Viskwota-sirkus
Die Namibiese ekonomie het weens swak beplanning deur die regering meer as N$1,5 miljard met die viskwotaveiling verloor.
Ronelle Rademeyer - Die regering se viskwotaveiling het klaaglik misluk.
Van die beoogde N$628 miljoen wat die regering uit die kwotaverkope vir maasbanker, stokvis en monnikvis kon verdien, het ’n skrale N$8,5 miljoen na die staatskas gevloei.
Dit is gistermiddag deur die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, in Windhoek bekend gemaak. Hy het erken swak beplanning het die veiling gekelder, want dit het te laat in die seisoen plaasgevind.
“Dit is niks anders as ekonomiese sabotasie nie. Ek wil sover gaan om te sê dit is so goed soos ’n tweede Fishrot,” het ’n ingeligte bron in die visbedryf gister in reaksie hierop gesê.
“Wat mense moet onthou, is dat die kommersiële waarde van daardie vis baie meer is as wat die regering sou verdien. En daardie geld is uit die ekonomie. Dit is in ’n Covid-19-jaar vir die land verlore,” het die bron gesê.
Berekenings op grond van die gemiddelde bedrag waarvoor vismaatskappye dié hoeveelheid vis kon verkoop, toon meer as N$1,5 miljard is vir die ekonomie verlore.
Van die 72 000 ton maasbanker wat opgeveil het, is net 1 517 ton ná ’n tweede veilingsronde van die hand gesit en betaal.
Teen ’n kommersiële verkoopswaarde van N$14 600 per ton, beteken die land kon N$1,05 miljard verdien het. Dit is buiten die N$458 miljoen wat die regering sou verdien het as die veiling ’n sukses was en die kopers van die 72 000 ton die geld wel aan die regering oorbetaal het, sê die bron.
Die stokvisseisoen het gister ten einde geloop, wat beteken van vandag af mag geen stokvis meer gevang word nie. Van die 11 000 ton wat opgeveil is, is net 100 ton uiteindelik betaal en gevang, het Shiimi gesê.
Bronne in die bedryf met wie Republikein gepraat het, sê die kommersiële waarde van stokvis per ton beloop sowat N$45 000. Dit beteken pleks van N$495 miljoen, vloei net N$4,5 nou na die ekonomie.
Die monnikvis het beter gevaar en van die 392 ton wat opgeveil is, is 300 ton betaal. Vismaatskappye kan op die opemark sowat N$49 000 per ton vir monnikvis verdien, wat beteken die uiteindelike waarde vir die ekonomie is N$14,7 miljoen.
Die seisoen vir maasbanker loop op 31 Desember ten einde, terwyl vismaatskappye wat monnikvis vang, tot 30 April 2021 tyd het om daardie kwota te benut.
“Selfs al is al 72 000 ton vir maasbanker verkoop, is dit steeds te laat in die seisoen om daardie hoeveelheid vis uit die water te haal. Die see is nie soos ’n supermark nie.
“Dit is so goed om te sê ek moet 50 gemsbokke skiet en ek het vyf dae, so ek gaan elke dag tien skiet. En dan kom jy in die veld en kry nie een nie,” het ’n groot rolspeler in die maasbankerbedryf gister verduidelik.
BRIEF AAN PRESIDENT
Republikein is in besit van ’n brief wat op 27 Augustus deur die Konfederasie van Namibiese Visvangverenigings (CNFA) aan pres. Hage Geingob gestuur is, waarin dié konfederasie beswaar maak dat die bedryf nie in die regering se besluit oor die kwotaveiling geken is nie.
Dié veiling is deur die Hoëvlakpaneel vir die Namibiese Ekonomie aanbeveel as ’n plaasvervanger vir die vorige kwotabedeling waarin die regering se vismaatskappy, Fishcor, kwotas aan die bedryf beskikbaar gestel het.
Die konfederasie sê in die brief hy verklaar “kategories” dat geen subsektor of enige ander visvereniging in enige stadium deur dié paneel vir insette geraadpleeg is nie.
Verder waarsku die bedryf dat die veiling op ’n mislukking afstuur wat operateurs in die bedryf gaan seermaak en tot werksverliese sal lei.
VEILING
Die totale aanbod van die 21 Augustus-veiling is aan 13 suksesvolle bieërs toegeken nadat 52 maatskappye aan die veiling deelgeneem het, het Shiimi gister gesê.
Wat die 11 000 ton stokviskwota betref, was die hoogste aanbod uit plaaslike geledere N$24 441 per ton en wat die aanbiedinge in die kategorie vir beide die plaaslike en internasionale mededingers betref, was die hoogste aanbod N$25 000 per ton.
Die totale verdienste uit stokviskwotas sou N$164 641 940,42 beloop het indien dié kopers betaal het.
Wat die kwota van 72 000 ton vir maasbanker betref, was die hoogste aanbod per ton N$19 036. Wat die 60% van die tonnemaat betref waarvoor beide plaaslike en internasionale mededingers voor kon aansoek doen, was die hoogste aanbod N$12 000 per ton. Die regering sou N$457 769 685,73 uit die maasbankerkwotas verdien het.
Wat die monnikviskwota van 392 ton betref, is die bod op N$13 906,10 per ton toe. Die totale kwota is aan dié bieër vir N$5 451 201 toegeken.
Shiimi sê die meeste van die vismaatskappye aan wie kwotas toegeken is, het soos die eerste sperdatum (2 September) nader gekruip het, gevra dit moet verleng word. Baie het ook gevra die visvangseisoen moes verleng word.
Dít, sê Shiimi, kan wetlik nie gedoen word nie. Die vangseisoene word na gelang van die broeiseisoen van die verskillende visspesies bepaal.
Hy het verduidelik toe die eerste sperdatum kom en gaan sonder dat iemand betaal het, is die naas hoogste bieërs gekontak en die kwotas is aan 18 van hulle toegeken. Hulle moes teen 15 September betaal het.
Teen dié sperdatum, sê Shiimi, het net drie betaal. Die res het vir uitstel gevra.
PAD VORENTOE
Volgens die finansminister het ’n tegniese komitee opdrag gekry om die toekomstige viskwotaveilings as deel van die sogenaamde “regeringsdoelwit” te beplan. Dit is met betrekking tot die nuwe stokvisseisoen wat op 1 November begin en die nuwe maasbankerseisoen wat op 1 Januarie 2021 ’n aanvang neem.
“Ons het goeie lesse uit hierdie veiling geleer en dit sal ons vorentoe help. In die toekoms sal ons strafmaatreëls instel, wat betalingswaarborge en bodsekuriteite deur voornemende bieërs insluit.
“Ons sal seker maak bieër kan hulle finansiële verpligting nakom,” sê hy. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie