Vir Altyd laat die harte klop en die rekords spat!
Vir Altyd laat die harte klop en die rekords spat!

Vir Altyd laat die harte klop en die rekords spat!

Jacqueline Louw
Die nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfliek Vir Altyd het meer as net gehore in vervoering gehad tydens sy openingsnaweek.
Die fliek het ook die rekords by die loket laat spat met ’n verdienste van R4,727,479 en is deur 89 731 mense gekyk. Dit plaas die fliek amptelik in die voorste posisie vir beste verdienste vir ’n Afrikaanse fliek tydens sy eerste naweek.
Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) wat saam as beste vriende grootgeword het, maar kontak verloor weens ’n hartseer gebeurtenis wat hul albei se lewe verander.
Na tien jaar sien Hugo en Nina mekaar weer op die vooraand van haar troue met Retief (Stiaan Smith), maar toe haar sprokiesverhaal inmekaar tuimel, vertrek sy en Hugo Mauritius toe - sy ’n teësinnige ‘bruid’ en hy wat van die begin af worstel met sy gevoelens vir haar.
Op die eiland besef hulle, nadat hulle op vele avonture gaan en twee ander paartjies op die liefdespad ontmoet, dat dit nie oor die gelukkige einde gaan nie, maar eerder oor die reis soontoe.
Oor die “treffernaweek” sê Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, medevervaardiger en hoofspelers van die fliek: “Ons is oneindig dankbaar vir almal se ondersteuning en wonderlike positiewe terugvoer. As rolprentmakers is daar geen groter eer as wanneer soveel mense dit met jou deel dat jou storie en karakters hulle laat saam lag, huil en voel het nie. Vir Altyd is ’n droom waaraan ons al vir twee jaar kliphard werk en dit is ’n voorreg om hierdie avontuur met julle te kan deel.”
Danie Bester, medevervaardiger van die rolprent, sê oor die loketsukses en die hele Vir Altyd-ervaring: “Die grootste kompliment en ook eer vir ’n rolprentmaker is as ’n gehoor na jou werk kom kyk, met jou storie identifiseer en jy die voorreg het om met mense te werk wat jou inspireer. Dit is fantasties.”


Vir Altyd sal deur jonk en oud geniet word. Ondersteuners van die fliek kan op sosiale media nie uitgepraat raak nie, met onder meer opmerkings soos: “Was die beste Valentynsdag-uitstappie saam my geliefde om die heel mooiste fliek te kyk” (Zeldine van den Berg), “My man en ek het vandag jul fliek gaan kyk en die trane het geloop. Die rolprent se diepte herinner my net weer dat om ’n lewensmaat te vind ’n voorreg is. Ek sal die fliek oor en oor gaan kyk” (Christelle van Wyk). Maureen van der Merwe sê “Ons het vandag gaan kyk. Ek en Oupa het lekker gelag en ’n traan gestort. Dit is ’n fantastiese fliek en ons beveel dit 110% aan vir almal. Al die akteurs, ek salueer julle . . . was lekker om te sien jonk en oud het daarna gaan kyk!”
Elize Cawood, Wilson Dunster, Illse Roos, Dirk Stoltz, Laré Birk, Deidre Wolhuter, Andre Jacobs, André Stoltz, Sans Moonsamy, Nicky de Kock en Caylem Else en Hèléne Truter is van die akteurs wat ook in die rolverdeling te sien is.
Vir altyd draai op die oomblik by Ster Kinekor by die Grove-inkopiesentrum in Windhoek.
Vir eksklusiewe agter-die-skermsfoto’s en die jongste nuus, volg die rolprent hier: www.facebook.com/viraltydfilm en op Twitter: @VirAltyd.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer