hond is Windhoek toe gestuur waar hy versorg is en ’n nuwe huis gekry het, maar hy was die begin van Animal Rescue op Gobabis,” het Schmitd von Wühlisch gesê.

In 2017 het die twee saam met Lorraine de Vries die organisasie begin.

“Die nood in die dorp is baie groot en ons kry baie diere wat versorging benodig. Ons behandel en versorg hulle en soek ’n nuwe huis vir hulle. Ons het tans ’n ouma- en oupahond wat hier by ons sal bly tot hulle heengaan,” het Langenhoven gesê.

Namate hul geldsake toelaat, laat Animal Rescue diere regmaak voordat hulle na ’n nuwe huis gaan. As die honde nog te klein is, word die eienaar verplig om hulle te laat regmaak sodra hulle oud genoeg is.

Volgens haar word baie honde in die dorp mishandel.

“Hulle word aan kettings vasgemaak. Hulle het talle kleintjies en kry nie kos nie, so wanneer hulle by ons aankom, is hulle geraamtes. Baie loop op die straat rond op soek na kos en talle honde word geslag en geëet.”

“Die ergste was ’n hondjie wat by die ashope vasgebind was en aan die brand gesteek is. Ons kon nie betyds by hom uitkom nie en hy het doodgebrand.

“Dit is nie maklik nie en ons weet ons kan nie alles regmaak nie, maar daar is baie min dinge soos ’n dankbare dier,” sê Schmitd von Wühlisch.

Gobabis Animal Rescue word deur mense van die dorp ondersteun.

GOBABIS

Willem Esterhuizen het in ’n huis met diere grootgeword en al op agtjarige ouderdom babadiere met ’n bottel grootgemaak. Vandag is hy bekend as die katman van Gobabis en deel sy huis met 42 van hulle.

Sy ma het vir natuurbewaring gewerk en daar was gedurig die een of ander babadier wat hulp nodig gehad het.

“Vandat ek my oë oopgemaak het, het ek katte gehad. Sewe jaar terug het ons in Oshakati begin om katte in te neem en te help. Verminkte katte, kleintjies wie se ma’s doodgemaak is. Toe ons Gobabis toe trek, het ek voortgegaan met dit.”

“Die dorp het ’n reuseprobleem met wilde katte en ek is die afgelope jaar besig om te help waar ek kan. Ek vang die katte en laat hulle regmaak en help arm mense sodat hulle die diere kan voer. Ek help tans vyf gesinne met kos wat nie meer na hul diere kan omsien nie.”

“Niemand het nog regtig aan die diere aandag gegee nie. Sommige dorpenaars het ook ’n baie nou mentaliteit. Mense sal maklik gif uitsit om van die katte ontslae te raak. Dis ’n groot probleem. Tot 70% van sulke diere sterf ellendig voordat ek hulle kan bereik. Die ander 30% doen breinskade op.”

Volgens hom is 80% van die katte wat hy versorg wilde katte. In die sentrale dorpsgebied is ’n geskatte 150 tot 300 wilde katte.

“Dis baie werk, maar ek het besluit om iets te doen. Iemand moet. Die ander gooi gif of skiet die katte en daar is baie siek, honger en verminkte katte op straat. Daar is net te veel.”

Met die hulp van Have-a-Heart is sowat 100 katte verlede jaar reggemaak. Dit is sonder die katte wat hy ingeneem, of nuwe huise voor gekry het.

“Stadig maar seker is ons besig om ’n verskil te maak. Daar is nie ’n vinnige oplossing nie, maar kat vir kat maak ek ’n verskil.”

REHOBOTH

Charlotte Dentlinger het al van kleins af alle diere in nood opgetel en huis toe gebring.

“Ek het enigiets van skilpaaie, meerkatte tot honde en katte huis toe gebring; alles wat viervoetig was en aandig nodig gehad het. Van kleins af het my pa met my baklei en gevra, gaan jy al die diere kos gee? Ek het gesê: Ons gaan plaas toe en slag ’n skapie en gee hulle daai vleis en daar is beesmelk ook.”

Vandag het sy nie net twee honde en nege katte van haar eie nie, maar versorg sy nog amper 50 katte van twee wilde kolonies wat sy voer. Sy het ook met die eienaar van die stuk grond waarop die een kolonie woon, onderhandel sodat sy die grond kan skoonmaak en hokke daar kan plaas.

“Ek wil hê die katte moet snags hokke hê om in te slaap. Dit beskerm hulle teen die wind en weer en die kleintjies word nie onder sulke wrede omstandighede groot nie.”

Sy vang ook van die katte en laat hulle met die hulp van Have-a-Heart steriliseer. Binne een jaar het hulle sowat 63 katte en 27 honde reggemaak.

“Ek versorg ook drie honde wie se eienaars nie kan nie. Ek help waar ek kan. Ek het nou die dag plaas toe gery en ’n skilpad in die pad gekry wat ek plaas toe gevat het sodat hy veilig in die bos kan rondloop en nie op ’n gevaarlike pad is nie.

“Ek help enige dier. Hulle is weerloos en kan hulself nie help nie en dus moet ons,” het sy gesê.

Sy versorg tans vyf babakatjies wat ’n vrou in ’n boks by haar kom afgee het.

“Sy kan hulle glo nie versorg nie. Ek het hulle gevat, in ’n handdoek toegedraai, melk gaan koop en begin bottel gee. Hulle is vandag een maand oud.”

Sy het ook ’n straathond in die voertuig gelaai, huis toe gevat, hom van die bosluise bevry, sy wonde versorg en hom kosgegee. Sy het hom weer laat gaan en die volgende oggend was hy weer by die huis en het kos gesoek. Nou gee Charlotte vir hom kos wanneer hy opdaag.

“Ek laat katte aanneem as ek weet hulle gaan na ’n goeie huis toe. Ek kan nie slaap tensy ek weet hulle is by ’n goeie huis nie; dan kan hulle maar eerder hier by my bly.”

Volgens haar moet kinders van klein af opgevoed word om diere te versorg en te respekteer.

“Die opvoeding om mishandeling te voorkom, begin by die huis. Ons moet ons kinders beter opvoed. Dis ’n lewende diertjie met ’n siel wat versorging en aandag nodig het, net soos ’n kind. Diere kan nie vir hulself praat nie en ons moet hul mondstuk wees.”

Mense wat betrokke wil raak, kan skenkings aan hul naaste DBV of Have-a-Heart maak. Hulle kan ook uitvind wie in hul dorp diere help en hulle met kos of geld ondersteun as hulle wil verseker dat hul skenking vir diere in hul dorp aangewend word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!