Vismaatskappye staan op teen fosfaatplanne
Vismaatskappye staan op teen fosfaatplanne

Vismaatskappye staan op teen fosfaatplanne

Belanghebbendes wat besware teen die voorgestelde projek het, kan steeds hul vertoë aan die ministerie van omgewing en toerisme rig.
Francoise Steynberg
Catherine Sasman



Die Konfederasie van Namibiese Visvangver­enigings (CNFA) soek ''n versekering dat Namibian Marine Phosphate (NMP) nie met mariene fosfaat-ontginning sal begin nie ondanks die feit dat ''n klaringsertifikaat reeds aan die maatskappy toegestaan is.

CNFA se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het gister gesê die visbedryf in die land staan gereed om die maat­skappy die stryd in die hof aan te sê sou dit met enige mynbedrywighede begin.

NMP is tot komende Vrydag gegee om op dié versoek te reageer.

Namandje het ook verlede Vrydag ''n brief namens die CNFA aan die omgewingskommissaris, mnr. Teofilus Nghitila (foto bo), gestuur waarin hy sê die visvereniging is “diep en pynlik gegrief” oor die uitreiking van die klaringsertifikaat.

Die visbedryf vra dat Nghitila teen 12:00 vandag gedetailleerde inligting moet verskaf waarop die uitreiking van die sertifikaat skynbaar geskoei is.

Dié inligting sluit die datum waarop ''n evalueringsverslag van NMP ontvang is en besonderhede van ''n openbare kennisgewing oor die uitreiking van die klaringsertifikaat in.

“As gevolg van massiewe nadele wat ons kliënt waarskynlik sal ly as gevolg van u besluit en die openbare belang in hierdie saak, vra ons dat u ons versoek op ''n dringende basis sal oorweeg,” sê Namandje in sy brief aan Nghitila.



Appèl steeds moontlik

Hoewel die tydraamwerk waarin appèl teen die uitreiking van ''n klaringsertifikaat aan NMP aangeteken kan word, reeds verstryk het, kan besware daarteen steeds by die ministerie van die omgewing en toerisme ingedien word.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê appellante sal egter goeie redes met “redelike regverdiging” moet verskaf hoekom die klaringsertifikaat heroorweeg moet word.

“Ons mag ander kanale verken om voorsiening vir appèl te maak,” het Shifeta gesê.

Ingevolge die wet moet appèl 14 dae ná die uitreiking van ''n klaringsertifikaat aangeteken word. Die klaringsertifikaat aan NMP is op 5 September deur die omgewingskommissaris uitgereik, maar kritiek is uitgespreek omdat die publiek nie hiervan in kennis gestel is nie.

Nghitila het teruggekap deur te sê die uitreiking van ''n klaringsertifikaat hoef nie aan derde partye bekend gemaak te word nie. Hy het egter erken die proses moet meer deursigtig wees.

Shifeta het Donderdag by ''n nuuskonferensie gesê nie hy óf die kabinet is by magte om met die omgewingskommissaris se besluite in te meng nie. Hy het egter bygevoeg dit beteken nie die kommissaris is nie onderworpe aan regstellende stappe nie.

Shifeta het gesê hy kan slegs ingryp indien appèl aangeteken word.

“As daar enige bewyse van begunstiging is, moet dit onder die aandag van die ministerie gebring word,” het Shifeta gesê.

Hy het ook gesê dit sou onregverdig wees om die uitreiking van ''n klaringsertifikaat verder te vertraag, aangesien daar reeds in 2012 daarom aansoek gedoen is.

Die ministerie van mynbou en energie se mynlisensie is in 2011 vir mariene fosfaat-ontginning ongeveer 120 km suidwes van Walvisbaai toegeken.

“Ons kan nie mense te lank laat wag nie, anders sal die publiek sê die omgewingskommissaris frustreer beleggers. Daar is baie klagtes dat die kommissaris té lank vat en té beperkend is en nie geld wat belê kan word, oorweeg nie,” het Shifeta gesê.

Nghitila het bygevoeg sy besluite is nie onderworpe aan wie die beleggers is of hoeveel geld hulle bereid is om te belê nie.

“Ons is blind vir sulke dinge. Ons kyk na die verslae en alle ander nodige maatreëls wat in plek moet wees,” het Nghitila gesê.

“Ek is ingelig ''n behoorlike proses is met die uitreiking van die klaringsertifikaat gevolg,” het Shifeta gesê.

Volgens hom is die verslag wat die NMP aan die omgewingskommissaris verskaf het, onder die loep geneem deur ''n span eksterne spesialiste om “maksimale objektiwiteit” te verseker.

Die spesialiste het voorgestel ''n bevestigende ondersoek moet gedoen word, wat NMP in 2014 oor ''n tydperk van ses maande gedoen het.

Dié verslae is in April vanjaar aan die ministerie van die omgewing en toerisme asook die ministerie van visserye en mariene hulpbronne voorgelê en verskeie raadplegende vergaderings het daarna plaasgevind, het Shifeta gesê.

Hy het voorts gesê erkenning word gegee aan die feit dat daar geen geskiedkundige bewyse van mariene fosfaat-ontginning enige plek in die wêreld is nie en dat daar daarom geen empiriese bewyse is oor wat die moontlike gevolge hiervan kan wees nie.

Volgens Shifeta is die mynlisensie op ''n “relatiewe klein” area van die seebodem en is die baggerwerk (dredging) van fosfaat dieselfde as om diamante uit die see te ontgin.

“Enige poging om mariene fosfaat-ontginning te onderneem, sal vereis dat Namibië weten­skaplike meganismes en kapasiteit moet ontwikkel om die omgewingsimpak te monitor,” het Shifeta gesê.

NMP het in sy omgewingsimpakstudie gesê die impak van mariene fosfaat-ontginning sal “baie laag” wees.

Nghitila het benadruk die impakstudie is deur ''n professionele en etiese span gedoen en dat daar geen rede is om konkelry te vermoed nie.

Ingevolge die klaringsertifikaat sal NMP homself moet monitor en twee keer per jaar ''n verslag aan die ministerie van omgewing moet verskaf.

Shifeta het gesê die klaringsertifikaat van drie jaar kan teruggetrek en die projek gestaak word, as dit gevind word die impak is groter as wat verwag is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!