Virus: 'Variant moontlik hier'
Virus: 'Variant moontlik hier'

Virus: 'Variant moontlik hier'

Die kans is goed dat die gemuteerde variant van die coronavirus in Namibië in omloop is.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en Tuyeimo Haidula – Namibië het heel waarskynlik reeds te doen met dieselfde gemuteerde variant van SARS-CoV-2 (nuwe coronavirus) as Suid-Afrika en dit is hoekom die virus tans so vinnig versprei.

Dr. Willie Bruwer, die enigste pulmonoloog in Namibië, het gister aan Republikein gesê die gevoel is dat die virus tydens die tweede vlaag vinniger en meer doeltreffend oorgedra word, en dat meer jong mense as tevore nou simptome toon.

Hy meen die feit dat so baie mense gereeld tussen Namibië en Suid-Afrika reis, maak dit baie moontlik dat die nuwe variant reeds hier in omloop is.

Bruwer sê Namibië het egter nog nie spesifiek daarvoor getoets nie. “Daar was sprake dat Pathcare monsters na Suid-Afrika sou stuur vir ontleding, maar dit sal eintlik net van akade­miese belang wees.”

Bruwer, asook me. Hannelie Botha, bestuurder van Lady Pohamba Private Hospitaal, sê die tweede vlaag plaas reusedruk op die gesondheidstelsel.

Volgens Botha het die toename in padongelukke in die feestyd, tesame met die skerp styging in gehospitaliseerde Covid-19-gevalle, groot uitdagings gestel.

Bruwer sê by Lady Pohamba was die intensiewesorgeenheid vir Covid-pasiënte, die een vir ander ernstige gevalle asook die gewone Covid-19-saal vol en moes personeel bontstaan.

Dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê hy is bekommerd daaroor dat meer as 700 gesondheidswerkers tot dusver positief getoets het vir Covid-19. Nog 'n sterfte is ook aangemeld, wat die totale getal gesondheidswerkers wat aan dié virussiekte dood is, op vier te staan bring.

In die 24 uur tussen 3 en 4 Januarie is 270 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld, van wie 22 gesondheidswerkers is.

Hy sê die toename in gevalle plaas druk op die ander gesondheidswerkers wat hul pligte moet oorneem.

In 'n telefoniese onderhoud met Namibian Sun het Shangula gesê sy grootste bekommernis is dat die skerp styging in gevalle die kapasiteit van staats- en private hospitale sodanig onder druk plaas dat dienslewering lamgelê word.

Hy het gewaarsku teen 'n situasie waar hospitale vol is, maar daar nie gesondheidspersoneel is om na pa­siënte om te sien nie omdat hulle ook siek is.

“Ek weet nie of mense die erns besef van die situasie waarin ons is nie.

“In Namibië beleef ons reeds 'n tekort aan gesondheidswerkers en daarom is dit 'n problem om plaasvervangers te kry. Ek smeek Namibiërs om tuis te bly en die verdere verspreiding van die virus te voorkom,” het Shangula gesê.

Daar is tans 255 Covid-19-pasiënte in hospitale in die land. Altesaam 39 van hierdie pasiënte is so ernstig siek dat hulle intensiewesorg benodig.

Khomas en Erongo is steeds die twee streke wat die ergste geraak is, met 82 nuwe gevalle in eersgenoemde streek en 71 in Erongo.

Van die 270 nuwe gevalle wat teen gister aangemeld is, toon 181 (67%) simptome. Altesaam 107 (40%) is kontakte van mense wat die virus onder lede het.

Die herstelkoers beloop 84%, of 21 167 van die 25 386 mense wat tot dusver positief getoets het. Sedert die eerste gevalle sowat tien maande gelede in Namibië aangemeld is, is 215 409 Covid-toetse al uitgevoer.

Altesaam 218 sterftes het voorgekom.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!