Vir ewig onvergeetlik, selfs as jy net een vertoning sien
Asof ellendes soos droogte, klimaatsverandering en aanhangers van die mafiabaas in die Withuis nie genoeg straf is nie, het die wêreld dié week 'n ware pionier, 'n skeppende meester, 'n legende en 'n gentleman verloor.
Met sy stapelgekke punk-persoonlikheid van twee skerppuntige rye neongroen hare, uitgesteekte tong (met 'n pen deur), neusring, grimering en intense kyk in die oë, was Keith Flint een van Brittanje se mees ikoniese musiekfigure in die 1990's.
Vandat hy Maandag in sy huis aangetref is waar hy homself op 49-jarige ouderdom om die lewe gebring het, stroom die huldeblyke in van elkeen wat hul stories deel oor watter saggeaarde, vrygewige, vriendelike mens hy weg van sy strokiesprent-gewelddadige, energieke vertonings vir tienduisende partytjie-vrate was.
Flint het as 'n danser by The Prodigy aangesluit en later die hoofsanger geword. Die groep word geprys vir hul innoverende rol om verskillende style saam te smelt.
Behalwe vir die groep se debuut in 1992 het elk van die groep se sewe albums nommer 1 in Brittanje behaal – waarvan die mees onlangse een laas jaar November uitgereik is (No Tourists).
“Ek's die moeilikheidmaker, die selftoegediende knaldoppie in die brein, die opstoker wat die vuur brandsteek . . .” losweg van die lirieke wat hy geskryf het vir “Firestarter”, wat vir The Prodigy wegholsukses besorg het.
“Firestarter” se swart en wit musiekvideo waarop Flint groteske gesigte trek, is gou deur die BBC verbied, omdat ouers gekla het dit maak hul kinders bang.
“Die lirieke beskryf hoe dit is om op die verhoog te wees: dis die persoonlikheid wat ek word. Sommige daarvan is dieper as wat dit op die oog af lyk,” het hy later in 'n onderhoud verduidelik.
In 'n koerantonderhoud in 2015 het Flint die stand van moderne popmusiek betreur. “Ons was gevaarlik en opwindend! Maar nou is daar niemand wat gevaarlik wil wees nie. En dis hoekom sulke veilige, kommersiële, generiese musiek nou in mense se keelgatte afgedruk word.”
Vir 25 jaar het The Prodigy op van die grootste verhoë en musiekfeeste in Europa opgetree, maar Flint se sukses is op 'n harde manier verwerf. Hy het met disleksie grootgeword en het op 15 jaar skool verlaat. Voordat hy by The Prodigy aangesluit het, het hy in die konstruksie van dakke gewerk. Hy het deur 'n stryd teen verslawing aan pynstillers geworstel, maar het sober geraak en is in 2006 met 'n Japannese DJ getroud, voordat die paartjie later uiteen is.
Afgesien van sy welslae in musiek, het Flint 'n suksesvolle motorfietsspan begin wat talle SuperSport TT-resiese gewen het.
Koerantlesers en sosialemediagebruikers is sedert sy afsterwe eenparig in hul huldeblyke van 'n spesiale karakter.
Sy mede-Brit en sanger James Blunt het in 'n twiet name genoem van drie ewe beroemdes wat hom by 'n toekenningsgeleentheid afgeknou en beledig het, maar Keith Flint het hom omhels en moed ingepraat – “die enigste keer dat ons ooit ontmoet het”.
Ene MickSturbs onthou: “Ek het Keith dikwels gesien toe ons albei in Braintree gewoon het. Selfs nadat 'Firestarter' vrygestel is, het ek hom saam met sy tannie in Woolies gesien loop!
“Almal wat ek ken, wat hom beter as ek geken het, sê hy was 'n saggeaarde siel en niks soos sy persona op die verhoog nie. Hy het altyd breed geglimlag as iemand hom herken het en sou stop en gesels, hoewel hy eintlik skaam voorgekom het. Waarlik enig in sy soort.”
Stuart255 skryf: “Revolusionêre kunstige briljantheid soos wat ons in 'Firestarter' gesien het, is 'n balanseertoertjie verby persoonlike foltering en sielkundige demone. Iemand soos Keith het 'n klomp mense toegelaat om hul eie foltering en demone in nagklubs en musiekfeeste te gaan kruisig.
“Ons het meer sulke artistieke diepte in die openbare arena nodig, want dit help miljoene jong mense om hul alledaagse sielkundige uitdagings te bestry en om betekenis aan hul lewens te gee.
“Rocksterre word nie naastenby genoeg betaal vir wat hulle vir die samelewing doen nie.”
Rus in vrede Keith, jou musiekloopbaan sal altyd 'n lewe van sy eie hê . . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie