Virus knou boubedryf, toerisme
Virus knou boubedryf, toerisme

Virus knou boubedryf, toerisme

Woolworths het die afgelope week gewaarsku daar kan binne twee weke ’n tekort aan sekere ingevoerde voorraad wees omdat Chinese fabrieke gesluit is.
Riana de Lange – Suid-Afrikaners kan ’n skaarste aan grondbone, komberse, verwarmers en elektroniese toerusting ondervind weens die uitwerking van die Covid-19-virus.

Boonop sê die plaaslike kreef-, toerisme- en boubedrywe hulle is reeds ’n slag toegedien weens reis- en ander beperkings om die verspreiding van die virus te bekamp.

Woolworths het die afgelope week gewaarsku daar kan binne twee weke ’n tekort aan sekere ingevoerde voorraad wees omdat Chinese fabrieke gesluit is. Shoprite het ook laat blyk hy sukkel om komberse en verwarmers in te voer, berig Business Insider South Africa.

Trade Map-data wys 53% van elektriese masjinerie en toerusting en televisiestelle wat Suid-Afrika invoer, kom van China, asook meer as 70% van gebreide materiaal. Die Wêreldbank sê China se aandeel in wêreldwye vervaardiging het van sowat 5% in 1995 toegeneem tot die huidige sowat 25%.

Tomasz Brodzicki van IHS Markit skryf in ’n verslag China is die grootste uitvoerder ter wêreld ($2 500 miljard in 2019) en verantwoordelik vir 13,7% van wêreldwye uitvoer. Die land se aandeel in wêreldwye uitvoer was die hoogste in die geval van rekenaars, kantoor- en kommunikasietoerusting (34,1%), tekstiel, leeritems en klere (32,8%), en glas en niemetaalagtige produkte (23,8%).

Rapport verneem boere sukkel om spuitstof teen luise op hul grondbone te kry omdat dit van China moet kom, maar skepe nie die hawens mag verlaat nie. Dit kan die oes beïnvloed.

Corné Louw, ’n senior ekonoom van Graan SA, sê ’n groot deel van Suid-Afrika se landbou-insette word ingevoer en verskaffers waarsku ’n bykomende lewertyd van 50 tot 60 dae vir invoer uit China moet in berekening gebring word.

Byna 100% van Suid-Afrika se behoefte aan aktiewe bestanddele vir landbouchemikalieë word ingevoer, grootliks uit China.

Hy sê al is daar druk op die produksie van chemikalieë in China, kan die plaaslike bedryf die uitdagings met goeie beplanning oorkom en seker maak voedselsekerheid word nie negatief geraak nie.

Talle konstruksiemaatskappye se projekte is vertraag omdat materiaal en onderdele uit Asië nie afgelewer kan word nie, sê Natalie Reyneke, direkteur van MDA Attorneys. Volgens haar kan verskaffers nie sê wanneer voorraad in Suid-Afrika verwag word nie en sommige aflewerings is onbepaald uitgestel. Minstens een kliënt vrees hy sal werkers moet aflê as die onderdele wat hy bestel het nie teen einde Maart hier is nie.

Die Poskantoor het ook gewaarsku pakkies uit China sal waarskynlik laat kom omdat sekere lugdienste vlugte na en van China opgeskort het.

Lullu Krugel en Christie Viljoen, ekonome van PwC, sê in ’n verslag die ontwrigting vir selfoonoperateurs, voertuigvervaardigers, die kleinhandel- en gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika kan baie groot wees omdat China ons grootste handelsvennoot is. China is Suid-Afrika se grootste verskaffer van invoer en grootste koper van uitvoer. Selfone is Suid-Afrika se grootste invoerkategorie volgens waarde uit China. China verskaf 85% van Suid-Afrika se selfooninvoer.

Wat uitvoer betref, sal laer Chinese vraag na Suid-Afrika se minerale verskeie mynmaatskappye swaar tref, sê PwC. Ystererts, mangaan en chroom maak twee derdes uit van Suid-Afrika se totale uitvoer na China volgens waarde.

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds kan ’n daling van 1 persentasiepunt in China se ekonomiese groei Suid-Afrika 0,2 persentasiepunte in groei kos. Volgens die ergste scenario – as die epidemie nie voor die tweede helfte van die jaar onder beheer is nie – kan China se ekonomiese groei net 5% wees pleks van ’n verwagte 5,9%.

PwC raam die moontlike verlies op besteding op minstens R200 miljoen as Chinese toerisme met meer as 15% afneem en dit kan 1 000 werkgeleenthede in die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die gedrang bring.

Reuters berig China se skielike verbod op die invoer van seekos einde Januarie het die Suid-Afrikaanse kreefbedryf onkant gevang.

Voor die verbod kon ’n visser R340/kg vir ’n lewende uitvoerkreef kry. Die plaaslike prys is nou sowat R120/kg.

China het alle handel in lewende hawe stopgesit weens vrese dat dit tot die verspreiding van die siekte kan bydra.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die seisoen vir Weskus-kreef dié week verleng sodat vissermanne kan probeer opmaak vir die verlies weens die dramatiese afname in uitvoer van dié lekkerny na China. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!