Visserman vyf keer geskiet

Volgens ’n familielid se getuienis het die Botswana-regering ’n gebrek aan respek vir die familie en die Namibiese regering getoon.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Impalila-eiland – Vyf koeëls is in die liggaam van een van die vier vissermanne gevind wat op 5 November deur die Botswana-weermag (BDF) langs die Choberivier afgemaai is.

’n Familielid, wat saam Botswana toe gegaan het om die liggame te repatrieer, het by die begrafnis getuig die ander is elk twee keer geskiet, met die meeste skote wat na die hart gerig is.

Mnr. Pasco Sibuko het dié skokkende onthulling gemaak voor die teraardebestelling van die drie Nchindo-broers, Tommy, Martin en Wamunyima, en hul ma, me. Alphonsina Mubu, wat vyf dae ná haar seuns dood is.

Sibuko het vertel van die gebeure wat tussen 9 en 15 November plaasgevind het, toe hulle saam met die polisie Botswana toe is om die oorskot van die vier gesneuwelde vissers (waaronder dié van mnr. Sinvula Muyeme, 'n Zambiese burger) terug na Namibië te bring.

In sy getuienis voor visepresident Nangolo Mbumba het Sibuko lig op die lykskouingsverslae gewerp en onthul dat vyf koeëls uit Martin se liggaam verwyder is. Wamunyima, wat blykbaar só erg aangerand is dat sy gesig onherkenbaar was, is twee keer geskiet. Een koeël het hom langs die hart getref, terwyl die ander koeël sy rug gebreek het.

"Die staatspatoloog sal dit bevestig," het Sibuko gesê.

Volgens Sibuko het Tommy se liggaam geen tekens van aanranding getoon nie. Die X-straalverslag het slegs gewys hy is deur twee koeëls getref, een onder die borsholte en die ander een het ’n rib gebreek.

Muyeme is deur twee koeëls getref waarvan albei naby die hart deur die borsholte gegaan het, het Sibuko gesê.

GOEDKOOP KISTE

Volgens Sibuko se getuienis het die Botswana-regering ’n gebrek aan respek vir die familie en die Namibiese regering getoon. Volgens hom is die Namibiese polisie verbied om foto’s van die oorledenes te neem.

Terwyl hulle in Francistown was, is hulle gehaltekiste gewys waarin die Botswana-regering glo belowe het om die oorskot na Namibië terug te stuur. By die Ngoma-grenspos het die oorskot egter in kiste aangekom wat beskou word as die goedkoopste in dié buurland, het Sibuko vertel.

“Hulle wou die oorskot in metaalkiste vervoer, maar ons het dit nie goedgekeur nie. Toe het hulle vir ons hoëgehalte-kiste gewys. Die lyke het nie in dieselfde kiste by die Ngoma-grenspos aangekom nie.”

Sibuko het ’n dringende beroep op die Namibiese regering gedoen om aktief betrokke te wees in die ondersoek wat hulle saam met die Botswana-regering behartig. Hy het gesê die Botswana-regering sal waarskynlik die ondersoek op hul eie manier wil uitvoer en dat die bevindinge bevooroordeeld teenoor Namibië kan wees.

EMOSIES

Gemoedere het hoog geloop in die dae voor die begrafnis, wat gistermiddag by die Kamabozu-nedersetting op die Impalila-eiland in die Zambezistreek gehou is. Honderde rouklaers het opgedaag om finaal afskeid te neem.

Die meerderheid het swart hemde met die woorde “They were just fishermen” en “Stop the killing” gedra.

Die dag het begin met rouklaers wat by die Impalila-hawe bymekaargekom het, waar hulle moes wag vir die lyke, wat van Katima Mulilo vervoer moes word. Die aankoms is deur die roudiens gevolg.

Me. Mukwa Nchindo Sisamu, die Nchindo-broers se suster, het Maandag tydens die gedenkdiens vertel hoe sy haar broers en moeder sal onthou.

“My ma was ’n engel en dit sal moeilik wees om van dié seer te genees,” het sy gesê.

“Sy het altyd na ons kinders gekyk en sy was só lief vir hulle. Hierdie plig is nou myne. Dit is vir my baie seer om dié groot verantwoordelikheid by haar oor te neem.”

Oor haar broers het sy gesê: “Ek was baie hartseer om van hulle afsterwe te hoor. Hulle is so onverwags weggeneem. Hulle was wonderlike mense, sterk en hardwerkend. Hulle het merkwaardige lewens gelei. Ek sal hulle nooit vergeet nie.”

Die vissermanne is in 'n massagraf langs dié van hul ma by die Kamabozu-begraafplaas begrawe.

Hul pa, mnr. Godwin Nchindo Mubu, is in 1997 in die graf langs hulle tot ruste gelê.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer