'Vind genetiese merkers vir voedselinname en gewigstoename'

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die fokus van voerdoeltreffendheidstoetse moet wees om genetiese merkers vir daaglikse voedselinname asook daaglikse gewigstoename te vind. Sodoende sal dit makliker wees om die mees doeltreffende voeromsetters te identifiseer, want residuele voerinname is slegs ‘n kombinasie van die twee faktore.”
Die veekundige prof. Michiel Scholtz, spesialisnavorser vir toegepaste diereteling by die Suid-Afrikaanse Landbounavorsingsraad (LNR), het tydens die amptelike opening van die GenTecSol netto-voerinname toetsstasie oor die kriteria en protokol vir voerdoeltreffendheidstoetse gepraat.
Die geleentheid het op die plaas Okawatuta naby Hochveld op 14 Julie plaasgevind met die opening van die eerste ten volle geoutomatiseerde toetsstasie in Afrika wat opnames van die voerdoeltreffendheid onder beeste maak.
Scholtz het ook gesê meer doeltreffende vleisbeeste is belangrik vir die toekoms.
“Diere met ‘n lae residuele voerinname produseer minder metaangasse. Hul koolstofvoetspoor is dus laer.
“As Suid-Afrika moontlik ‘n koolstofvoetspoorbelasting op lewendehaweproduksie instel, kan ons hierdie as bewys gebruik dat die beesbedryf daaraan werk om ‘groener’ te wees en die regering meer toegeeflik moet wees,” het hy gesê.
Suid-Afrika sal ook binnekort ‘n soortgelyke fasiliteit kry wat by die LNR gebou sal word.
“Die projek sal deur die Nasionale Gereedskapsprogram (NEP) in Suid-Afrika gefinansier word. Dit sluit die toetsstasie vir die voedselinname asook die GrowSafe voerkraal in,” het Scholtz gesê.


Calan Gate versus GrowSafe
Scholtz het onder meer die ouer Calan Gate-stelsel met die GrowSafe-stelsel vergelyk en riglyne voorgestel hoe Suider-Afrika na die nuwe datastelsel kan oorskakel.
“Met die nuwe stelsels sal ons al ons vee in ‘n spesifieke fisiologiese fase moet meet, hetsy in die fase voor puberteit, tydens puberteit of ná dit. Die diere wat saam getoets word, moet almal in dieselfde fase wees.
“Boonop moet behoorlike beperkinge vir die toetse in verband met gewig en ouderdom vasgestel word, wat deur deelnemende lande se produksiestelsels bepaal sal word of teen watter ouderdom en vetheidsgraad beeste geslag word.”
Scholtz sê die landbounavorsingsraad het die Calan Gate-stelsel in 1976 gebou. Die stelsel werk met ‘n klok om die vee se nek wat individuele diere slegs toelaat om die hek voor hul eie voerbak oop te maak.
“Die probleem met die ou stelsel is dat sommige vee sukkel om die spesifieke hek te kry van die voerbak waaruit hulle moet vreet. Sommige van hulle vind nooit hul hek nie en ervaar groot gewigsverlies tydens die aanpassingsperiode,” het Scholtz gesê.
Hy het dit vergelyk met die GrowSafe-stelsel, waar ‘n groep diere by verskeie voerbakke kan vreet. “Wat dié stelsel betref, is daar egter minder voerbakke en al die diere het nie terselfdertyd toegang tot die voer nie. Dus reageer die vee deur vinniger te vreet.
“Ons het egter bevind dat die totale inname van droë voer nie deur die tipe voerstelsel verander word nie, omdat die vee hul gedrag aangepas het sodat hulle dieselfde hoeveelheid kos kon inneem. Die kompetisie tussen die diere lei dus nie tot ‘n verminderde voerinname nie,” het Scholtz gesê.


Ervaring met Calan Gate
Scholtz het gesê tydens die eerste week in die Calan Gate-stelsel word al die voerbakke oopgehou en kan vee enige plek vreet. Dit word gedoen omdat sommige beesrasse huiwerig is om hul koppe in die opening te plaas en vir so lank as twee dae niks vreet nie.
“Tydens die tweede week word die hekke toegemaak en kry die bulle slegs ruvoer. Daar bestaan verskille tussen rasse wat hul eetgedrag betref en sommige bulle leer vinniger om hul voerbakke se hekke te vind.
“Vir die bulle wat nie hul hekke kan vind nie, maak ons die hekke vier maal per dag self oop om hulle te motiveer om te vreet.”
Scholtz sê tydens week drie en vier is die voer vrylik beskikbaar.
“Sommige diere sal, weens die gesukkel om hul eie voerbak se hek te vind, tydens die eerste fase oorvreet en soms diarree ontwikkel. Dit kan die grootpens dan weer tot ses dae neem om te herstel.
“Die doel is dat beeste minstens 30 kg of een kg per dag tydens die aanpassingsperiode van 28 dae in gewig moet toeneem. Dit gebeur egter selde en die ideale aanpassingsperiode is waarskynlik eerder 35 dae.
“Groter en ouer bulle is soms so groot dat hulle bo-oor die voerhek kan strek en uit die bakke van ander bulle vreet,” het hy gesê.
Hy het ‘n voorbeeld geneem van 12 bulle om groei op die Calan Gate-stelsel aan te toon. Hy het gewys hoe bulletjies wat aanvanklik dieselfde weeg, tydens die voerdoeltreffendheidstoets verskillende hoeveelheid gewig aangesit het. Sommige het ewe veel in gewig toegeneem, maar nie dieselfde hoeveelheid voer gevreet nie.
“Jy soek tipies na die bul met die beste residuele voerinname – dié wat steeds aanvaarbare groei toon, maar minder vreet.
“Die probleem met netto voerinname-toetse, is dat jy nie weet of jy groei verhoog en of voerinname verminder nie. Jy moet dus residuele voerinname saam met ander wetenskappe gebruik,” het Scholtz gesê.
Residuele voerinname verwys na die verskil tussen ‘n bees se werklike voerinname versus wat, volgens navorsing, verwag word hy sal vreet om sy liggaam te onderhou en te groei.
“Die toepassing van netto voerinname beteken nie alle wetenskaplike beginsels kan agterweë gelaat word nie. Beproefde wetenskaplike feite is steeds belangrik. So ook is data wat deur netto voerinname-toetse versamel word, belangrik vir navorsing.”


Huidge riglyne vir voerdoeltreffendheidtoetse
Riglyne waarvolgens die landbounavorsingsraad tans werk, sluit in dat toetse oor 84 dae uitgevoer word en vee ‘n aanpassingsperiode van 28 dae toegelaat word. Diere word tussen die ouderdomme van 151 dae en 250 dae getoets en raspesifieke minimum en maksimum gewig-vereistes vir die toetse word voorgeskryf.
“Vir ons hersiene toets vir die genomiese beesvleisprojek, is klein veranderinge in die riglyne aangebring. Die diere wat getoets is, moes nou tussen 180 en 280 dae oud wees en hul minimum en maksimum gewig is volgens die grote van hul liggaamsraamwerke vasgestel,” het Scholtz gesê.
“As ons na die GrowSafe-stelsel beweeg, sal hierdie riglyne anders wees omdat ons nie dieselfde beperkinge het nie.”
Hy het verwys na Australië, waar twee residuele voerinname-toetse bestaan. Die eerste word gedoen direk na spening met die doel om teeldiere te identifiseer. Hiervoor word ‘n lae-energie dieet gebruik.
“Die tweede is ‘n voerkraaltoets, waar vee afgerond word tot hulle tussen 300 en 350 dae oud is. Dan word hulle deur ‘n sewentig dae lange toets gesit en vir nog honderd dae ná die toets gevoer. Hulle word op 470 tot 520 dae geslag en dan word ‘n toets vir vleisgehalte gedoen.
“Die korrelasie tussen die twee toetse is laag – tussen 0,6 tot 0,8. Dit beteken diere wat in die eerste toets presteer, presteer nie noodwendig in die tweede toets nie. Jy moet dus jou toets aanpas volgens hoe jy jou vee wil bemark,” het Scholtz gesê.
Hy het ook vertel van Amerikaanse riglyne, waarvolgens toetse vir voerdoeltreffendheid vóór 390 dae voltooi moet wees. Dié toetse moet begin ná die vee gespeen is, maar nie voor 240 dae nie. Binne Amerikaanse toetsgroepe moet die ouderdomsverskil nie meer as sestig dae wees nie en die vee moet minstens vir sewentig dae lank getoets word. ‘n Aanpassingsperiode van 21 dae word ook vereis.


Hoe gemaak met oorskakeling?
Scholtz se die LNR het reeds ‘n projekvoorstel opgestel oor hoe van Calan Gate data na GrowSafe data oorgeskakel kan word.
“Die algemene riglyne is soos volg: Inligting uit toetse wat vooraf gedoen is, is noodsaaklik om kontemporêre groepe te identifiseer. Jy benodig sowat 500 rekords van ras- en groeifasespesifieke inligting vir beide akkurate residuele voerinname en residuele daaglikse groeitoetse.
“Voedselinname is verwant aan diere se ouderdom. Twee diere wat ewe oud is en onderskeidelik 150 en 300 kg weeg, sal nie fisiologies dieselfde ouderdom wees nie en moet dus nie saam getoets word nie.
“Toetse moet dus binne ‘n spesifieke fisiologiese fase gedoen word. In die Calan Gate-stelsel het ons sekere beperkinge opgestel van watter ouderdom en grootte diere ons toets,” het Sholtz gesê.
“Die vraag is of ons vee in ouderdomsgroepe moet verdeel en kan ons byvoorbeeld ‘n bul wat 150 kg weeg, in dieselfde kraal plaas as een wat 300 kg weeg?
“Volgens die eerste proewe by die GenTecSol-toetsstasie, lyk dit of dit moontlik is, maar meer inligting moet nog hieroor ingesamel word.”
Scholtz het voorgestel dat ‘n aanpassingstydperk van 21 dae toegelaat moet word.
“Die toetsperiode moet lank genoeg wees sodat beide die vee se koers van gewigstoename asook koers van voerinname gemeet kan word, sodat doeltreffende gewigstoename akkuraat bereken kan word. ‘n Minimum van ‘n sewentig dae lange toetstydperke is nodig om die gemiddelde gewigstoename van individuele diere akkuraat te meet.”
Scholtz sê die meeste navorsing stem ooreen dat voldoende skattings van daaglikse voerinname binne ‘n toetstydperk van 45 dae verkry kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!